Ons moet leer luister

ONS MOET LEER LUISTER
Die Burger, 4 Mei 1985, bladsy 8

Dit is van die grootste belang dat ons moet leer om na ander mense te luister. Ons is veels te gou geneig om te dink dat ons presies weet wat hulle wil sê of wat hulle dink of selfs wat hulle ervarings en omstandighede is. En daarom reageer ons op hulle woorde sonder om eers na daardie woorde te luister, of om dit te probeer verstaan. Dikwels reageer ons dan verkeerd.

Dit is slegs moontlik om reg teenoor ander mense te reageer as ons eers probeer verstaan het wat hulle werklik beweeg. Daarvoor is egter veel geduld nodig. Woorde is nie so duidelik as wat ons miskien dink nie. Ons woorde skiet dikwels ver te kort om duidelik te maak wat ons presies ervaar en bedoel. Dieselfde woorde beteken dikwels ook vir verskillende mense verskillende dinge. Soms is dit ook so dat woorde eerder daartoe dien om ons bedoelings te verberg as om dit te openbaar.

Daarom is dit nie so eenvoudig om mense te verstaan nie. Ons moet, as ons mekaar wil verstaan, die geduld kan bybring om na mekaar te luister, en nie net na mekaar se woorde nie. Ons sal moet probeer om te begryp wat die ander aan ons wil oordra, selfs deur die wyse waarop hy of sy bepaalde dinge vir ons probeer verberg. Ons sal daarna moet streef om onsself in die ander se situasie te verplaas, sodat ons by wyse van spreke van binne uit kan begryp wat hy of sy ervaar en waarom dit so ervaar word.

As ons dit nie doen nie, sal ons by mekaar bly verbypraat en mekaar nie werklik hoor nie. Ons sal dink dat ons weet wat die ander besiel, en tog met ’n karikatuurbeeld werk. Ons sal innerlik vir mekaar vreemdelinge bly, selfs al dink ons dat ons mekaar maar alte goed ken. En ons sal mekaar antwoord op wat ons dink die ander gesê het, maar wat nooit bedoel is nie. Ons sal die muur tussen ons nooit kan afbreek nie, omdat ons die werklike kontoere daarvan nie herken het nie.

Dit is net liefde wat ’n mens die geduld kan gee om na die ander te luister, wat jou welwillend genoeg kan maak om te bly vra en te bly luister totdat jy gehoor en verstaan het. En dit is nie sommer enige soort liefde, of wat ons as liefde beskou; wat daartoe in staat is nie. Dit is net die vreemde liefde wat die Heilige Gees in ons harte uitstort (Romeine 5:5) wat ons in staat stel om so sensitief, so oop en so simpatiek te wees dat ons bereid word om moeite te doen om te verstaan. Of dit nou in die situasie van die huwelik is, of in die verhouding van ouers en kinders, of in die moeilike gesprekke tussen die kerke, of in die worsteling om die strydende faksies binne die land met mekaar te versoen — oral is dit dieselfde. Christene sal in al hierdie gevalle nie vanuit die ou sondige vlees oorhaastig, moedswillig en dus ook onbillik teenoor mekaar moet reageer nie, maar vanuit die liefde wat vrede najaag en daarom geduld genoeg het om te soek na wedersydse begrip. — WDJ