NIE DIESELFDE NIE
Die Burger, 21 September 1985, bladsy 10
Met groot helderheid leer die Bybel ons dat ons verhouding tot God en ons verhouding tot ons medemense in die allernouste verband met mekaar staan. Liefde tot God en liefde tot die naaste word in een asem genoem as die twee groot gebooie van die wet (Matteus 22:40). Die vergiffenis van ons sonde deur God en ons vergiffenis van die sonde van ons naaste hang direk met mekaar saam (Matteus 6:14–15). Wie sê dat hy God liefhet, maar sy broer haat, is ’n leuenaar (1 Johannes 4:20). Uit talle uitsprake van die Bybel word dit duidelik dat ’n mens nie God as jou Vader kan hê as jy weier om jou medemens as jou broer te aanvaar nie.
Tog is dit duidelik dat hierdie twee dinge nie dieselfde is nie en in die Bybel ook nooit met mekaar verwar word nie. Die liefde tot God en die liefde tot die medemens kan nie tot mekaar herlei word of mekaar vervang nie. ’n Mens kan nie redeneer dat jy nie jou naaste hoef lief te hê nie, omdat liefde tot God die grootste gebod is. Ewe min kan ’n mens redeneer dat jy God nie hoef lief te hê nie, omdat jy jou naaste liefhet. En net so is dit ontoelaatbaar om te redeneer dat liefde vir God en die naaste eenvoudig dieselfde saak is of met mekaar saamval, sodat met name van naasteliefde gesê kan word dat dit die gestalte is waarin ons God liefhet.
Die liefde tot God het sy eie selfstandige plek en betekenis. Dit vorm die grond van ons liefde vir die skepsels van God en vir alle dinge wat God gemaak het. Sonder die liefde tot God is alle naasteliefde òf die vrug van ons natuurlike aangetrokkenheid tot mekaar òf dit is die vrug van ’n idealistiese filantropie. Die egte kwaliteit van die liefde as vrug van die Heilige Gees kan slegs aanwesig wees by mense wat God liefhet en daarom hul medemens ter wille van God liefhet.
Daarom is dit ook dat die enigste ware antwoord op die probleme van gebroke menslike verhoudinge in die bekering tot God gesoek moet word. Waar die verhouding van mense tot God verkeerd is, is dit feitlik onmoontlik om te verwag dat hul verhouding tot hul medemense goed sal kan wees of goed sal kan bly. Dit kan hoogstens die vlak bereik van ’n bepaalde verdraagsaamheid teenoor mekaar of ’n sekere ordentlikheid teenoor mekaar. Egte selflose sorg vir mekaar en die bevordering van mekaar se belange soos die Bybel dit van ons vra, is egter die vrug van ’n verhouding tot God waardeur ons lewe vernuwe word.
In die moderne tyd word dikwels gesê dat ons liefde tot God bestaan in liefde tot die naaste. God verdwyn dan agter die naaste. God kom tot ons in die gestalte van die naaste. Vir ’n selfstandige, eie omgang met God naas ons omgang met die naaste bly daar weinig ruimte oor. Maar so word ons verhouding tot die naaste totaal oorspan en ons verhouding tot God vervaag. En die resultaat is dat ons God en die naaste albei sal verloor. Slegs as ons God liefhet ter wille van Homself, ontdek ons die naaste. — WDJ