ONS SOU DIT OOK GEDOEN HET
Die Burger, 30 Maart 1985
Dit is goed om ’n keer die lydingsgeskiedenis van Christus te lees en daarby spesiaal te let op hoe die swakheid en sondigheid van die mense rondom Jesus daarin geopenbaar word.
Dit is nie net dat een van sy eie dissipels Hom verraai nie; al die ander dissipels blyk ook onbetroubaar en sonder begrip te wees vir wat werklik besig is om in hul midde te gebeur. As Hy in Getsemane hulle menslike ondersteuning nodig het, raak hulle aan die slaap. As Hy gevange geneem word, slaan hulle almal op die vlug.
Selfs Petrus, die manhaftige, blyk met sy poging tot verset ’n groter verleentheid as ’n hulp te wees, en as Jesus hom daarin teregwys en die soldate Jesus gevange neem, is Petrus soos ’n seepbel wat geprik is. Van sy eed van trou aan Jesus bly niks meer oor nie. Hy volg van ver en verloën met ’n vloek dat hy “hierdie man” in die geheel ken.
Maar ook die Joodse Raad, beklee met die amp om oor die saak van God die wag te hou, word geopenbaar in al sy bevooroordeeldheid en onvermoë om te onderskei waarop dit aankom. Hulle soek na valse getuienis teen Jesus. Hulle speel ’n spel met die reg. Hulle veins opregte ywer vir die saak van God, terwyl hulle in werklikheid deur ander belange en oorwegings gelei word. Die lede van die Raad wat anders oor Jesus geoordeel het, swyg uit vrees of onsekerheid. En so doen hulle daaraan mee dat Jesus uitgelewer word aan die genade van ’n opgesweepte skare wat redeloos eis om bloed te sien.
En diegene wat die Romeinse regstelsel met sy hoë pretensies verteenwoordig? Meer patetiese figure as Herodus en Pilatus is nie denkbaar nie? Pilatus veral – wie se naam in die Twaalf Artikels opgeneem is om ons daaraan te herinner dat Jesus om ons ontwil deur die wêreldlike regter onskuldig tot die dood veroordeel is – blyk ’n besluitelose, onstandvastige mens te wees wat swig voor die intimidasie van die Joodse leiers en so sy hoë amp en die eerste beginsels van die reg verraai.
As ons dit alles oorweeg, moet dit ons tot diepe ootmoed bring. Hierdie mense verteenwoordig ons almal. Hulle was nie slegter as ons nie. Hulle het in ’n ander tyd gelewe, met ander gebruike en gewoontes, maar wat die wesenlike dinge betref, is daar geen verskil tussen hulle en ons nie. As ons in hul skoene gestaan het, sou ons dieselfde as hulle gedoen het.
Trouens, ons tree net soos hulle op wanneer ons die saak van Christus in die wêreld verloën en verraai en Hom by wyse van spreke opnuut kruisig. En ons demonstreer dit deur die wyse waarop ons met ons medemens omgaan en telkens weer aan hulle doen wat ons ook aan Jesus sou gedoen het as Hy in hul skoene voor ons sou gestaan het. Ook ons het die vergiffenis nodig waarvoor Christus vir hulle gebid het. – WDJ