SELFREGVERDIGING
Die Burger, 7 Desember 1985, bladsy 12
Die mees spontane ding vir die sondige mens om te doen is om homself te regverdig en van alle blaam te probeer onthef. As iets verkeerd geloop het, soek hy die skuld daarvoor by andere, maar nooit by homself nie. In sy eie oë het hy altyd gelyk. Sy motiewe was altyd rein, sy dade was altyd wonderlik. Hy het niks om te bely nie; nee, werklik nie, hy is totaal onskuldig.
Die Fariseër in die gelykenis was ook so ’n mens. Hy moet bekend gewees het met wat die Woord van God in Jeremia 17:9 sê, dat die hart bedrieglik is bo alle dinge, sodat ’n mens dit nie kan ken nie. Daarmee word bedoel dat ’n mens se hart jouself bedrieg, sodat jy jou eie sonde nie raaksien nie. Maar die Fariseër maak dit nie van toepassing op homself nie. Dit kan waar wees van andere, maar nie van hom nie: “Ek dank U, O God, dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie”. Van homself kan hy net lofwaardige dinge opnoem.
Na die tollenaar kyk hy maar bra meewarig, selfs met veragting. Om nou te dink dat ’n mens soveel het om te bely! Maar terwyl hy neersien op die man wat ’n besef van skuld het, stik hy self in sy eiegeregtigheid, totaal blind vir sy eie sonde. ’n Mens wat voel dat hy geen sonde het nie, is natuurlik nie werklik sonder sonde nie. Hy is net eenvoudig onbewus van sy eie sonde. Sy gewete het nog nie ontwaak nie. Hy is nog nie in staat om ’n morele oordeel oor homself en sy aandeel aan die sonde te vorm nie. Vandaar sy domme en aanstootlike plesier in homself en sy veragting vir diegene wie se oë deur Gods genade reeds vir die sonde oopgegaan het. Maar so bly die weg tot vergiffenis en genesing vir hom afgeslote.
Die ergste wat met ’n mens kan gebeur, is dat jy in jou verblinding jouself heeltemal uit die Bybel kan uitskryf. Met die tollenaar wil jy jouself nie identifiseer nie, want jy het niks om te bely nie. Dus kan jy jouself ook nie in die Fariseër herken nie, want jy kan tog nie erken dat jy so eiegeregtig as hy is nie. Dus moet jy ’n derde soort mens wees, beter as die Fariseër of tollenaar. Oor jou soort praat die Bybel nie.
As jy eerlik wil wees, behoort jy te bid: “Ek dank U dat ek nie soos die Fariseër of die tollenaar is nie! Ek is nie trots nie en ek is nie sleg nie. Ek het niks om te bely nie. Ek het geen rede om aan my goeie motiewe te twyfel nie. Ek het andere nog nooit veronreg nie. Ek het die wet van die liefde in alle opsigte onderhou. As andere nie uit kwaadwilligheid teenoor my optree en my goedheid misken nie, sou ek met almal in vrede kon gelewe het. Nou sê hulle sowaar dat ek sonde het om te bely. Ek kan tog nie iets bely waaraan ek nie skuldig is nie. Maar ek sal nie week word nie. U weet tog my saak is reg!”
So word huwelike en gesinne opgebreek, gaan vriendskappe tot niet, word verhoudinge vernietig en verbittering gevoed. En die gelykenis staan nog altyd in die Bybel. – WDJ