Die akker is die wêreld

DIE AKKER IS DIE WÊRELD
Die Burger,  25 Mei 1985

Pinksterfees het ’n rykdom van betekenisse vir die Christelike kerk. Dan vier die kerk immers die koms van die Heilige Gees wat alles wat God in die Ou Testament aan sy volk beloof en in Christus vervul het, in die nuwe bedeling kom verwerklik.

Dit het ingrypende betekenis vir die geestelike lewe van die gelowiges. Maar dit is veral ook van enorme belang vir die roeping van die kerk in die wêreld. Die Heilige Gees is die Gees van die sending. Christus het aan sy apostels uitdruklik belowe dat hulle krag sou ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom, om sy getuies te wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8).

Daarvan getuig ook die tekens op Pinksterdag, soos by name die neerdaling van vurige tonge en die spreek in vreemde tale. Die swygende, vreesbevange apostels ontvang tonge om te kan getuig. In sy verklaring van die gebeurtenis op Pinksterdag verwys Petrus na die profesie van Joël, wat sê dat die Heilige Gees seuns en dogters, ou mense, dienaars en dienaresse, ja, almal wat Hy vervul, tot profete sal maak (Handelinge 2:16–18). Die Gees is die rukwind wat die boodskap van die heil in Christus oor die wêreld heen sal waai.

Die hele wêreld is vir God belangrik. Die verlossing is nie net vir Israel bedoel nie, maar vir die hele wêreld. God het aan Abraham beloof dat in hom al die volke van die aarde geseën sal word (Genesis 12:3). Dit tree met Pinkster in vervulling. Die tydperk van die Israelitiese partikularisme is verby. Die kerk gaan sy universele toekoms binne.

Die boek Handelinge laat ons sien hoe lank dit die eerste Christene geneem het om dit werklik te verstaan. Deur allerlei gebeurtenisse, ja, deur vervolging heen moes hulle dit leer. God moes selfs ’n “dertiende apostel” in die persoon van Paulus roep en tot die Twaalf toevoeg, om die boodskap na die heidene in al die uithoeke van die bewoonde wêreld te dra en die kerk te leer dat die akker waarop die evangelie gesaai moet word, die hele wêreld is.

Daar was tye dat die kerk die bedoeling van die Gees goed verstaan het. Dan het die sendingywer in die kerk gebrand en is die evangelie wyd en syd verkondig. Maar daar was ook tye van insinking. Die groot gevaar is altyd dat die kerk selfgenoegsaam sal word, dat die nood van diegene wat die evangelie nog nie gehoor het nie, nie meer onrus in die kerk wek nie. Die kerk mag dan nog ander geestelike funksies vervul, maar sy gerigtheid op die koninkryk van God raak verlore. Dit bedroef die Heilige Gees.

Pinkster konfronteer die kerk opnuut met die vraag na die gehalte van sy liefde vir Christus soos dit spesifiek in die ywer vir die sending na vore behoort te kom. Sal ons nie bid vir ’n nuwe sendingvisie in die kerke nie? Dit sal ’n ware vernuwing beteken. – WDJ