NIE GENOEG NIE (2)
(Sien ook NIE GENOEG NIE (1), 16 Mei 1981)
Die Burger, 26 Oktober 1985, bladsy 10
Daar is gelukkig nog baie natuurlike liefde tussen mense. Dit is eenvoudig die sement wat die voortbestaan van die samelewing moontlik maak en dit van totale verwording en verval bewaar. Die liefde van ouers vir hul kinders en van kinders vir hul ouers, die liefde van ’n man vir sy vrou en ’n vrou vir haar man, die liefde tussen vriende en bure, tussen volksgenote en diegene wat in ’n lotsgemeenskap saamgevoeg is – dit alles is verskriklik belangrik vir die instandhouding van ’n ordelike samelewing.
Daarsonder sou die hand van almal teen almal wees, sou elkeen eenvoudig sy eie belang nagestreef het met verontagsaming van dié van andere, sou die onderlinge vertroue waarop die samelewing van mense rus, in ’n groot mate ontbreek het, en sou die aardse lewe tot ’n voorsmaak van die hel geword het. Dit is een van die somberste voorseggings van die Bybel dat daar “in die laaste dae” tye sal kom wanneer hierdie natuurlike liefde sal verdwyn. Dit sal ’n vreeslike tyd wees, wanneer God die beskerming van sy algemene genade van die mense terugtrek en hulle aan hulleself oorgee om in naakte selfsug te lewe.
Daarom is die natuurlike liefde tussen mense belangrik. Tog is daar aan hierdie natuurlike liefde nog niks spesifiek Christeliks nie. ’n Mens hoef nie ’n Christen te wees om jou vrou of jou kind, jou vriende of jou volk lief te hê nie. Dit kan bloot ’n verlengstuk van jou selfliefde wees.
Juis daarom is hierdie soort liefde uit ’n Christelike gesigspunt nie genoeg nie. Dit is wel baie belangrik, maar dit skiet ver te kort by wat Christus van sy dissipels vra. Hy vra van sy dissipels om nie net diegene lief te hê wat ons van nature liefhet, omdat hulle aan ons verwant is of is soos ons is, of wat vir ons ’n bepaalde waarde het nie, maar juis ook diegene wat vir ons vreemd en waardeloos is.
Christus vra aan sy dissipels wat hulle meer as ander doen as hulle net hul eie broers groet, of net diegene liefhet wat ook vir hulle liefhet. Dit doen die heidene en die tollenaars in elk geval ook. Die dissipel van Christus moet ook die vreemdeling, diegene wat hy nie van nature lief sou gehad het nie, ja selfs sy vyand liefhê. Eers daaruit blyk dit of hy die regte kwaliteit van liefde het (Matteus 5:43–48).
Christus vra van ons ’n soort liefde wat vir die natuurlike mens onmoontlik is, omdat dit lynreg ingaan teen die neigings van ons sondige geaardheid. Dit is die vreemde soort onbaatsugtige liefde wat ’n afskynsel is van die liefde van God vir sondaars en waardelose mense soos ons. Dit kom nie uit ons eie hart op nie, maar is ’n gawe van die Heilige Gees. Dit is die soort liefde wat in die kerk sigbaar behoort te wees, maar wat ook al ons verhoudinge moet deurdring, selfs ons natuurlike verhoudinge tot man en vrou en kind, anders bly dit vol selfsug en selfliefde. Dit is vir hierdie soort liefde dat ons moet bid. – WDJ