DIE GEVAAR VAN MATERIALISME
Die Burger, 5 Januarie 1985
Die gevaarlikste bedreiging van ons geestelike welsyn kom van die kant van versoekings wat ongemerk die oorhand oor ons kry. Dit is veral die geval met dinge wat ’n deel vorm van die heersende geestesklimaat van ons tyd en daarom deur die meeste mense nie as verkeerd aangevoel word nie. Hoe algemener dinge in die samelewing as vanselfsprekend aanvaar word, hoe moeiliker word dit om dit as sondig te herken.
’n Baie aktuele voorbeeld hiervan is materialisme. Materialisme is die oormatige beheptheid met of selfs verafgoding van materiële dinge soos geld en besittings, sodat ’n mens se hele lewe feitlik daardeur in beslag geneem word. Dit is een van die groot siektes van die moderne Westerse lewenstyl met sy aksent op weelde, gemak, gerief, bevrediging van werklike of ingebeelde behoeftes, en sy neiging om mense se waarde te meet in terme van hul prestasie op hierdie gebied.
Die ergste is egter dat die kwaal van materialisme nie net onder die rykes voorkom nie. Ook ’n mens met middelmatige materiële vermoëns kan binne die suigkrag van die versoeking kom om te veel waarde aan aardse besittings te heg. Dit is nie noodwendig die hoeveelheid dinge wat ’n mens besit wat van hom ’n materialis maak nie. Dit is die wyse waarop hy dit besit of deur begeerte daaraan gebonde is.
Die Bybel leer ons duidelik dat God ons gun om die goeie van die aarde te geniet en om voldoende te hê om die behoeftes van ons lewe te bevredig. Dit is op sigself ook nie verkeerd om oorvloed te hê nie. Ons lees in die Bybel meermale daarvan dat rykdom ’n teken kan wees van Gods seën. Terselfdertyd verbied die Bybel ons egter om met ons hart verknog te·raak aan aardse besittings, om ons lewe deur die sug na sulke dinge te laat beheers, om ons oor sulke dinge te bly bekommer asof ons lewe daarvan afhang, en om ons ewige saligheid op die spel te plaas vanweë ons liefde vir aardse skatte.
As ons onsself deeglik ondersoek, sal ons miskien ontdek dat ons self ook ’n baie groter gebondenheid aan aardse besittings het as wat ons sou wil toegee of selfs besef. Die ontsteltenis wat oor ons kom as ons verlies of skade ly, die groot inspanning wat dit ons kos om vrygewig te wees teenoor andere wat minder as ons het of om die saak van die koninkryk van God met ons besittings te dien, moet ons aandag al daarop vestig dat ons verhouding tot ons aardse besittings nie reg is nie.
Ons het ongemerk al so gekondisioneer geraak, dat ons nie eens meer agterkom hoe materialisties ons in ons denke, planne, ideale vir ons kinders en in die inrigting van ons hele lewe geword het nie. Dit kos somtyds ’n heel ingrypende geestelike ervaring om ons tot stilstand te bring en ons te bevry van geldgierigheid, wat volgens die Bybel ’n wortel van allerlei kwaad is. Eers dan word ons in staat om aardse besittings op hul werklike waarde te takseer en nie ’n slaaf daarvan te wees nie. – WDJ