Voor die Heilige God

VOOR DIE HEILIGE GOD
Geloftedag, 16 Desember 1985, Hartenbos

By die nadenke oor wat ek vanaand by hierdie belangrike geleentheid behoort te sê, is ek opnuut getref deur aanvangswoorde van die gelofte, wat lui: “My broeders en mede-landgenote, hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde…”

Dit lyk my asof ons in hierdie woorde die doel van ons saamwees op Geloftedag uitgedruk vind, nl. dat ons as die nasate van die vaders wat die gelofte in 1838 gemaak het, dat ons Afrikanervolk, telkens weer op 16 Desember van elke jaar so voor die aangesig van die heilige God moet gaan staan, nie alleen om Hom te dank daarvoor dat Hy in ons geskiedenis op ’n heel besondere wyse by ’n belangrike geleentheid Homself as die Hoorder van die gebede betoon het nie, maar ook om opnuut daar van bewus te word dat die lot van volkere en nasies nie maar iets is wat die noodlot of die toeval oorgelaat is nie, maar onder die regering en beskikking van God val. Daaraan moet die woorde die God van hemel en aarde ons telkens herinner. Terselfdertyd moet ons telkens weer op Geloftedag onthou dat ons met die heilige God te make het, sodat ons in ootmoed en selfondersoek met God en met onsself besig kan wees, en opnuut kan vra wat die wil van God vir ons is. Ons het, ook in ons lewe as volk, met God te doen. Voor sy aangesig staan ons, onder Sy beoordeling leef ons en van sy genade en barmhartigheid is ons afhanklik.

’n Roep uit die nood

Die gelofte wat ons vandag hier saambring, was ’n roep tot God vanuit de nood. Die vaders het nie ligtelik daartoe gekom om hierdie woorde voor die heilige God van hemel en aarde uit te spreek nie. Dae lank het hulle dit oorweeg, maar uiteindelik het hulle in die aangesig van die nood en gevaar waarin hulle verkeer het en met die oortuiging dat die waarskynlikheid dat hulle dit sou oorleef, menslik gesproke baie gering was, voor die aangesig van God gaan staan met hulle nood, om met Hom daaroor te onderhandel. Dit kon hulle as gelowige mense doen, omdat hulle daarvan oortuig was dat hulle lot uiteindelik nie in die hande van mense of die wetmatige verloop van die geskiedenis is nie, maar in die hande van die lewende God.

En as ons vandag op Geloftedag voor die aangesig van God gaan staan, dan moet ons presies dieselfde doen. Ook ons verkeer in nood, en ons nood is waarskynlik vandag groter, ingrypender en gevaarliker vir ons land as geheel met al sy mense as wat dit ooit tevore was. Ook ons mag voor die aangesig van die heilige God van hemel en aarde gaan staan om met Hom oor ons nood te onderhandel in die geloof dat dit Hy is wat in laaste instansie oor ons lot sal beslis. Maar juis daarom is dit so belangrik dat ons op hierdie oomblik ook sal besef dat ons met God self te make het: dat ons voor sy heilige aangesig staan, en dat ons dus ook bereid moet wees om onsself en ons situasie in die lig van sy Woord te sien, en te hoor wat God daardeur aan ons wil sê.

Die aard van ons nood

Oor die aard van ons nood hoef ek u nie in te lig nie. Ons almal weet dat ons land op die oomblik ‘n uiters kritieke fase van sy geskiedenis beleef. Dit gaan nie goed met ons nie. En dan praat ek nie in die eerste plek oor die droogte en die ekonomiese insinking wat daarmee gepaard gegaan het nie. Ek dink aan die slepende onrus in ons swart woongebiede wat sedert verlede jaar ‘n steeds meer revolusionêre vorm begin aanneem het, die geweld wat daarmee gepaard gaan, sodat daar feitlik daagliks nuwe berigte is van mense wat dood is, die ontwrigting van die lewens van honderdduisende inwoners van die swart stede, die georganiseerde optrede van Swart studente en skoliere, die vrees en spanning in ons Swart gemeenskappe, en die ongehoorde politieke druk op ons vanuit die hele buitewêreld wat daarmee saamhang.

