’N SOBER LEWENSTYL
Die Burger, 12 Januarie 1985
In ons tyd gaan daar al hoe meer stemme op wat Christene daartoe oproep om af te sien van ’n lewe in weelde en om terug te keer na ’n eenvoudige en sober lewenstyl.
Die soort samelewing waarin ons in die Weste lewe, is daarop uit om altyd weer nuwe behoeftes by ons op te wek. Handel en industrie is daarvan afhanklik dat gekoop en verkoop moet word, dat daar ’n steeds groter vloei van kapitaal moet wees, en dat die groeikoers opgestoot moet word. Daarom is die hele advertensiewese daarop ingestel om ons daarvan te oortuig dat ons nog meer en duurder dinge moet koop waarsonder ons absoluut nie kan klaarkom of ware lewensvervulling sou kon smaak nie.
Die resultaat hiervan is egter nie altyd net gunstig nie. Dit lei maklik daartoe dat die lewenspeil van ’n deel van die bevolking steeds hoër opgevoer word, dat mense op skuld begin koop, dat voortdurend geagiteer moet word om hoër lone, dat spaarsin verdwyn, dat ons bokant ons vermoë lewe, dat die monster van inflasie steeds dodeliker toeslaan, en dat ons almal besiel word met ’n geweldige beheptheid met materiële dinge.
Dit alles is soveel skrynender as ons weet dat daar terselfdertyd miljoene mense is wat in die haglikste toestande van armoede en broodsgebrek lewe, en nie die moontlikhede het om self daarin ’n verbetering te bring nie. Daarby weet ons hoe die verkondiging van die evangelie aan die heidene en die werk van Christelike noodleniging voortdurend aan bande gelê word deur gebrek aan fondse.
Steeds meer Christene voel dat hieraan iets gedoen moet word. Die ekonomie is ’n moeilike terrein waarop allerlei kragte werksaam is, en dit is geen eenvoudige saak om oplossings vir die probleme op hierdie gebied te vind nie. Maar daar is tog dinge wat ons as individue kan doen, en as daar genoeg van ons is wat bereid is om dit te doen, kan dit ’n verskil in die samelewing maak en moontlike oplossings vergemaklik.
Daarom word gepleit vir ’n nuwe, sober lewenstyl. Ons moet ons laat lei deur die beginsel dat ons persoonlik en in ons huise alle onnodige weelde moet uitskakel en onsself tevrede moet stel met die noodsaaklike. En dit nie omdat ons vrekkig is nie, maar omdat ons rentmeesters van God is wat die middele waaroor ons beskik so goed as moontlik wil aanwend vir die diens in sy koninkryk en tot die beswil van die armes.
Dit is moontlik om met ’n nuwe oog na aardse besittings te kyk en om op ’n meer verantwoordelike wyse daarmee om te gaan. Dit is ook ’n heerlike bevryding om verlos te word van hebsug en grypsug en die dors na weelde en gerief, ten einde in staat te wees om goed te kan doen met ons geld en ons besittings. Jesus het tog gesê dat dit saliger is om te gee as om te ontvang. – WDJ