Verborge heerskappy

VERBORGE HEERSKAPPY
Die Burger, 16 Mei 1985

Op die Hemelvaartsfees vier die Christenheid die oorwinning van Christus oor die magte van die duiwel, die sonde en die dood. Wat in die opstanding van Christus geopenbaar is, word in sy hemelvaart bevestig. Hy is die Here van die here en die Koning van die konings. Hy is die Triomfator oor alle helse magte. Aan Hom is alle mag in die hemel en op die aarde gegee (Matteus 28:18). Hy, die Lydende Kneg, is tans die Koning. Hy is met heerlikheid en eer gekroon (Hebreërs 2:9).

Dit is geen wonder dat alle liedere oor die hemelvaart van Christus vol lofprysing en jubel is nie. Vir die geloof beteken dit immers dat Christus daarmee ’n posisie van majesteit en mag ingeneem het wat vir ons die waarborg is van Gods totale en finale oorwinning oor alle dinge wat skeiding maak tussen ons en die heerlikheid waarvoor ons bestem is.

Daar is twee kante aan hierdie waarborg. Enersyds word ons verseker dat Christus in die hemel is as ons Voorspraak by die Vader en as die Hoof van sy liggaam, naamlik die kerk. Sy teenwoordigheid daar is die waarborg dat ook ons, as die lede van sy liggaam, eenmaal met Hom in sy volle heerlikheid sal deel.

Maar andersyds beteken sy hemelvaart ook dat Hy aan die regterhand van die Vader sit en dat die Vader tans alle dinge deur Hom regeer. Hy hou die geskiedenis in sy hande. Dit waarborg dat onder sy heerskappy die plan van God met die wêreld tot uitvoer gebring sal word. Uitgedruk in die beeldende taal van die boek Openbaring: dit is aan Hom gegee om die boekrol van die heilsplan van God met die wêreld oop te maak en die dinge wat daarin beskrywe staan, in vervulling te laat gaan (Openbaring 5).

Sonde en dood

In die praktyk stel die belydenis van die hemelvaart van Christus ons geloof egter voor ’n geweldige toets. Immers, wat ons in onsself ervaar en rondom ons sien, getuig so min van hierdie oorwinning en heerskappy van Christus. Sou dit nie logies wees om te verwag dat die heerskappy van Christus ook sigbaar sou word in ’n groter oorwinning oor die sonde in ons persoonlike lewe en in die gang van die wêreldgeskiedenis nie?

As Christus werklik regeer, waarom sien ons dit nie? Waarom ervaar ons inteendeel eerder in ons eie lewe en in die gang van die geskiedenis voortdurend juis die mag van die kwaad en die verwarring wat sonde en dood bring, net asof Christus nie regeer nie en geen mag oor die kwaad het nie?

Met hierdie vraag het die Christelike hart deur die eeue geworstel. Ons sou so graag wou sien en ervaar dat wat ons bely, op die werklikheid betrekking het. Die gebede en versugtinge van die hele Christelike kerk deur die eeue het dikwels uitdrukking gegee aan hierdie begeerte om meer te sien van die oorwinning van Christus.

Soms het die verlange en die spanning te sterk geword en het Christelike groepe in hul begeerte om iets te sien van die triomf van Christus self probeer om die Koninkryk op aarde te realiseer. Maar sulke entoesiastiese pogings het altyd weer in teleurstelling geëindig.

Net ’n belofte

Die Bybel leer ons verstaan dat ons in die belydenis van die heerskappy van Christus werklik met ’n geloofsbelydenis te make het, nie met die konstatering van wat sigbaar en voor oë is nie. Die heerskappy van Christus is ’n werklikheid, maar dit is nog verborge. Die Heilige Gees wat op Pinksterdag uitgestort is, hou wel die geloof in en die hoop op die totale oorwinning van Christus by ons wakker en rig in ons eie lewe en in die geskiedenis allerlei voorlopige tekens daarvan op, maar tog maak Hy nie Christus se oorwinning sigbaar vir alle oë nie.

Die sigbare koms van die Ryk van God is iets wat aan die einde van die tyd sal plaasvind. Nou sien ons nog nie dat alles aan Christus onderwerp is nie (Hebreërs 2:8). Ons het nou nog net ’n woord om aan vas te hou, net ’n belofte. Ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie (2 Korintiërs 5:7). Nou sug ons nog in afwagting van die heerlikheid wat gaan kom, want ons is gered in hoop (Romeine 8:24).

In ons sugte klink die sugte van die hele skepping mee, wat met reikhalsende verlange uitsien na die dag van verlossing. Al is ons nou reeds kinders van God, en al het ons reeds die Heilige Gees as die eerste gawe van God ontvang, is dit nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie (1 Johannes 3:2).

Daar is ’n tussentyd tussen die troonsbestyging van Christus en die finale koms van die Koninkryk. Dit is die tyd van sy verborge heerskappy. Onder die oppervlak van die dinge, agter die lawaai en drukte van die magte, is Christus besig om Gods heilsplan te volvoer. Niks gaan uiteindelik buite sy heerskappy om nie. Selfs die kwaad laat Hy ten goede meewerk vir die wat God liefhet (Romeine 8:28). Daar kom ’n dag wanneer dit alles sigbaar sal word. Daarop is ons hoop gerig. Want die hemelvaart is die belofte van die wederkoms. – WDJ