Dit alles bring ’n groot mate van onsekerheid oor ons en ondermyn die vertroue in die stabiliteit van die toekoms van ons land. ’n Simptoom van die gebrek aan vertroue in ons toekoms van die kant van die buiteland is die ontstellende daling in die waarde van die Rand. Klaarblyklik verwag die wêreld dat daar iets vreeslik met ons gaan gebeur, en ongelukkig vind daar ook daagliks dinge in ons land plaas wat hierdie vermoede blykbaar versterk. Goeie nuus is deesdae baie skaars. Die lees van die oggendkoerant is genoeg om ‘n mens se hele dag te bederwe, omdat dit elke dag weer nuwe ontstellende dinge bevat. Tog sê diegene wat weet dat ons as Blankes maar ‘n baie flou idee het van wat die ware toestand in sommige van ons swart woongebiede is. Die vrees on spanning wat daar heers, bereik soms byna breekpunt. Ons kan onsself onmoontlik nie van hierdie dinge losmaak nie. Dit kom altyd weer op in ons gesprekke en ons gebede.

As ons daarom vanaand voor die aangesig van die heilige God van hemel en aarde staan met ons nood, dan is dit hierdie dinge wat ons in gedagte het. Ons weet almal dat dit in hierdie dinge gaan om sake wat ons toekoms en die toekoms van ons land beslissend raak en dat ons tans in ’n kritieke fase van ons geskiedenis gekom het waarin daar beslissings sal val wat die toekoms van ons land sal bepaal. En nou is dit juis ons nood, dat al hierdie dinge die openbaring is van wat ons diepste nood is, nl. die nood van versteurde verhoudings tussen die verskillende bevolkingsgroepe van hierdie land.

Histories meegegee

Hierdie nood hang saam met die situasie wat histories aan ons meegegee is, dat mense van verskillende rasse, kulture, agtergronde en identiteite onder Gods beskikking in een land saamgebring is en dat hulle hier saam moet lewe. Ons nood is die gevolg van onvermoë van sondige mense om die verhoudingsprobleem wat daarmee gegee is, so te hanteer, dat daar vrede en harmonie kan heers.

Dit is natuurlik dieselfde werklikheid wat ook die Voortrekkers reeds in hulle nood van destyds laat beland het, maar sedertdien het probleme in verband daarmee oneindig ingewikkelder geword en die nood wat daarmee saamhang, geweldig verhewig. Reeds destyds het die begeertes en aspirasies van Swart en wit op mekaar gebots: was die koms van die Witman na die Noorde vir die Swart man ’n saak van vrees en bedreiging, terwyl die aanwesigheid van die Swartman vir die Witman ’n hindernis en gevaar ingehou het. Ons weet dat die Voortrekkers destyds die weg van onderhandeling probeer bewandel het, maar dit het misluk en die saad van wantroue en vyandskap het tussen die twee groepe opgeskiet. Die militêre botsing by Bloedrivier was ’n moment in hierdie versteurde verhouding en hoewel die uitslag daarvan van groot betekenis was in die geskiedenis van die land as geheel, het dit die grondliggende probleem natuurlik nie opgelos nie.

Geen militêre of gewelddadige botsing het nog ooit of sal ooit in die toekoms in staat wees om die basiese geestelike probleem van die verhouding tussen mense te los nie. As ons God dus jaarliks dank vir die wending van die geskiedenis by Bloedrivier, kan ons Hom ongelukkig tot op datum nog nie daarvoor dank dat die onderliggende probleem van wantroue en vyandskap wat die oorsaak van Bloedrivier was, uit die weg geruim is nie. Inteendeel, die situasie lyk tans donkerder as ooit tevore. By Bloedrivier was die posisie nog betreklik eenvoudig; vandag is dit oneindig gekompliseerd. Bloedrivier kon ’n eenmalige militêre botsing op betreklike klein skaal nog ’n sekere ruimte skep vir die toekoms, maar vandag is die situasie totaal anders. Die nood waarin ons vandag verkeer, is soveel groter en gevaarliker. ’n Gewelddadige botsing sou onder die huidige omstandighede nie meer ’n toekoms kan open nie, maar dit onherroeplik vernietig.

Onderlinge verstrengeling

In die 150 jaar sedert Bloedrivier het die verskillende bevolkingsgroepe in hierdie land op sodanige wyse met mekaar verstrengel geraak, dat hulle nie meer uitmekaar gehaal kan word of sonder mekaar kan klaarkom nie. Saam het hulle hierdie land opgebou tot wat dit vandag is. Die inisiatief van die een en die hande-arbeid van die ander het, in kombinasie met die kennis en kapitaal die buitewêreld in Suid-Afrika ingebring het, daarin geslaag om van ons land in moderne industrie-land te maak, ’n reus op die kontinent van Afrika. Saam het die twee rassekomponente van hierdie land, Wit en Swart, opgegroei soos twee bome wat in een gat geplant is er in die loop van die jare, hoewel hulle twee gebly het, met wortel en tak inmekaar verstrengel geraak het, sodat hulle nie meer van mekaar losgemaak kan word, sonder dat albei dodelik daardeur beskadig sal word nie.

