Nog ringe bely skuld

NOG RINGE BELY SKULD
(Jonker aangehaal)
Rapport, 1 September 1985
Deur EDDIE BOTHA: Johannesburg

DIE duidelike veroordeling van apartheid en skuldbelydenis deur die NG Ringe van Stellenbosch is die stem waarvoor al lank gevra is, sê prof. Johan Heyns, bekende Pretoriase teoloog en Moderator van die Noord-Transvaalse NG Sinode. Die besluit behoort ’n gewetensprikkeling te wees en hy is oortuig daarvan dat dit deur ander ringe en kerkvergaderings nagevolg sal word, sê prof. Heyns.

Die Stellenbosch-ring, bestaande uit sestien predikante, het Donderdag ná ’n vergadering gesê apartheid het nie daarin geslaag om sosiale geregtigheid tot stand te bring nie, maar tot menslike leed, frustrasie en onreg gelei. “Ons erken ook dat die NG Kerk in die verlede dikwels te onsensitief en onkrities meegeleef het met die negatiewe realiteite en konsekwensies van apartheid” lui die besluit.

Die besluit van die Stellenbosch-ring word in sommige kerkkringe gesien as die eerste opregte poging om versoening, te bewerkstellig tussen die NG Moederkerk en die NG Sendingkerk. Sedert die NGSK se sinode in 1982, toe die kerk besluit het dat versoening alleen kan plaasvind as die NGK sy skuld bely wat betref die verskaffing van teologiese gronde vir apartheid, het verhoudinge ’n laagtepunt bereik.

“Dit (die Ringbesluit) was baie belangrik. Dit was ’n reaksie wat Belhar (die NGSK sinode) gevra het, sê ds Tobie de Clercq, scriba van die Stellenbosch-ring. “In my 35 jaar in die Kerk het ek nog nie so ’n indringende, ernstige en belangwekkende besluit meegemaak nie.”

Bloot gereageer

Ds. De Clercq sê hy besef die besluit van die opslae in kerkkringe maak. “”Ons het die besluit met die volle wete geneem. Ons het geprobeer om die oogpunte op skriftuurlike wyse te stel. Ander oorwegings het nie getel nie.”

Dk. De Clercq se die ring het geen politieke oogmerke in sy besluite gehad nie. “Ons het bloot gereageer op wat stemme uit die Kerk al gevra het. Die besluit het eerder gegaan oor die Kerk en sy verhouding met sy susterkerke,” sê hy.

Prof. Willie Jonker van die teologiese Kweekskool op Stellenbosch sê dit is ‘n unieke besluit. Hy beskou die ringsbesluit ook as ’n skuldbelydenis. “’n Mens moet nie onderskat hoe intens die NG Kerk besig is om binne homself na te dink nie. Dit was nie ’n poging om tegemoetkomend teenoor eise van buite te wees nie, maar eerder ’n poging tot selfondersoek,” sê hy.

Baie bly

Vir prof. WJ. van der Merwe, wat as die vader van die NG Kerk se sendingwetenskap beskou kan word, was die ringsbesluit in ’n sekere mate ’n bekroning op sy werk. Prof. Van der Merwe, wat op uitnodiging die geskiedkundige verandering bygewoon het, het verlede jaar die stap in ’n boek oor die Na Kurk strewe na eenheid bepleit.

“Persoonlik is ek baie bly oor die besluit. Ek dink die NG Kerk moet tot belydenis kom en ek is ook bly dat die besluit nie binnesmonds geneem is nie, maar duidelik,” sê prof. Van der Merwe.

Ondanks ds De Clercq se versekering dat die besluit nie politieke oogmerke gehad het nie, is die verwagting steeds dat die jongste stem uit die Kaapse kerk politieke implikasies sal hê. “Ek verwag reaksie,” se prof. Van der Merwe. “Apartheid het ’n ongelukkige konnotasie. Dit is politieke taal.

Pres. Botha besoek

In Oktober verlede jaar het dr. Pierre Rossouw, hoof uitvoerende amptenaar van die NG Kerk, gesê daar kan nie van die kerk verwag word om terwille van relevansie die politieke terrein te betree nie. Om van die NG Kerk te verwag om relevant te word der die politieke terrein te betree, is onaanvaarbaar omdat die kerk nie gepolitiseer kan word nie, het dr. Rossouw gesê.

Ondanks dr. Rossouw se vermaning het hy en ander lede van die NG Kerk se Breë Moderatuur tien dae gelede pres. P.W. Botha besoek om die huidige situasie in die land te bespreek. Ná die ontmoeting het die Breë Moderatuur in ’n verklaring gesê hy het begrip en waardering vir die wyse waarop die Regering die noodtoestand onderneem het.

Ook oor die Ring se skuldbelydenis sal binne die volgende paar weke nog getwis word. In ’n onlangse artikel en brief in die Kerkbode skryf prof. Pieter Potgieter van Bloemfontein dat daar geen sprake kan wees van skuldbelydenis namens ander nie.

Kerk kan bely

Hieroor sê prof. Van der Merwe: “Die Breë Moderatuur, by monde van dr. Dirk Fourie, sy Actuarius, het gevra: ‘Wat moet ons bely?’ Ek glo dat ’n kerk kan bely. Ons probeer te maklik daarvan wegkom.

Dr. Fourie wou nie die naweek kommentaar lewer op die Ring se besluit voordat hy dit bestudeer het nie. Hy het belowe om aanstaande week sy reaksie aan RAPPORT te gee.