Vryheid van ’n Christen

VRYHEID VAN ’N CHRISTEN
Die Burger, 30 November 1985, bladsy 10

Dit is  wesenlike deel van die evangelie dat ’n mens wat Christus werklik leer ken het as Verlosser en Here, daardeur ’n innerlike vryheid deelagtig word wat dit vir hom onmoontlik maak om nog langer op ’n slaafse manier na die oë van andere te kyk.

Volgens die Nuwe Testament maak Christus selfs slawe vry van minderwaardigheid, sodat hulle nie meer voor hul here hoef te kruip en op ’n veragtelike manier oëdiens hoef te verrig nie. Omdat hulle weet dat hul eintlike Heer Christus is, word hulle innerlik vry om teenoor hul aardse here as mens teenoor mens te staan, ook al moet hulle hul here ter wille van Christus na hul beste vermoë dien (vgl Kolossense 3:22 – 4:1).

Wie in die vryheid staan waarmee Christus ons vrygemaak het, kan miskien nog uiterlik, maar nooit meer innerlik, ’n slaaf van mense wees nie. Paulus skryf in 1 Korintiërs 7:22–23: ’n Slaaf wat deur die Here vrygekoop is, is immers ’n vrygemaakte van die Here. Net so is ook ’n vry man wat deur die Here geroep is, nou ’n slaaf van Christus. Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie.

Hierdie vryheid verlos ’n mens van mensevrees en die behoefte om voortdurend mense se goedkeuring te soek vir wat jy dink of doen. Hoewel ons nie in ’n letterlike sin slawe is nie, kan ons maklik op ’n slaafse wyse afhanklik wees van die opinie van andere en die aanvaarding deur andere. Dikwels durf ons nie ons oortuigings uitspreek nie, omdat ons nie die vryheid het om met andere te verskil oor dinge wat sensitief is, en so moontlik hul misnoeë op die hals te haal nie. Van egte vryheid vir die waarheid is daar dan by ons maar weinig sprake.

Dit is veral ’n kwaal waaraan mense wat in openbare posisies verkeer, dikwels ly. Hulle moet met die wense van soveel mense rekening hou om hul openbare posisies te kan behou, dat hulle eintlik nie ’n eie opinie daarop kan nahou nie, maar eenvoudig mense na die mond begin praat. Maar hulle is lank nie die enigste wat so hul innerlike vryheid prysgee nie. Ons is almal aan hierdie versoeking blootgestel. Dikwels is ons slawe van maatskaplike patrone wat dit vir ons onmoontlik maak om meer volgens die Christelike liefde te handel en eenvoudig te doen wat reg is.

Christus het teenstand opgewek, omdat Hy innerlik so vry was dat Hy kon verkeer met tollenaars en sondaars, sonder om daardeur sy geestelike integriteit prys te gee. Maar ons wat sy volgelinge is, is selde bereid om iets te riskeer wat dalk deur andere ongunstig geïnterpreteer kan word. En so gaan ons soos die Leviet en die priester dikwels by menslike nood verby – weier ons gasvryheid en simpatie, hulp en menslike toegeneentheid waar dit volgens ons gewete eintlik gebied moes word.

Christelike vryheid maak ons vry soos Christus was, vry vir die liefde, vry vir die waarheid, vry vir wat goed is. — WDJ