Juis dit maak nou egter die verhouding tussen die twee groepe eenvoudig letterlik van lewensbelang vir albei. Teen wil en dank staan tulle teen mekaar aangedruk, skuur hulle teen mekaar se skouers, leef hulle uit dieselfde grond, asem hulle dieselfde lug en bepaal hulle mekaar se toekoms. As hulle mekaar kar vind, kan hulle vir mekaar tot ’n steun en beskerming teen die storms van buite wees. Maar as hulle teenoor mekaar in vyandskap en wantroue staan, as hulle daarop uit is om mekaar dood te groei, sal albei saam sterwe. Vyandskap tussen die bevolkingsgroepe in hierdie land is eenvoudig dodelik in die letterlike sin van die woorde As mense wat so nou met mekaar saam moet lewe, in haat en vyandskap teen mekaar draai, sal hulle woede mekaar oor en weer totaal vernietig, saam met al die ideale wat hulle gekoester het.

Hier lê die grootste enkele nood van ons land waarby alle ander probleme verdwerg. Daar het in die loop van die tyd tussen Wit en Swart in hierdie land op die vlak van hulle wedersydse verhoudinge nie ’n genoegsame basis van wedersydse aanvaarding en vertroue gegroei om die aanslag an moeilike tye te kan trotseer nie. Goddank was daar op die persoonlike vlak dikwels goeie verhouding, waarvan veral die oueres onder ons nog kan getuig, maar die kollektiewe vlak het daar grondliggende patron in die verhouding tot mekaar ontwikkel wat op die lang duur rampspoedig moet wees, as ons dit nie kan verander nie. Daar het ’n innerlike vervreemding van mekaar ontwikkel, daar is oor en weer beelde van mekaar gevorm, daar het ’n situasie ontstaan wat die die voedingsbodem geword het vir ’n gees van aggressiwiteit by ’n deel van die Swart bevolking waarvan ons die uitwerking in die afgelope meer as ’n jaar na vore sien kom het.

’n Universele probleem

Ons het hier met ’n universele probleem te make. Oral waar volkere wat soveel van mekaar verskil, met mekaar in aanraking gekom het, was daar altyd wrywing en probleme van wedersydse aanvaarding. Dit raak veral ook situasies waar mense uit die sg. Eerste Wêreld (Europa en Amerika) in kontak kom met mense van die sg. Derde Wêreld (die meer suidelike lande). Die blanke Westerling het, met die voorsprong wat sy spesifieke kultuur en tegniese ontwikkeling aan hom gebied het, homself altyd die meerdere van hierdie nasies gevoel en tot betreklik onlangs oor die meeste van hulle regeer. Dit het in die loop van die eeue die mense van die Derde Wêreld ’n diepgewortelde grief teenoor die Westerse mens laat ontstaan. Uit hulle gesigshoek gesien is die Westerse mens arrogant, wreed en hebsugtig. Kontak met hom beteken dat die mense van die Derde Wêreld voel dat hulle as minder waardig beskou word, nooit werklik as medemense aanvaar word nie en op die lang duur daartoe gebring word om hulleself te verag en as minderwaardig te beskou.

’n Mens moet maar ’n keer iets lees oor die worsteling van die Neger in Amerika om te sien hoe die mens van Afrika die witman ervaar en hoe moeilik dit is om enigsins ’n positiewe verhouding tot hom te ontwikkel. Goddank kan ons vandag sê dat bale van die pertinente wreedhede waarvan hulle vertel dat die Amerikaners hulle dit aangedoen het, nie op dieselfde wyse in ons land voorgekom het nie. Ek wil graag aanvaar dat daar ’n groot deel van ons volk was wat altyd probeer het om die Swart mense in ons land nie opsetlik te verneder of as benede-menslike te beskou en te behandel nie, maar om aan hom geleenthede tot selfontwikkeling te bied. En tog met ons vandag konstateer dat ons volgens hulle oortuiging hulle nooit werklik as medemense aanvaar het en hulle toegelaat het om ons mense te leer ken, sodat daar ’n vaste basis van goeie verhoudinge tussen ons opgebou kon word nie. Daar bestaan ’n innerlike vervreemding tussen hulle en ons en dit het in ons tye ’n graad bereik wat gevaarlike vorme aanneem.

