ONS HET MEKAAR NODIG
Die Burger, 23 November 1985, bladsy 10
Dit is nie so snaaks nie dat Christene met mekaar verskil in hul interpretasie van die boodskap van die Bybel met die oog op die groot vraagstukke waarmee ons vandag worstel. Ook al is ons Christene, bly ons in so baie opsigte eensydig en bevooroordeeld en, al moet dit nie so wees nie, lees ons die Bybel dikwels op ’n selektiewe manier.
Dit is nie moontlik om die Bybel heeltemal op ’n objektiewe manier te lees nie. Ons almal lees die Bybel vanuit die situasie waarin ons verkeer, en daardie situasie kleur die bril waarmee ons die Bybel lees. Sonder dat ons daarvan bewus is, speel ons begeertes en belange daarby ’n rol. Ons soek en vind so maklik in die Bybel regverdiging vir wat ons graag wil dink en doen.
Daarom merk ’n mens dat verskillende belangegroepe uit die Bybel verskillende uitsprake en beginsels na vore haal en hulle daarop beroep. Op hierdie manier word hul interpretasie van die boodskap van die Bybel eensydig. Dit is nie dat hulle nie ook weet van die dinge waarop andere hulle in die Bybel beroep vir hul standpunte nie, maar hulle ken daaraan ’n ander gewig toe en pas dit op sodanige wyse in by hul eie opvatting dat dit hul interpretasie nie meer kan versteur nie.
Anders gesê: ’n mens is geneig om bepaalde dinge in die boodskap van die Bybel met groot letters, maar andere met klein letters te skryf, al na gelang van hoe dit jou pas. Jou eie wense en belange voltrek ’n voor-sortering in jou kyk op die Bybelse gegewens. En so kom Christene teenoor mekaar te staan, nie omdat die Bybel onduidelik of meerduidig is nie, maar omdat ons eensydig en partydig is.
Daarom is dit so belangrik dat Christene van verskillende oortuiging met mekaar in gesprek moet verkeer en mekaar op wedersydse swakhede in hul omgang met die Bybel moet wys. God het dit nou eenmaal so gewil dat ons die waarheid van die Skrif nie in isolasie leer ken nie, maar in gemeenskap met mekaar. As Christene met hul verskille saam om die Bybel is, kan hulle mekaar oor en weer help om te ontdek watter rol hul eie belange by hul interpretasie van die Bybel speel, veral waar dit om die toepassing van die boodskap van die Bybel op ons daaglikse lewe gaan. Ons het mekaar daarvoor werklik nodig.
Natuurlik kan dit pynlik wees en ’n mens kan verwag dat Christene wat groot verskille met mekaar daarop nahou, dit moeilik sal vind om met mekaar so ’n pynlike proses deur te maak. Daarom is dit vir ons so natuurlik om die gesprek met mekaar af te breek en onsself van mekaar af te sluit. Maar as Christene hulle van mekaar isoleer, sondig hulle nie net teen die liefde nie, maar hulle versper ook vir hulself die weg na ’n dieper insig in die konkrete betekenis van die Bybel vir ons lewe waartoe andere ons kan help. — WDJ