’N TYD OM TE BID
Die Burger, 20 April 1985
Die Bybel leer ons dat ons voortdurend moet bid. Tog kom daar tye in die lewe van die individu, die gesin of die hele gemeenskap wanneer die gelowige homself gedronge voel om met groter toewyding en erns te bid met die oog op bepaalde omstandighede wat pynlik en sorgwekkend is.
Ons het al in ons land deur moeilike tye gegaan, maar wat ons tans belewe, is tog besonder moeilik. Daar was (en is) droogte, rampe en skade. Daar is die ekonomiese druk waardeur derduisende mense in sorg en lyding gedompel is. Daar is werkloosheid, bankrotskappe en frustrasie, armoede en doodgewone honger.
Daar is ook die slepende politieke onrus wat telkens weer op ’n skokkende wyse êrens tot ’n insident lei. Dit gaan nie aan ons koue klere sit nie. As ons lewensvreugde al gedemp word deur die ekonomiese omstandighede, dan word dit gedreineer deur telkens nuwe berigte van onluste, brandstigting, bloedvergieting en dood.
Die algemene klimaat waarin ons adem, is een van verdeeldheid op politieke en kerklike terrein. Baie mense voel verward en onseker, en in so ’n tyd is die redelikheid dikwels die eerste ding wat sneuwel. Skerp emosies lê net onder die oppervlak, en dit is altyd gevaarlik.
Wat kan die gewone mens hieraan doen? Dit lyk nie of ons veel kan doen wat direk dramatiese gevolge sal hê nie. Die oplossing van die meeste van ons probleme lê nie binne die mag van die enkeling nie, vereis in elk geval ook ’n kundigheid waaroor hy nie beskik nie, en hang saam met faktore wat van ’n bo-persoonlike aard is en nie met ’n handomkeer kan regkom nie.
Wat ons almal egter direk kan doen, is om van al die genoemde probleme ’n saak van gebed te maak. Dit is werklik vir ons ’n tyd om te bid. Die Bybel leer ons dat die gelowiges ’n “koninklike priesterdom” is (1 Petrus 2:9). Dit beteken dat hulle priesterlik in die gebed kan intree by God. Die gebed van die regverdige het groot krag. Ons is geroep om in die bres te gaan staan en om by God te pleit om ons land in hierdie tyd genadig te wees.
God is ’n Hoorder van die gebed. Dit beteken uiteraard nie dat God al ons gebede beantwoord op die wyse wat vir ons die aangenaamste is nie. Soms moet ons lank wag op sy antwoord. Soms is daar dinge wat eers by ons moet verander, voordat Hy kan gee wat ons vra. Maar waaraan ons nie kan twyfel nie, is dat God altyd die opregte gebed ernstig opneem en daarop ingaan.
Is daar nog bidders wat tussen God en ons land kan gaan staan in hierdie sware tye, om te pleit dat die kwaad van ons afgewentel sal word? – WDJ