WAARVAN ONS SEKER KAN WEES
Die Burger, 9 Februarie 1985
Daar is bepaalde dinge waarvan ons op grond van die Bybel absoluut seker kan wees. Ons kan absoluut seker wees dat God in Christus die vergiffenis van ons sondes en die ewige lewe aan ons geskenk het, en ons moet in die geloof daaraan vashou. Ons kan ook absoluut seker wees dat God ons nooit uit sy hand sal laat ruk nie en dat daar vir ons om Christus ontwil ’n veilige tuiskoms in die hawe van die ewige vreugde wag.
Net so kan ons daarvan seker wees dat die geskiedenis nie uitgelewer is aan die grille van mense of van die noodlot of die toeval nie. God regeer oor alles, en daar sal uiteindelik niks gebeur wat nie deur God gehanteer kan word tot die verheerliking van sy Naam en die bevordering van sy Koninkryk nie. Uiteindelik sal alles goed afloop.
Maar waarvan ons nie seker kan wees nie is dat ons persoonlik, of ons nageslag, of ons volk, in die gang van hierdie geskiedenis altyd goed daarvan sal afkom. Daar is geen enkele belofte in die Bybel dat God selfs diegene wat sy kinders is, altyd teen rampe en selfs teen liggaamlike ondergang sal bewaar nie. Die veilige tuiskoms is wel gewaarborg, maar die weg daarheen kan deur woeste golwe en selfs deur skipbreuk heen loop.
Dit is ’n misvatting om te dink dat kinders van God altyd net voorspoed moet smaak. Die Bybel is vol van voorbeelde van hoe juis die vromes gely het en meermale die onderspit gedelf het. ’n Mens moet maar ’n keer Hebreërs 11 lees om te sien hoe die helde van die geloof nie net beskryf word as mense wat magtige oorwinnings in hul aardse lewe behaal het nie, maar ook as mense wat ontsettend gely het, doodgemartel is, met klippe doodgegooi is, in stukke gesaag, verdruk en mishandel is. En wie dink nie aan Johannes die Doper, die groot gehoorsame en dapper profeet, wat deur die gril van ’n onsinnige meisie en haar goddelose ma in die gevangenis onthoof is nie?
Waarom sommige van Gods kinders die veilige hawe van die hemel kan bereik te midde van gunstige omstandighede, terwyl andere liggaamlik verflenter en geestelik afgetakel uiteindelik daar voet aan wal sal sit, dit weet ons nie. Dit is God wat in sy wysheid verskillende omstandighede en verskillende paaie vir sy kinders uitsoek en bepaal wat vir hulle die beste sal wees. Vir die een is daar die stille heengaan in hoë ouderdom, geëer deur medemense en omring deur soveel goeie dinge, terwyl daar vir die ander marteling en aftakeling is tot op die punt van die afgryslike.
Ons het geen sekerheid dat die laaste alternatief nie ook vir ons kan wag nie. Maar waarvan ons wel sekerheid het, is dat die aankoms oorkant veilig sal wees as ons in Christus is en: As die boeke oopgemaak word, is ons daar! – WDJ