Die winde van bevryding

Dit hang uiteraard ook met ‘n aantal historiese faktore saam. Ons moet nie vergeet nie, dat die wêreld sedert die Tweede Wêreldoorlog drasties verander het. Die einde het aangebreek van die eertydse koloniale tydperk van die dominasie van die Europese lande oor die volke van Afrika en Asië. Die opkoms van die Derde Wêreld is ‘n feit wat nie meer weggedink kan word nie. Die winde van bevryding het oor Afrika gewaai. Dit is ondenkbaar dat dit nie ook die swartmense in ons land sou aanraak met ’n drang tot selfbeskikking en die bevrediging van hulle aspirasies nie. Dit is iets wat juis ons as Afrikaners kan verstaan. Die Swartmens het tot selfbewussyn en die gevoel van eiewaarde gekom. Hy kan nie meer verdra om in sy menswaardigheid misken te word nie. En omdat die swartmense in ons land die gevoel het dat die Blankes hulle krenk op die punt waar alle mense die gevoeligste is: op die punt van die erkenning van hulle waardigheid as mens, reageer hulle met soveel bitterheid. Hoe ons ook al daaroor mag redeneer en watter goeie bedoelings ons ook al mag hê, vir hulle besef word hulle deur die Blankes in ons and as minderwaardig beskou en behandel. En solant hulle daardie gevoel het, sal hulle ’n gevoel van verontregting daarop nahou en sal die verhoudinge tussen die bevolkingsgroepe versteur bly.

Die probleem van versteurde verhoudinge waarin die een mens teenoor die staan, is so oud soos die sondeval. En op die veel kleiner terrein van ons persoonlike en huislike lewe weet ons watter vernietigende uitwerking versteurde verhoudinge het. Ons het in die afgelope tyd in ons land nie net die verskynsel van ’n ongekende egskeidingsyfer met al die leed en ellende wat daarmee saamhang nie; ons ken tans ook die verskynsel van gesinsmoorde waarby die verhoudingskwessie feitlik altyd ’n rol speel. Dit is dieselfde verskynsel, net op ’n groter vlak, as volkere teenoor mekaar te staan kom. Die nood van ons land is dus daar net dieselfde nood waardeur die mensheid altyd weer bedreig word: die nood van sondige versteurde verhoudinge wat rampspoedig vir ons kan word.

Is daar ’n uitweg?

Die werklikheid waaroor ons vandag staan, is dat hierdie versteurde verhoudinge stadium bereik het waar ’n uitbarsting van geweld feitlik onafwendbaar begin lyk en deur baie ook al as onafwendbaar een aanvaar is. Maar as dit nie gekeer word nie, sal dit ons land vernietig. Daar is magte aan die werk wat blykbaar nie daarvoor omgee nie. Ons weet uit alle voorbeelde van versteurde menslike verhoudinge dat, as albei die partye voet by stuk hou dat hulle alleen gelyk het, dit noodwendig ор rampspoedige gevolge afstuur. Die nood waarin ons verkeer, kan nie met gewelddadige middele opgelos word nie, en wie dit probeer, sal vind dat hy ‘n situasie van geweld ontketen waarvan die resultate, soos ons vorige Staatspresident. mnr. John Vorster gesê het, te vreeslik sal wees om aan te dink.

Dit is onmoontlik om te dink dat daar geen uitweg uit hierdie situasie is nie. Wat egter wel onmoontlik is, is dat ons ’n uitweg uit hierdie situasie sal kan vind sonder om die kwaad by sy wortel aan te pak nl. die versteurde menslike verhoudinge. Trouens, die enigste uitweg uit ons nood, dat ons bereid moet wees om die weg van vrede te soek deur met mekaar vrede te maak en vriendskap te sluit. Dit is die enigste alternatief vir geweld en konfrontasie. Ons sal bereid moet word om vir mekaar oor en weer medemense te word wat mekaar se saak opneem, nie net ons eie saak nie. Ons sal moet aanvaar dat God ons hier saam geplaas het, nie om mekaar te beveg en te benadeel nie, maar om mekaar te dien en te help.

Die vraag hoe aan hierdie vriendskaplike verhouding tot nekaar politieke uitdrukking gegee moet word, kan ek nie beantwoord nie, maar as Christen en evangeliedienaar weet ek dat hierdie wortel van die probleem van die nood van ons land nie regkom nie, tevergeefs sal probeer om staatkundige modelle die moeilikhede van ons land te oorkom. Die wedersydse aanvaarding van mekaar en respek vir mekaar se menswaardigheid is ’n voorveronderstelling wat vooraf gaan aan enige politieke ontwerpe wat vir almal aanvaarbaar sal wees. Daarom moet ons as Christene bereid wees om nie net te bid vir die vrede in ons land nie, maar om ons deel daartoe by te dra deur onsself doelbewus te beywer vir beter gesindhede tussen al die mense in ons land en vir staatkundige vorme wat daaraan uitdrukking kan gee. Dit moet ons doen in die eerste plek omdat God dit van ons vra, maar ook omdat dit vanuit die nood van ons situasie gebiedend noodsaaklik is.

