’n Dankbare Terugblik

’N DANKBARE TERUGBLIK

WD Jonker
Stellenbosch

Ek was maar ses jaar oud toe die afstigting van die gemeente Biesiesvlei plaasgevind het, maar ek onthou nog hoe baie vergaderinge gehou is en hoe daar lank en ingewikkeld gesels is oor al die voor- en nadele van die afstigting – dinge waarvan ek destyds niks verstaan het nie, sodat ek nie kon begryp hoe belangrik dit was nie. Maar as ’n mens vandag terugkyk daarna, besef jy dat daar iets groots gebeur het toe Biesiesvlei van die destydse gemeente Hartsrivier afgestig het en sy eie weg deur die geskiedenis begin bewandel het.

Persoonlik dink ek met die grootste dankbaarheid terug aan die vormende invloed wat Biesiesvlei in my lewe gehad het. Ek is daar gedoop – in die groot klaskamer van die skool – destyds nog deur wyle ds Piet Swart, konsulent en predikante Ottosdal. Daar is ’n sin waarin ’n mens se doop die grootste dag in jou lewe is: die ontvangs van die teken en seël van Gods genade in Christus. In belangrikheid staan dit langs die dag van jou geboorte. In Biesiesvlei is ek opgevoed in ’n Christelike ouerhuis en ’n Christelike skool. Daar, in my vroegste jeug, het my vader self my gehelp om tot geloofsekerheid te kom. Dit is seker die mooiste taak wat ’n verbondsouer kan verrig. En in die skool het ons geadem in die atmosfeer van die Christelike geloof. Daarom was dit vir my ook net ’n bevestiging van alles dat ek later in Biesiesvlei openbare belydenis van die geloof kon aflê.

Biesiesvlei het my op allerlei maniere deur my lewe begelei. As ek vandag terugdink, besef ek hoe alles wat ek later gevoel en gedink het, in kiem tog reeds teruggevoer kan word na wat ek in Biesiesvlei geleer het: in my ouerhuis, in die Kinderkrans en Sondagskool, in die skool en in die kerk. Daarom sal dit begryp word as ek by die geleentheid van hierdie halfeeu-fees my opregte dankbaarheid aan die Here betuig vir Biesiesvlei en sy mense, wat my gelei het om te glo in die gemeente van God in Christus Jesus, en my geleer het dat daaraan bepaalde eise vir ons lewe, ons instelling en ons ideale verbonde is.

Mag die Here Biesiesvlei tot in lengte van dae seën!