WAAROM?
Die Burger, 1 Januarie 1985
Die nuwe jaar wat ons vandag binnetree, is vir ons almal ’n geslote boek. Ons weet nie wat daarin vir ons wag nie. Dit kan wees dat dit vir ons ’n jaar vol vreugde en voorspoed sal wees, maar dit kan ook ’n jaar vol smart en teleurstelling wees. As ons al genoeg van die lewe geleer het, sal ons in elk geval nie verwag om net positiewe en aangename dinge te belewe nie. Daarvoor is die lewe te gebroke.
En daarom is dit ook net begryplik dat ons – veral in die moeilike tye waarin ons verkeer – die toekoms met ’n sekere mate van sorg tegemoet sien. Daar is immers genoeg dinge in ons persoonlike lewe, maar ook in die situasie in ons land en in die wêreld, wat ons alle rede daartoe gee om te vrees vir wat kan gebeur. Ons is so breekbaar en dit moet net ’n dwase mens wees wat geen besef het van die talle dinge wat met ons verkeerd kan gaan of selfs ons lewensmoontlikhede kan vernietig nie.
En tog is daar vir ’n mens wat in God glo, geen rede om die nuwe jaar met angs en vrees tegemoet te gaan nie. As God werklik God is, is Hy tog in beheer van die dinge: Dit is nie waar dat enigiets maar sommer in ons lewe of in die wêreld kan gebeur, sonder dat daar ’n Hand aan die stuur is of ’n vaste doel wat uit eindelik veilig bereik sal word nie.
Groot probleem
As ons dit maar onthou, kan ons nie slegs die nuwe jaar nie, maar elke dag van ons lewe tegemoet tree in die oortuiging dat ons daarin deur die hand van God vasgehou sal word en dat Hy weet wat Hy met ons lewe en met die wêreld wil bereik.
Ons groot probleem is egter dat ons God nie vertrou nie. Telkens moet ons onsself daarop betrap dat ons oor die gevare van die lewe dink sonder om met God rekening te hou. Teoreties weet ons dat ons Hom in alles kan vertrou, maar in die praktyk redeneer ons dikwels asof God nie bestaan nie, asof ons uitgelewer is aan die grille van die toeval en die magte van die kwaad.
Dit laat ’n mens dink aan die geleentheid toe Jesus op die golwe gewandel het en Petrus Hom versoek het om ook op die see te mag loop na Hom toe. Jesus het Hom toegelaat om dit te doen, en Petrus kon dit ook werklik doen solank as wat hy na Jesus gekyk en op Hom vertrou het. Maar, so lees ons in Matteus 13:30, “toe Petrus sien hoe sterk die wind is, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: ‘Here, red my!’”
Geen groter eer
Jesus het hom dadelik gegryp, maar aan hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” Die Lewende Bybel parafraseer dit in die woorde: “Waarom vertrou jy My so min?” En inderdaad: dit is ons groot probleem: ons vertrou Christus, ons vertrou God so min. Al ons angs en vrees, ons sorge en onrus oor ons aardse lewe kan teruggevoer word na die feit dat ons God so min vertrou.
Martin Luther het êrens geskryf dat ’n mens niemand ’n groter oneer kan aandoen as om hom te wantrou nie. Daarteenoor is daar geen groter eer wat ons iemand kan aandoen as om hom te vertrou en hom as ’n man van sy woord te beskou nie. Deur ons kleingeloof, deur ons gebrek aan vertroue in God, krenk ons Hom. Ons wantrou sy beloftes. Ons reken nie met sy sorg nie.
So dikwels meen ons dat ons God moet vra waarom Hy dit of dat toegelaat het. Maar God kan met veel groter reg aan ons vra waarom ons Hom nie vertrou nie. En as u weer wakker lê met sorg of gebukkend gaan onder vrees, luister dan of u nie die fluistering van die Gees van God in u hart hoor nie: “Waarom vertrou jy My so min? – WDJ