GEEN VREES NIE
Die Burger, 2 Februarie 1985
Vrees is ’n veel groter faktor in ons lewe as wat ons graag sal wil erken. Onder die bravade skuil daar heimlik by baie ’n hele stuk vrees. Veel uiterlike vertoon van onbesorgdheid is maar soos fluit in die donker. Ons loop deur ons dae en ons lê deur die nagte met ’n innerlike spanning wat veroorsaak word deur die vrees dat daar iets verskrikliks met ons kan gebeur, iets fataal en vernietigend – dikwels sonder dat ons eens weet waarvoor ons bang is of watter vreeslike dinge ons verwag.
Ons het al deur ondervinding geleer hoe broos en breekbaar ons lewe en ons geluk is. Ons weet dat daar maar ’n telefoonoproep tussen ons rus en ons ontsteltenis, of ’n brief tussen ons vrede en ons droefheid kan lê. Soms het ons die gevoel dat duisend dinge tegelyk op ons afkom en dat dit met al duisend verkeerd kan loop. Dit is geen wonder dat vrees die ondertoon van so baie mense se lewens uitmaak nie. En ons sou kwalik moderne mense wees as ons nie knaend aan ’n soort eksistensiële vrees sou ly waarvoor ons nie eens die rede kan aangee nie.
Tog is dit nie net ’n moderne verskynsel nie. Die mens se lewe was altyd omring deur vrees. Dit is opmerklik hoe dikwels die woordjie vrees in die Bybel voorkom. En dit is die moeite werd om daarop te let dat die Woord van God altyd weer aan mense die versekering gegee het dat hulle nie bevrees hoef te wees as hulle hul toevlug by die Here soek en hul vertroue in Hom stel nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan vind ons in Psalm 112:7. Daar lees ons van die regverdige – dit is van die mens wat sy vertroue in God stel – dat hy vir slegte tyding nie bevrees is nie, en dat hy gerus is, omdat hy op die Here vertrou. Natuurlik beteken dit nie dat die regverdige nooit slegte tyding sal ontvang nie. Die Bybel bevat geen belofte dat dit met die kinders van God altyd net voorspoedig sal gaan nie. Maar dit beteken dat slegte tyding nie gevrees hoef te word nie, omdat God vertrou kan word met goeie en slegte dinge wat oor ons kom.
Die geneesmiddel teen vrees is nie dat ons êrens veilig op ’n eiland of in ’n glaskas bewaar moet word, waar die donker dinge van die lewe ons nie kan bereik nie. So iets sou ons vrees net nog hoër opjaag. Vrees word alleen besweer deur vertroue – vertroue op God wat by ons is, selfs in die dal van die skaduwee van die dood. Vrees verloor sy greep op ons as ons daarmee kan reken dat, wat ook al gebeur, God met ons is in die situasie waarvoor ons vrees en dat Hy daardie situasie sal hanteer en dit aan ons sal skenk om daaroor te triomfeer in die geloof.
Selfvertroue moet noodwendig altyd verkrummel wanneer ons die wind sterk genoeg van voor kry. Dit sou ’n dwase mens wees wat dink dat hy vanweë sy eie inherente moontlikhede slegte tyding nie hoef te vrees nie. Maar wanneer die grond van ons vertroue die genade van God in Christus is, kan ons ondanks ons eie swakheid staande bly in die storms en die wind. – WDJ