Onberekenbaar

ONBEREKENBAAR
Die Burger, 26 Januarie 1985, bladsy 8

Aan die begin van ’n nuwe skooljaar pas dit ons om ’n keer hulde te bring aan die groot skare onderwysers en onderwyseresse wat verantwoordelik is vir die onderrig van die kinders in ons gemeenskap.

Miskien besef ons nie altyd watter onberekenbare invloed daar van hulle op ons kinders uitgaan nie. In ’n bepaalde sin hou hulle selfs die toekoms van ons land in hul hande. Wie is daar immers naas die ouers wat op so ’n intensiewe wyse met die kinders in aanraking kom, en wie se woord en voorbeeld soveel gesag vir die kinders dra? Hulle speel eenvoudig ’n beslissende rol in die vorming van die kinders se lewensuitkyk, waardes en norme, en dra veel meer aan die kinders oor as net kennis en vaardighede. In die geskiedenis van ons land het die onderwyser altyd ’n groot rol gespeel. Dit is hy wat nie net in die gemeenskap in die algemeen ’n geëerde plek ingeneem het nie, maar wat die vorming gedien het van die wisselende geslagte en daarom ’n stempel kon afdruk op die karakter en gedrag van die jonger generasie wat die verantwoordelikheid vir die toekoms van die oueres moet oorneem.

Daar is min van ons wat nie, as ons oor ons lewe terugkyk, met dankbaarheid sal moet dink aan wat ’n bepaalde onderwyser of onderwyseres – of selfs verskeie van hulle – spesifiek vir ons persoonlik beteken het nie. En dan dink ons nie net aan wat hulle ons van hul vak geleer het nie, maar aan wat hulle ons van die lewe geleer het. Daar is selfs baie onder ons wat sal moet getuig van wat onderwysers vir ons in ons geestelike lewe beteken het.

Dit is vir enige gemeenskap van die grootste belang om daarvoor sorg te dra dat die onderwysprofessie gerespekteer moet word en dat die gesag van die onderwyser oor die kind gehandhaaf moet word. Elke ouer wat die gesag van die onderwyser by sy kind aftakel, ondergrawe die fondamente van die gemeenskap. Dit is ’n duidelike bewys dat ’n gemeenskap aan ’n dodelike kwaal ly as die skool in diskrediet gebring word, die verhouding tussen onderwyser en kind afgetakel word, dissipline vernietig word en die kinders nie meer die leiding van die onderwysers wil aanvaar nie.

Ons lees meermale van dergelike toestande in die buiteland. Mag ons daarvan bewaar bly! Daarvoor is dit egter nodig dat ouers en onderwysers en die gemeenskap as geheel die skool as ’n kosbare instelling moet beskou en bewaar. Die onderwyskragte self kan veel daartoe bydra deur die wyse waarop hulle optree, deur die geestelike kwaliteit wat hulle openbaar en deur die manier waarop hulle deur Gods genade liefde vir hul werk en vir die kinders openbaar.

Liefde wek wederliefde. Persoonlike integriteit wek vertroue en respek. Die leerkrag wat ootmoedig met God en met die mense wandel, is in staat om ’n onberekenbare invloed ten goede op ons jeug te hê. Laat ons in die gebed aan hulle dink. – WDJ