God is groter

GOD IS GROTER
Die Burger, 5 Oktober 1985, bladsy 10

Ons dink meestal heeltemal te klein oor God. Dit kan feitlik nie anders nie, want God is te groot, dat ons ook maar enigsins daarin sou kon slaag om op die regte wyse oor Hom te dink. Tog moet ons daarna strewe om ons deur die Bybel te laat leer hoe groot God is, sodat ons nie tot vertwyfeling kom, omdat ons te klein van God gedink het nie.

Ons dink te klein van God as ons meen dat Hy net daar is om aan ons persoonlike wense en verwagtings te voldoen. God is die grote God, die Skepper en Onderhouer van die hemel en die aarde met alles wat dit insluit. Hy is daar vir die ganse heelal en Hy sorg vir die ganse heelal. Natuurlik het ook ek ’n plek in daardie heelal en kan ek daarop reken dat God dus ook vir my sal sorg in sy goedheid en liefde, maar ek het geen reg om daarop aanspraak te maak dat Hy spesifiek na my wense en begeertes moet omsien, met verwaarlosing van die van andere of die res van sy wêreld nie.

God is groter as ons selfsug Hom graag sal wil hê. Die plek wat Hy in sy regering oor alle dinge aan ons toeken, pas in by sy plan vir die geheel van sy werke. Hy weet waarheen Hy op weg is en Hy weet wat reg is. Ons kan daarop reken dat wat Hy wil, altyd die beste is en wat Hy doen, altyd welgedaan is. Maar ons kan nie daarop reken dat dit altyd in ooreenstemming sal wees met wat ons graag sal sien gebeur as vervulling van ons wense nie. Ons kan daarom veral ook nie ons geloof in God afhanklik daarvan maak of Hy ons gebede verhoor op die wyse wat ons begeer nie.

God is ook groter as die kwaad. Dit beteken onder meer ook dat God die kwaad voorlopig kan toelaat en duld, omdat slegs Hy in staat is om die kwaad te gebruik met die oog op die goeie. Wat geen mens kan doen nie, dit kan God doen. Hy kan die kwaad ombuig om teen die bedoeling daarvan in, in diens van die geregtigheid te staan te kom. Dit is iets wat ons verstand heeltemal te bowe gaan, en tog getuig die Bybel herhaaldelik daarvan. Die uiterste voorbeeld daarvan is die kwaad van die kruis van Christus, wat juis die bron is van die verlossing en alle goeie dinge wat ons deelagtig word, omdat God uit die kwaad die goeie kan laat voortkom.

Maar as dit waar is, is dit verkeerd van ons om wanhopig te word as God nie alle kwaad van ons afweer, of dadelik van ons wegneem nie. Daar is mense wat sê dat hulle nie in ’n God van liefde kan glo, as daar soveel kwaad in die wêreld is nie. Andere sê dat hulle hul geloof in God verloor het, omdat hulle nie verhoor is toe hulle gebid het dat Hy ’n geliefde dierbare moet spaar, of ’n vernietigende ramp van hulle moet afweer nie.

Maar God is groter as ons insig en gebede, groter as ons moraliteit en sin vir proporsie. Hy weet wat goed is, ook vir ons, en as ons in die geloof volhard, sal ons Hom eendag gelyk gee in wat Hy gedoen het en weet: dit was die beste. – WDJ.