Gevaar van eensydigheid

GEVAAR VAN EENSYDIGHEID
Die Burger, 11 Mei 1985

Ons word almal bedreig deur die gevaar van eensydigheid. Niemand van ons is so wys dat hy alle moontlike gesigspunte van ’n saak gelyktydig kan raaksien nie. Ons ken almal maar ten dele en ons oordeel op grond van die beperkte insig wat ons het. Daarom is dit net begryplik dat ons dikwels eensydig is in die standpunte wat ons inneem en die stryd wat ons voer.

Baie van die onenigheid in die wêreld word veroorsaak deur ons eensydige beoordeling van mense en situasies. Ons sien dinge net van ons eie kant en vanuit ons eie gesigspunt. Daarby is ons geneig om ons eie standpunte te verabsoluteer, asof daar niks aan toegevoeg of van afgeding kan word nie. Die gevolg is dat groepe en partye teenoor mekaar te staan kom en mekaar hand en tand beveg, maar elkeen vanuit ’n eensydige kyk op die werklikheid.

As ons maar daarin kan slaag om bewus te bly van die gevaar van eensydigheid ook by onsself, sal ons meer bereid wees om te vra watter moontlike element van waarheid daar in die ander man se standpunt is wat deur hom met soveel erns verdedig word. In plaas daarvan is ons egter veels te maklik by voorbaat daarvan oortuig dat die ander man en almal wat soos hy dink, natuurlik dom of moedswillig of gemeen is, en dat ons daarom by voorbaat weet dat hulle dit mis het, sodat dit nie eers nodig is om verder na hulle insig of motiewe te vra nie.

Die waarheid is altyd groter as ons insig daarin. Dit is meestal so dat diegene wat anders as ons dink, ook met elemente van die waarheid te doen het. Dit kan dan so wees dat hulle ons insig nie goed genoeg begryp nie en dat hulle vir ons besef daardeur noodwendig die waarheid skeeftrek. Maar dit is uiters onwaarskynlik dat hulle hoegenaamd niks sal hê waardeur ons iets kan leer nie. Die felheid waarmee ons ons eie gesigspunte verdedig, kan ook soms ’n openbaring wees van die vrees dat die ander tog ook elemente van die waarheid beet het – elemente wat ons nie graag in berekening wil bring nie. Daarom skreeu ons liewer harder ons eie oortuiginge uit, in plaas daarvan dat ons die tyd inruim om sorgvuldig te toets of ons nie dalk tog eensydig is nie.

Dit is veral pynlik as eensydighede die verhoudinge tussen Christene en kerke vertroebel. Die geskiedenis van die kerk lê ryklik getuienis daarvan af dat die verskille tussen Christene meestal in ’n bepaalde stadium die karakter van aksentverskille gedra het. Dit sou in so ’n situasie moontlik gewees het om albei aksente in ’n breër visie te behou. Dit het egter nie gebeur nie, en die resultaat was vereensydiging en verbreking van die eenheid.

Veel van die polarisasie tussen Christene in ons land kan ook oorbrug word as ons nederig genoeg is om dit te oorweeg dat ons gesigspunte moontlik aanvullend kan wees, en nie noodwendig in ’n absolute sin teenoor mekaar gestel hoef te word nie. – WDJ