WAAR BEGIN DIT
Die Burger, 12 Oktober 1985
Ons tyd word gekenmerk deur ’n diep verlange na geestelike vernuwing. Dit is ’n wêreldwye verskynsel, maar in ons land sal dit ook saamhang met die moeilike fase van ons geskiedenis waardeur ons beweeg. By baie van ons leef daar ’n gevoel van beklemming, en dit dryf ons uit tot meer gebed en ’n ernstiger ondersoek van onsself.
Juis dan ontdek ons die lae vlak van ons eie geestelike lewe en die gebrekkigheid van die toewyding aan God waardeur so ’n groot deel van ons Christelike gemeenskap gekenmerk word. Dikwels ontwaak daar dan by ons ’n dringende begeerte na ’n ryker geestelike lewe, en ons begin bid vir vernuwing by onsself en in die Christelike kerke in ons land.
Die term “herlewing” het ’n lang geskiedenis in Christelike kringe. Dit het egter dikwels by ons ’n negatiewe byklank verkry, daarom praat ons liewer van geestelike vernuwing; omdat ons wil aandui dat die soort herlewing wat in ons eie lewe en in die van die Christendom as geheel nodig is, ’n ander karakter behoort te dra.
Egte vernuwing is nie noodwendig ’n emosionele belewing van talle mense rondom massasaamtrekke nie, maar begin by enkelinge wat in stille inkeer tot God ’n nuwe verhouding met Hom vind, en vandaar brei dit uit oor talle ander wat deur dieselfde Gees van God aangeraak word en tot ’n nuwe ontdekking van die vreugde van ’n geloofsverdieping kom.
Die eerste wat met sulke mense gebeur, is dat hulle tot ’n ingrypende besef van eie skuld en sonde voor God en teenoor die medemense gebring word. Sonder skuldbesef is geen betekenisvolle vernuwing van ons geestelike lewe moontlik nie. Ons moet eers die verkeerdheid in onsself ontdek, nie maar net in ’n algemene en oppervlakkige sin nie, maar op ’n fundamentele wyse. Op die bodem van al ons geestelike gebrek lê sonde en skuld. Dit blokkeer enige ware groei en verdieping in ons geestelike lewe. Dit moet eers erken en bely word, voordat ons na die beeld van Christus vernuwe kan word.
Die ontdekking van ons eie skuld is reeds ’n teken van die genadige werking van die Gees van God in ons. Ons is van nature geneig om onsself te verontskuldig en te verdedig. Ons soek altyd die skuld vir al wat verkeerd is, by andere. Maar egte geestelike vernuwing begin altyd by ’n ontdekking van eie skuld en die bereidheid om dit voor God en mens te bely. As God ons in sy genade aanraak, bring Hy ons eers tot berou. Eers moet die trots in ons gebreek word voordat ons geseën kan word. – WDJ