DAAR MOET IETS GEBEUR
Die Burger, 29 Junie 1985
Daar moet werklik iets met ’n mens gebeur voordat hy vry is om te doen wat goed en reg is.
By alle mense is daar ’n besef van goed en kwaad. By alle mense is daar ook die wete dat dit beter is om goed as kwaad te doen en dat ’n mens eintlik goed behoort te doen. Tot op sekere hoogte is daar selfs by alle mense sprake van ’n begeerte om die goeie te doen en die slegte te vermy.
Maar hierdie “kennis van goed en kwaad” en selfs die bepaalde begeerte om die goeie te doen, is net nie voldoende om die mens in staat te stel om werklik die goeie te doen nie. Die werklikheid van ons menslike situasie is dat daar in ons ’n mag werksaam is wat dit vir ons onmoontlik maak om te kan beantwoord aan wat ons self as die ware ideaal van menslike regskapenheid sien.
Die apostel Paulus noem hierdie mag in die Brief aan die Romeine “die wet van die sonde en die dood”. Daarmee bedoel hy dat daar in ons almal van nature ’n bepaalde wetmatigheid werksaam is wat ons net so doeltreffend beheers as die wet van swaartekrag of enige ander natuurwet. So min as wat water opdraand kan loop, net so min kan ons van nature die goeie doen, omdat dit in stryd is met die wetmatigheid van die sonde wat in ons werksaam is en trefseker afstuur op die loon van die sonde, naamlik die dood.
Hy beskryf verder in alle uitvoerigheid die onmoontlikheid daarvan dat ’n mens in wie die mag van die sonde en die dood op hierdie wyse werksaam is, ooit aan die eise van die wet van God kan voldoen. Selfs al ken mense die wet van God, is hulle nog nie in staat om dit te doen nie.
Inteendeel, die kennis van die wet kan selfs ’n aweregse uitwerking op hulle hê, omdat die wet met sy gebooie hulle juis prikkel om nog meer sonde te doen. Die wet van die sonde in ons werk juis so dat dit reageer teen die wet van God. As God ons gebied om nie te begeer nie, sê Paulus, dan spring alle begeertes juis in ons op. Vanweë die wet van die sonde in ons stort die wet van God ons nog net dieper in die ellende in.
Daarom: As ’n mens ooit in staat moet kan wees om die goeie te doen, moet daar eenvoudig iets met hom gebeur – ’n wonder, ’n wedergeboorte, ’n vernuwing deur die Gees van God. Die werklik goeie in ons lewe is nie die vrug van dwang of van opvoeding of van selfverbetering nie. Dit is net die vrug van die aanraking deur die Gees van God wat ons vry maak om te wees wat ons bedoel is om te wees.
Tot daardie vryheid word ons uitgenooi deur die evangelie. Wie in Christus glo, kom onder die nuwe heerskappy van die Gees van God, wat die Gees van die vryheid is. Daar kan iets met ons gebeur. Ons hoef nie te bly wat ons is nie. – WDJ