’N HART WAT VERSTAAN
Die Burger, 23 Maart 1985
Dit is dikwels waar dat net ’n mens wat self smart gely het, in staat is om die smart van ’n ander te verstaan.
Daarom is dit dat ons in ons jeug dikwels so ongevoelig kan wees vir die leed van andere. Dit is nie omdat ons onverskillig daarteenoor is nie. Dit is net dat ons uit gebrek aan ervaring onsself moeilik in ander se posisie kan indink en invoel, en daarom noodwendig op ’n oppervlakkige wyse met hul leed moet omgaan.
Later, as die smart oor ons eie lewe heengegaan het, word dit met ons anders. Ons leer dan verstaan hoe seer pyn kan wees. Dit word vir ons makliker om te begryp met hoeveel ontwrigting leed oor mense se lewens kan heengaan. Dan word dit ook vir ons moontlik om sonder veel woorde aan hulle oor te dra dat ons met hulle meevoel in hul omstandighede.
Per slot van rekening is dit nie soseer ons woorde wat mense troos nie, al is ons woorde nie onbelangrik nie. Dit is egter moontlik dat ons die regte woorde op die regte plekke kan gebruik, sonder dat dit tot mense se harte deurdring, omdat hulle aanvoel dat daardie woorde wel korrek is, maar nie opkom uit ’n ware begrip van die omstandighede waarin hulle verkeer nie.
Daarenteen kan ons woorde soms gebrekkig wees of miskien heeltemal ontbreek, terwyl diegene aan wie ons ons meegevoel betuig, eenvoudig sal aanvoel dat ons iets verstaan van hul smart. Die kommunikasie tussen mense is nie net verbaal nie. Dit omvat ’n hele paar dimensies. Ons hele houding en optrede praat ’n taal wat deur die ander gehoor en verstaan word. Dit is hierdie taal wat in laaste instansie deurslaggewend is in ons omgang met mekaar.
Daarom kan dit ook gebeur dat ons woorde en ons houding met mekaar in konflik kan wees, of dat ons woorde nie deur ons houding ondersteun en bekragtig word nie. Slegs wanneer dit vir andere duidelik is dat ons woorde “uit ons hart” kom en verklank wat ons verstaan en bedoel, is dit vir hulle oortuigend en betekenisvol. Dan ervaar hulle dit as geloofwaardig en kan dit tot hul troos en versterking dien.
Maar dit kan alleen gebeur as ons werklik verstaan. En ons verstaan eers andere se leed as ons self leed gely het. As ons dit begryp, behoort dit ons te help om nie net negatief te staan teenoor ons eie ervaringe van smart nie, maar om te begryp dat dit die weg vir ons geopen het om vir andere meer te kan beteken.
Die beste manier om eie leed te verwerk is om na buite gerig te wees, op die leed wat rondom ons bestaan, en om onsself te gee vir die medemens wat hulp en troos nodig het. Want die wêreld het omtrent aan niks soveel behoefte nie, as aan die begrip en liefde van ’n hart wat verstaan. – WDJ