IDEOLOGIESE DENKE
Die Burger, 14 Desember 1985, bladsy 10
Een van die grootste gevare waardeur ons bedreig word, is die gevaar van ideologiese denke. In die besonder moet daarby gedink word aan die tipiese trek van alle ideologieë dat dit die mense in vriende en vyande verdeel en hulle in ’n stryd om lewe en dood teenoor mekaar opstel.
Dit is kenmerkend vir alle ideologieë dat hulle die mens met groot patos daartoe oproep om homself te gee vir die realisering van ’n bepaalde utopiese droom. Volgens die ideologie sal hierdie droom bereik word as ’n bepaalde vorm van kwaad, wat as die grondoorsaak van alle onheil verstaan word, uit die weg geruim kan word. Dit geskied deur stryd heen, ’n stryd wat selfs ’n totale karakter kan aanneem. In hierdie stryd word vriend en vyand radikaal teenoor mekaar gestel. Alle ideologiese denke werk dus met ’n skema waarin mense gepolariseer en as aartsvyande teen mekaar gemobiliseer word.
Terwyl die utopie die motivering en regverdiging vir die stryd moet verskaf, dien die ideologie daartoe om die wagwoorde en strydkrete te lewer vir ’n stryd waarin die skares versamel en die geeste van mekaar geskei kan word. So word dit die wapen in die hand van die politieke drywers wat alles in die spel wil plaas vir die bereiking van hul politieke ideale en begeertes, en dit oor die dooie liggame van die vegtende partye heen. In hierdie proses word niks ontsien nie, en om die fanatieke aard van die stryd so hoog as moontlik te kan opvoer, word feitlik altyd van pseudo-religieuse motiverings gebruik gemaak. So word die oorlog ’n heilige oorlog, en die bloed wat vloei ’n heroïese offer.
Prof Verkuyl skryf êrens dat pséudo-religieuse ideologieë hulself voed en dronk drink aan die haat teen die vyande van die ideologie. Hierdie vyande kan wissel al na gelang van die ideologie, maar altyd moet een of ander groep uitgesonder word as die voorwerp van haat waaraan al wat kwaad is, in ’n groteske vertekening verbind word. Dit gee die moed om diegene van wie so ’n karikatuur gemaak is, sonder ’n slegte gewete te haat en te vermoor. Hulle staan immers in die pad van “die saak”.
Die situasie in ons land bied ’n vrugbare aarde vir hierdie soort denke. Mag God ons daarvan bewaar, of dit nou kom van links of van regs! Die menslike nood, die gebrek aan werklike begrip vir mekaar, die ingewortelde wantroue teenoor en wanvoorstellings van mekaar roep om ’n totale inset van alle Christene ten einde wedersydse begrip, aanvaarding en verbondenheid met mekaar te bewerk. In so ’n situasie kan polariserende ideologiese denke net alles vererger en niks oplos nie.
Daarom moet Christene hulself nie daartoe leen om in so ’n patroon van vriend en vyand en van karikature en groepshaat te dink nie. – WDJ