DIT IS ONAANVAARBAAR
Die Burger, 27 April 1985
Daar was seker geen tyd in die geskiedenis waarin ons samelewing, en dan spesifiek ook ons jeug, op so ’n groot skaal blootgestel is aan die vertoning van en dikwels ook die verheerliking van geweld, as wat vandag die geval is nie.
’n Mens moet maar ’n keer objektief kyk na baie van die gewilde Amerikaanse televisiereekse. Daar is min van hulle waarin misdaad, brutaliteit en naakte geweld nie op ’n prominente wyse voorkom nie. Of ’n mens moet maar ’n keer onderwerp word aan die pyn van te moet kyk na die vooruitskou van die nuutste rolprente wat in ’n bioskoop-teater opgedis word as “coming attractions”. Die uitnemendste daarvan is geweld en vernietiging, soms op so ’n groot skaal, dat dit onuitstaanbaar word. Die kyker word blootgestel aan die brutaalste geweld waarin mense aangerand word, moorddadig te lyf gegaan word, soos vlieë doodgeskiet word, of wat blykbaar die mooiste is, na ’n lewensgevaarlike jaagtog met motor en al die lug ingeblaas word en in ’n vlammesee verdwyn. Natuurlik, dit is dan meestal die skurk wat so gewelddadig afgemaai word, en die idee sal miskien ook nog wees om te laat sien hoe die goeie mense altyd weer doeltreffender as die ander is, ook nog in die gebruik van geweld.
Maar dit neem niks daarvan weg nie dat ons kinders van kleins af gekondisioneer word om geweld as ’n normale deel van die lewe te leer sien en aanvaar. Dit skrik hulle nie meer af nie. Hulle raak in die verbeeldingswêreld van die rolprent gewoond daaraan om geweld nie meer as iets afgrysliks te beskou nie, maar as iets gewoons. En die gevaar bestaan dat hulle dit langsamerhand ook in die werklike lewe as iets onafwendbaar en gewoons sal beskou.
Dit is tog werklik onaanvaarbaar.
As ons ons kinders op ’n wyse wil opvoed wat hulle sal voorberei om ’n beter toekoms te bou, dan moet ons hulle juis leer om uiters sensitief te wees vir alles wat leed en pyn kan veroorsaak. Ons sal hulle moet leer om respek te hê vir andere se lewe en eiendom. Ons sal hulle moet voed met die ideaal van vrede en verdraagsaamheid, sodat hulle hulself daarop sal toelê om juis nie te maak en te breek nie, maar om met begrip en sorg met hul medemense en met die wêreld om te gaan.
En daarom mag ons hulle nie vir die plesier dag na dag na ’n karikatuurwêreld verplaas waarin die waarde van die menslike lewe misken word en die laagste sentimente van mense ten toon gestel word nie. Hierdie soort Amerikaanse uitvoerproduk is eenvoudig in ons land onaanvaarbaar. Dit is simptomaties van ’n sieklike mentaliteit en ’n siek kultuur. Die resultaat van langdurige blootstelling daaraan kan nie anders as skadelik wees nie.
Is dit werklik onmoontlik om iets hieraan te doen? – WDJ