’n Wag voor ons mond

’N WAG VOOR ONS MOND
Die Burger, 31 Augustus 1985

Ons gaan meestal ligsinnig met woorde om. ’n Groot persentasie van ons woorde bedoel ook weinig meer as om uitdrukking te gee aan die tipe wellewendheid en geselligheid wat tot ons kultuurpatroon behoort.

En tog moet niemand die betekenis van woorde onderskat nie. In ons verhouding tot mekaar speel woorde op ’n dieper vlak ’n geweldig groot rol, en in die samelewing van mense kan woorde die instrument van vrede of van stryd wees, in staat om wonde te slaan of wonde te genees. Dan blyk dit dat woorde nooit werklik betekenisloos is nie, maar eintlik die manier is waarop die magte wat ons lewe en die geskiedenis beheers, ter sprake kom.

Woorde gee uitdrukking aan ons gesindhede en ons instelling, ons lewensrigting en ons oortuigings. Ons diepste keuses word daardeur aan die lig gebring. Maar juis daarom is woorde so ernstig, want hulle kan ons lewe maak of breek. Hulle reflekteer nie net wat ons lewenskeuses is nie, hulle wek ook andere op om dieselfde keuses te doen.

Daarom het woorde ook ’n werking wat van hulle uitgaan. Ons woorde wek bepaalde emosies op, roep bepaalde denkbeelde en ideale na vore, dien ’n bepaalde moraal, skep ’n bepaalde atmosfeer en spoor mense tot ’n bepaalde optrede aan. Ons woorde bewerk dikwels die dinge wat hulle voorspel. Daarom dien ons woorde die goeie of die kwade, want dit veroorsaak liefde of haat, hoop of wanhoop, vrede of stryd.

Daarom kan die Bybel sulke ernstige dinge oor ons woorde sê. Jakobus beskryf die tong as ’n klein liggaamsdeeltjie wat tog groot mag het. Hy vergelyk dit met ’n klein vuurtjie wat ’n groot bos aan die brand steek. Dit is ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet en uit die hel aangesteek kan word (Jakobus 3:5–6). Paulus haal in 1 Korintiërs 15:33 ’n gesegde aan: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.”

As ons dit bedink, behoort dit ons baie versigtiger te maak met wat ons sê. Ons sal op grond van ons woorde vrygespreek of veroordeel word (Matteus 12:37). Daarom behoort ons altyd twee keer te dink voordat ons praat. Of nog beter: ons behoort soos die digter van Psalm 141:3 te bid dat God ’n wag voor ons mond moet sit.

Ons behoort elke dag te begin met die gebed dat ons woorde in hierdie dag daartoe sal dien dat ander mense gehelp, getroos, bemoedig en op die regte weg gelei sal word; dat die waarheid gedien en die leuen bestry sal word; dat die koninkryk van God bevorder en die mag van die Bose weerstaan sal word. Die oorgawe van ons tong aan God is ’n noodsaaklike vrug van die oorgawe van ons hart. Ook met ons woorde moet ons God en ons naaste liefhê en eer. -– WDJ