ONS HET ’N AANDEEL
Die Burger, 7 September 1985
Dit is natuurlik dat ons in ’n tyd van onrus en spanning soos ons dit tans in ons land beleef, sal vra na die oorsake daarvan. Uiteraard kan daaroor baie gesê word. Na gelang van ’n mens se eie posisie in die samelewing en die ideale en oortuigings wat jy in ooreenstemming daarmee huldig, sal jy waarskynlik ’n bepaalde opvatting hê oor wie die skuldiges is en wat hulle verkeerd gedoen het. En in baie opsigte sal wat ons daaroor dink, waarskynlik ook ’n groot element van die waarheid bevat.
Dit is egter van die grootste belang dat alle Christene in die land ’n keer ook die hand in eie boesem moet steek en hulself afvra watter aandeel hulle daaraan het dat die situasie ontstaan het. Want dit lê voor die hand dat die Christene in ’n land waarvan die meerderheid van die bevolking van ’n Christelike geloofsoortuiging is, nie sonder invloed op die gang van sake kon gewees het nie. Dit is selfs redelik om te verwag dat, as die Christene werklik soos Christene geleef en hul invloed in die land laat geld het, bepaalde probleme van die samelewing ten minste minder akuut sou gewees het.
Daarom moet ons as Christene ons afvra of ons ons land en al sy mense gedien het soos dit van ons verwag sou kon word, en of ons nie deur ons gebrek aan kennis van en begrip vir die probleme van mense in ander posisies as ons self, of deur ons gebrek aan liefde en barmhartigheid, vriendelikheid en die aanvaarding van mekaar, ten minste ’n aandeel daaraan het dat dit vandag so moeilik is vir mense uit die verskillende bevolkingsgroepe om ook op politieke vlak in groter vrede met mekaar saam te lewe nie.
Dit is net moontlik dat ons as Christene ons land op hierdie punt in die steek gelaat het deurdat ons nie daarin geslaag het om mekaar as Christene op die gewoon menslike vlak te leer ken en waardeer, te verstaan en te respekteer en as medemense mekaar se laste te dra nie. Ja seker, ons het baie gedoen wat nie altyd opgemerk of gewaardeer is nie. Ons sou waarskynlik elkeen tot ons selfverdediging kan aanvoer dat ons nie werklik ander mense haat nie en dat ons altyd geprobeer het om goed te doen en om by te dra tot die verkondiging van die evangelie aan almal. Die vraag is egter of ons ook die liefde gehad het waarvan Paulus sê dat daarsonder alles, maar dan ook werklik alles, uiteindelik niks beteken nie (1 Korintiërs 13:1–3).
Niemand moet die gewig van ons probleme in hierdie land onderskat nie. Ons staan voor uitdagings waarvoor ons nie elders in die wêreld voorbeelde het dat dit suksesvol deurgevoer is nie. Daar is geen maklike resep vir die oplossing van probleme wat saamhang met basiese menslike verhoudinge nie. Ons sal nie daarmee kan slaag sonder die Christelike liefde wat ons moet help om ons probleme in die gees en gesindheid van Christus aan te pak nie. Dit is hier waar ons bydrae as Christene so noodsaaklik is. – WDJ