Agterdog

AGTERDOG
Die Burger, 19 Januarie 1985

Daar is min dinge wat die verhouding tussen mense soveel kwaad aandoen as agterdog. Almal van ons weet hoe pynlik dit is om met iemand te doen te hê wat ons met agterdog bejeën en alle moontlike kwade dinge by ons vermoed. Dit is byna onmoontlik om teenoor so iemand spontaan te wees, omdat hy selfs agter jou vriendelikheid een of ander bose en slim plan vermoed waarmee jy hom wil benadeel.

Natuurlik is daar goeie redes waarom ons teenoor mekaar agterdogtig is. Die mens is boos en die ervaring het ons geleer dat ons nie alle mense kan vertrou nie. Daarom kry almal uit ons opvoeding in ons ouerhuis reeds die waarskuwing mee om onsself nie naïef aan enigiemand toe te vertrou nie. Ons word geleer om eers vas te stel of ’n persoon ons vertroue werd is.

Dit is op sigself goed, maar ’n mens moet tog uiters versigtig daarvoor wees om nie ’n sieklike soort agterdogtigheid teenoor alles en almal te ontwikkel nie. Dan leef ’n mens met ’n negatiewe mentaliteit wat nie daarmee begin om mense te vertrou totdat hulle ons vertroue teleurstel nie, maar met ’n instelling van agterdog wat eenvoudig daarvan uitgaan dat hulle kwaadwillig is en daarom gewantrou moet word.

Die gevolg daarvan is dat ’n mens baie moeilik aan iemand krediet daarvoor kan gee dat hy dit minstens net so goed bedoel as jyself – jy wantrou sy woorde en dade by voorbaat. As hy jou dan boonop in ’n bepaalde opsig teleurstel, is jy geneig om aan hom die slegs moontlike motiewe op alle terreine toe te dig. Jy kom nie meer agter dat jy voortdurend besig is om karikatuurbeelde van mense rondom jou te maak, asof hulle almal boewe en skelms is wat net sit en wag wanneer hulle jou kan bedrieg en benadeel nie.

Die kwaal van sieklike agterdogtigheid is die oorsaak van baie versteurde verhoudinge in die huwelik en gesin, in die samelewing en in die kerk, en op ’n breër terrein ook in internasionale betrekkinge. Ons begin  om van mekaar die slegste te vermoed, en daarom vind ons ook telkens weer bevestiging vir ons kwade vermoedens. En so kom ons in ’n bose kringloop waarin ons daaraan meedoen om die onderlinge verhoudinge tussen mense te besoedel met ’n gees van wantroue wat alle moontlikhede van ’n beter verstandhouding vernietig.

Ons moet bid dat die Heilige Gees ons die fyn kuns moet leer om te kan onderskei waaroor dit by die ander gaan, sonder dat ons hul motiewe by voorbaat betwyfel. Ons moet probeer agterkom of ons nie dalk dinge aan andere toeskryf wat onbillik is, en so die negende gebod oortree, wat sê dat ons geen valse getuienis teen ons naaste mag gee nie. Vertroue wek betroubaarheid. En billikheid open by die ander die weg tot begrip vir wat ons beweeg. – WDJ