Ons eenheid in Christus

ONS EENHEID IN CHRISTUS
Die Burger, 13 April 1985

Verlede naweek het ons Paasfees gevier. Die hele Christelike Kerk herdenk op Goeie Vrydag en Paassondag die sentrale gebeurtenisse waarby die Christendom staan en val: die dood en die opstanding van Jesus Christus.

Dit gaan daarby nie maar om die herdenking van historiese gebeurtenisse sonder meer nie. Dit gaan om die viering van gebeurtenisse met ’n bo-historiese betekenis wat vir die gelowige vandag nog steeds dieselfde betekenis het as tweeduisend jaar gelede. Ja, dit gaan om gebeurtenisse wat vir die mense van alle tye, selfs diegene wat voor Christus gelewe het, van beslissende betekenis is. Christus se kruis is ook die kruis van almal wat in Hom glo en op Hom gehoop het, en sy opstanding beteken vir hulle almal ook dat hulle mag deel in ’n nuwe lewe van verlossing.

Dit is juis die besondere van die boodskap van die evangelie, dat dit aan ons voorhou dat daar ’n unieke band van eenheid tussen Christus en ons is. Trouens, die evangelie staan of val daarby dat dit Jesus Christus verkondig as die Middelaar tussen God en ons, as die Een wat in ons plek gestaan het, wat ons verteenwoordig het. En dit was alleen moontlik, omdat Hy op sodanige wyse een met ons is, dat sy dood as ons dood kan geld, en sy lewe vir ons die lewe beteken.

Dit is miskien die allergrootste aanstoot van die evangelie vir baie mense, dat juis hierdie Een Mens daarin aan ons verkondig word as die een in wie ons almal ingesluit is, sodat God in Hom met ons almal gehandel het. Baie mense is nog bereid om in God te glo as die magtige Skepper van hemel en aarde. Hulle is bereid om te aanvaar dat God sy wet aan ons gegee het en dat ons daarom ’n goeie lewe behoort te lei. Maar as ’n mens met hulle oor Jesus praat, dan vind hulle dit uiters moeilik om te glo dat slegs in hierdie Een, God Homself ten volle geopenbaar het, en dat God slegs deur hierdie Een die verlossing aan ons geskenk het.

En tog is dit waarom die hele Christendom draai. Die Bybel vra ons om te glo dat God werklik in sy ewige uitverkiesende liefde Christus en ons saamgevoeg het. Hy is deur God gestel tot die Hoof van die nuwe mensheid. Ons word in Hom ingesluit soos ons in Adam ingesluit was. Daar loop ’n verborge band tussen Hom en ons. Hy is ons vlees en bloed en ons is Sy liggaam. Hy staan waar ons staan en ons word gebring waar Hy is.

Wonderlike, onbegryplike samevoeging van die Reine en die onreines, die Heilige en die onheiliges! Deur hierdie “mistieke unie” tussen Christus en ons is dit waar dat sy dood en sy lewe ook ons kruisiging en opstanding is. Die Heilige Gees, wat die Gees van Christus is, is die band van eenheid tussen Hom en ons. Hy maak alles wat van ons in Christus waar is, ook tot ’n lewenswerklikheid in ons. – WDJ