Net God kan ons help

Om dit net te sê, beteken om aan ons almal ’n uitdaging te stel wat waarskynlik vir ons te moeilik lyk om aanvaar te word. Goeie verhoudinge lê op die vlak van mense se geestelike lewe, op die vlak van ons instelling teenoor mekaar, en dit het ten diepste te doen met die gesindheid van ons hart. En
inderdaad, net God kan mense se hartsgesteldheid diepgaande en blywend verander. Net die Heilige Gees kan mense daartoe help om na andere te kyk met ’n oog van barmhartigheid en liefde. Net God kan ons verlos van die innerlike afkeer wat ons soms mense kan hê wat anders as ons is, van die wortel van vyandskap wat in alle mense as sondaars aanwesig is.

As ons vandag soos ons vaders by Bloedrivier voor die aangesig van die enige God van hemel en aarde staan, dan kan ons nie andersom ln ernstige gebed tot Hom te roep om ons te help nie. Maar die hulp wat ons in hierdie uur van Hom vra, is om ’n geweldige botsing tussen die mense in hierdie land af te weer, deurdat Hy ’n verandering van hart bewerk by so ‘n groot deel van die bevolking van hierdie land, dat die kwaad van ons land afgeweer kan word en daar ’n nuwe gesindheid tussen die mense van alle rassegroepe kan ontstaan.

Daar is soveel Christene in ons land onder alle rassegroepe. Daar is ook nog soveel welwillendheid by die verskillende rassegroepe teenoor mekaar aanwesig, veel meer as wat ons verdien. Die potensiaal vir die vrede is gegee in die feit dat die Heilige Gees wat in die harte van die gelowiges woon, in staat is om ons aan te raak en ’n nuwe gesindheid van versoening onder ons op te wek. Christene behoort bereid te wees om in hierdie uur op te staan en saam te staan om ’n kordon te vorm teen die vernietiging wat haat en geweld kan bring. Maar dit sal alleen moontlik wees as hulle bereid is om hulle harte en lewens vir mekaar oop te maak, mekaar as mense te leer en en waardeer, sodat ons mekaar se beswil kan soek.

Ons het met God te doen

Ek het begin deur sê dat die gelofte ons leer dat ons voor die aangesig van die heilige God staan. As ’n mens werklik besef dat jy met God te doen het. val al jou eiewaan, jou trots, eiesinnigheid, jou eiegeregtigheid van jou af. Jy kan dan nog net in ootmoed vra wat God wil hê dat jy moet doen. En ek dink dat dit nie onduidelik is wat God wil hê dat ons in hierdie situasie moet doen nie. Ons moet doen wat ’n mens in enige situasie moet waar jy met versteurde verhoudinge te make het, of dit in jou huwelik of gesin is, en of dit onenigheid tussen vriende raak, of wat ook al. Vir ’n Christen is daar altyd maar dieselfde pad om te loop.

Die eerste is dat ’n mens met daardie saak na God toe moet gaan en jou voor Hom moet verootmoedig. Daar voor God ontdek ’n mens altyd weer dat daar twee kante aan ‘n versteurde verhouding is, en dat daar dinge wat jy gedoen het wat jy sal moet regmaak, as die verhouding hertel moet word.

Die tweede wat mens moet doen, is om goed na die ander party te luister Dit is goed vir ons om onsself deur die oë te sien van die persoon wat vir ons kwaad is. Dit kan ons help om misverstande uit die weg te ruim, maar ook om regmatige griewe te erken en dit uit die weg te ruin.

En die derde dat ’n mens bereid moet wees om die ander van harte te vergewe vir alles wat ons teen hom het, en jou hart moet suiwer en reinig van enige vorm van wrok, afkeer, veragting of vyandskap, sodat die Gees van God dit kan vul met liefde en belangstelling in die ander, en jy bereid kan word om sy beswil te begin soek.

As elkeen van ons in ons eie kring waarin ons beweeg en met die invloed waaroor ons beskik, begin meewerk aan beter verhoudinge, sal ons met Gods hulp die veda vir ons land wen. Dit sal ’n geweldige oorwinning wees oor die magte van vernietiging wat ons bedreig En dit sal ’n triomf wees vir die koninkryk van God.