SELFOORGAWE
Die Burger, 19 Oktober 1985
Die skuld en sonde waarvan die Heilige Gees ’n mens oortuig, is nie noodwendig growwe morele oortredinge wat vir elkeen sigbaar is nie. Brutale skendings van die morele gedragskodes is vir elkeen sigbaar en word dan ook meestal deur ons vermy. Dit is moontlik vir die gemiddelde mens om ’n taamlik ordentlike lewe te lei, selfs ’n soort lewe wat volgens die burgerlike maatstaf as onberispelik getipeer sou kon word. Die meeste mense wat hulself as kinders van God beskou, lei miskien ook so ’n soort lewe wat na die uiterlike gemeet, as goed beskou sou kon word.
Dit sou egter fataal wees om te dink dat dit goed genoeg is in die oë van God. Agter so ’n ordentlike lewe lê dikwels nog ’n wêreld van ongeregtigheid in die verborge dieptes van ons hart. Ons slaag dikwels daarin om dit te verberg, en wanneer dit in bepaalde reaksies van ons sigbaar word, voel ons wel sleg daaroor, maar dan meestal omdat ons bevrees is dat ons goeie beeld voor die mense daardeur geskend word, eerder as dat ons werklik voor God berou daaroor het. Op hierdie wyse kan ’n taamlik ordentlike uiterlike lewe saamgaan met ’n wêreld van ongeregtigheid in ons binneste.
Dit is immers daar in die verborge dieptes van ons lewe waar die selfsug en eersug, die selfverheffing en jaloesie, die gemaksug en oneerlikheid, die liefdeloosheid en onreinheid ’n eie domein het. Wie eerlik word met homself, ontdek daar in sy binneste al die kwaad waaraan die wêreld ly in kiem ook by hom aanwesig. Daar is geen enkele sonde wat die mensheid besmet en vernietig, wat nie ook in ons binneste latent teenwoordig is nie.
Dit is dikwels hierdie soort dinge wat heimlik ons lewe in ’n bepaalde rigting stuur en ons blind maak vir die ware kwaad in die wêreld en in onsself. Ook kinders van God kan so aangepas wees by die wêreld, dat hulle uit dieselfde motiewe as die wêreld lewe: Dit beteken dat ons die Gees van God wat in ons woon, voortdurend bedroef en dat dit onmoontlik is om geestelik te groei. Selfs die begeerte daarna word totaal in ons gesmoor. Daarom gaan dit by die egte ontdekking van ons sonde en die bereidheid tot berou en geestelike vernuwing nie in die eerste plek om enkele growwe dinge nie, maar om die ontdekking van die wortel van die kwaad wat nog in ons aanwesig is. Binne ons leef ’n ongebroke sondige self wat teen elke prys weier om homself gevange te gee tot gehoorsaamheid aan die Gees van God. Hoe stil hy homself ook dikwels hou en hoe onopgemerk sy teenwoordigheid soms vir andere mag wees, dit neem niks daarvan weg nie dat hy altyd daar is om homself te handhaaf, te verdedig, te regverdig, te behaag, en om sy eie eer en heerlikheid te soek.
Egte geestelike vernuwing begin by die oorgawe van daardie ongebroke self aan die wil van God. Niks minder as dit is genoeg nie. – WDJ