DIT IS SO NABY
Die Burger, 16 Februarie 1985
Die Bybel is voortdurend besig om ons aandag daarop te vestig hoe naby die heil aan ons is. Die verlossing, vrede en vreugde wat die evangelie belowe, is nie ver weg nie en word nie deur groot kragsinspanning ons deel nie. Dit is so naby aan ons, so verskriklik naby, net ’n uitsteek van ons hand, net ’n fluistering van ons mond, net ’n sug van ons hart van ons af weg. Jesaja 55 rig die geweldige uitnodiging aan almal wat dors het om na die water te kom, aan hongeriges wat geen geld het nie, om te kom koop en eet, sonder prys en sonder geld. Die profeet dring daarop aan dat God aangeroep moet word “terwyl Hy nog naby is”. Paulus sê in Romeine 10 dat niemand na die hemel hoef op te klim of na die doderyk hoef af te daal om Christus daarvandaan te gaan haal nie. Christus het uit die hemel gekom en het uit die graf opgestaan en Hy is daarom naby aan ons tot ons verlossing. Paulus beroep homself dan ook op Deuteronomium 30: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.”
Die sielsrus en die vreugde, die blydskap en die sekerheid is maar ’n asemtog van ons af weg. God is so naby, sy heil is so naby. Selfs aan sy heidense gehoor in Athene sê Paulus: “God is nie ver van enigeen van ons af nie.” En as hy oor die werklikheid van die verlossing in Christus praat, dan sê hy dat die beloftes van God in Christus nie “ja” en “nee” tegelyk is nie. Christus is die “ja” van God. Wie maar net die oog vestig op Jesus, wie soos die moordenaar aan die kruis maar net sê: “Jesus, dink aan my …” hoef nie te vrees nie.
Eienaardig genoeg is dit juis hierdie nabyheid van die heil wat vir so baie mense juis ’n struikelblok vorm. Ons is van nature godsdienstige mense, maar omdat ons sondige godsdienstige mense is, wil ons deur ons godsdienstigheid gered word en nie deur die genade van God alleen nie. Ons wil van ons godsdiens die weg maak waarlangs ons die verlossing kan verdien. Daarom is dit vir ons baie meer aanvaarbaar as moeilike dinge aan ons voorgehou word om te doen met die oog op ons verlossing. Ons is bereid om groot offers te bring, om swaar wettiese laste op ons te neem, om te probeer om die heil van ver af te gaan haal.
Ons sal selfs probeer om na die hemel op te klim of na die doderyk neer te daal as dit moet, om Christus daar te gaan haal. Maar as die evangelie aan ons sê dat dit onnodig is, neem ons daaraan aanstoot, want ons wil so graag presteer in die verkryging van ons saligheid, sodat ons tog op ’n bepaalde manier kan roem daaroor dat ons dit verkry het. Die boodskap van genade alleen verneder ons. Dit ontneem ons selfs ons roem dat ons deur ons “kragdadige bekering” goed genoeg geword het vir die hemel. Dit leer ons om maar net van onsself weg te kyk na Jesus en in Hom alles te vind.
As die heil dan so naby is, hou tog op om dit ver te soek. Aanvaar dat dit ook vir jou naby is, baie naby. – WDJ