VEROOTMOEDIGEND
Die Burger, 2 Maart 1985
In die opvoeding van ons kinders word ons dikwels getref deur die wyse waarop die kwaad in hulle tot openbaring kom. Niemand hoef hulle te leer om selfsugtig en ek-gesentreerd te wees nie. Niemand hoef hulle te leer hoe om ander mense te probeer manipuleer sodat hulle hul eie sin kan kry nie. Niemand hoef hulle doelbewus lelike taal of maniere te leer nie. Die neiging tot al hierdie dinge is van nature by hulle aanwesig en kom spontaan na vore.
Natuurlik is daar verskil in geaardheid. Sommige kinders is minder aggressief, meer teruggetrokke en meer geseglik as andere. Daar is kinders wat makliker grootmaak as andere – iets waaroor elke ouer maar net innig dankbaar is. Elke kind het egter sy eie kwota probleme vir die opvoeder. En dikwels is dit juis die mees begaafde, die sensitiewe en die hoogs intelligente kinders wat ons ook die meeste probleme gee.
Die verootmoedigende ding is nou egter dat ons meestal in die kwaad wat in ons kinders se geaardhede en wyse van optrede sigbaar word, ons eie verkeerdheid weerspieël sien. Die feit dat ons as volwassenes anders as ons kinders optree, beteken nie dat ons nie presies net so vol van kwaad is as hulle nie. Dit beteken meestal net dat ons geleer het om effens eleganter op te tree om aan ons natuurlike sondige neigings voldoening te verskaf, nie dat ons daardie sondige neigings afgesterf het nie.
Dikwels bars die kinderagtige onverhoeds in ons na vore. Volwassenes tree baie dikwels net soos kinders op. Maar selfs as ons geleer het om ter wille van die fatsoen die indruk te probeer handhaaf dat ons nie kinderagtig is nie, is die basiese motiewe waaruit ons lewe nog altyd dieselfde as die wat ons in ons kinders so irriteer. Al die opvoeding wat aan ons bestee is, het blykbaar daarin geslaag om ons minder openhartig en minder eerlik en minder pront aan ons selfsugtige en sondige begeertes uitdrukking te laat gee. Dit het ons in ’n sekere mate gedresseer om na die uiterlike soos ordentlike mense op te tree. Maar dit is ’n ernstige vraag of dit ons werklik bevry het van wat basies in ons verkeerd is.
Uiteindelik is dit net die werking van die Gees van God wat in ’n mens se lewe ‘n egte vernuwing kan bring. Die hart van klip moet uit ons weggeneem word en aan ons moet ‘n hart van vlees gegee word, soos Esegiël geprofeteer het. Maar ook dit beteken nie dat ons meteens totaal ander mense word nie. Ook in die wedergebore mens stry die vlees nog teen die Gees en die Gees teen die vlees. Die ou sondige mens in ons probeer altyd maar weer om die oorhand oor ons te kry. Dit is ’n verootmoedigende werklikheid. En dit dryf ons altyd opnuut uit na die genade van God wat groot genoeg is, selfs vir ons. – WDJ