ONS MAGTELOOSHEID
Die Burger, 8 Junie 1985
Een van die mees tragiese verskynsels in die menslike lewe is ons magteloosheid om ’n sinvolle menslike lewe te kan lei. Dit is net of die lewe op een of ander manier nie deur ons raakgevat kan word nie. Ons strek ons hande daarna uit, ons gryp daarna, maar dit ontglip ons telkens weer. Daarom word die lewe deur so baie mense as sinloos ervaar, omdat hulle besef dat die lewe anders moes gewees het, bedoel was om anders te wees, maar dat ons magteloos staan teenoor die verydeling wat ons beroof van alles wat die lewe werklik betekenisvol moes gemaak het.
Kunstenaars het dikwels die gawe om uitdrukking te gee aan die dinge wat ons lewe ten diepste bepaal. Hulle is toegerus met ’n antenna wat die seine kan opvang wat deur individue en die gemeenskap uitgesend word. In hulle werk gee hulle daardie seine aan ons deur, as ons net reg wil luister.
In die moderne kuns gaan dit dikwels om hierdie magteloosheid van die mens om werklik volop mens te wees. Dit is veral die magteloosheid van die mens om werklik lief te hê, wat die aandag trek. Die liefde is die natuurlike element waarbinne die menslike lewe geleef moet word. Dit is net die liefde wat die mens tot sy volle menslikheid kan laat kom. Maar hoewel die mens se hele wese op die liefde aangelê en vir die liefde bedoel is, is hy magteloos om werklik lief te hê, en daarom kan mense se lewens nie tot ’n sinvolle vervulling kom nie.
Die groot plek wat die seksuele in die moderne kuns inneem, dikwels tot op die punt van die aanstootlike, beklemtoon juis die onvermoë van die moderne mens om betekenisvol met ’n medemens te kommunikeer. Mense kan in hartstog met mekaar omgaan en hulself aan mekaar vergryp, en tog is hulle magteloos om mekaar werklik te verstaan, vir mekaar oop te wees en mekaar lief te hê.
Daarom lewe mense ten diepste by mekaar verby. Elkeen is opgesluit in sy eie klein wêreldjie, en ons is magteloos om daaruit los te breek en by mekaar uit te kom. Kinders en ouers, mans en vrouens, jong mense wat met mekaar verhoudings aangaan – by hulle almal tref ons telkens weer dieselfde aan: die onvermoë tot egte liefde wat die ander omvat en dien.
Daar sit in die verhoudingslewe van talle egpare en gesinne ’n ongelooflike stuk magteloosheid om net maar mekaar op ’n eg menslike vlak te vind, ondanks die feit dat hulle op allerlei maniere probeer om by mekaar uit te kom sonder om mekaar werklik lief te hê.
Egte liefde is ’n gawe van die Gees van God. Dit is net God self wat ons lewe kan aanraak en oopbreek en ons magteloosheid kan oorwin. Dit is eers in die sonskyn van God se liefde dat ons klein menslike liefde kan ontkiem. Die geheim van egte menslike lewe is dat ons onsself in die liefde van God moet vind. Eers dan gaan ons vir mekaar oop. Daartoe nooi God ons uit. – WDJ