CHRISTUS WERK ANDERS
Die Burger, 9 November 1985
Die doel van Christus se koms was om ons van ons sondes te verlos. In hierdie opsig is Hy deur baie van sy tydgenote misverstaan. Daar was baie wat die verlossing van Israel verwag het, maar hulle het daarby veral aan politieke bevryding gedink.
In hierdie opsig het Jesus met name die Selote teleurgestel. Sy vlymskerp kritiek teen die Joodse leiers en sy barmhartigheid teenoor die kleines, die armes, die swakkes en die lydendes, het by hulle die verwagting gewek dat Hy die rol van ’n politieke bevryder sou aanvaar en sy volk van vreemde oorheersing sou verlos.
Maar Jesus wou geen politieke Messias wees nie. Hy het Homself van politieke fanatisme gedistansieer deur te sê dat ’n mens aan die keiser moet betaal wat aan hom toekom (Matteus 22:21). Hy het gewaarsku dat almal wat na die swaard gryp, deur die swaard verteer sal word (Matteus 26:52). Die poging om Hom met politieke weerstandsbewegings te verbind het misluk deurdat Hy openlik voor Pilatus gesê het dat sy koningskap nie dié van ’n aardse vors is nie (Johannes 18:36).
Dit is egter verkeerd om hieruit af te lei dat Jesus geen betekenis vir die politieke en maatskaplike lewe het en niks gedoen het aan die sondige situasie van die samelewing nie. Christus het nie minder as die Selote ’n verlossing van die mense uit armoede, lyding en verdrukking gewil nie. Hy het Hom in sy genesings en wondere diep ingelaat met mense se fisieke nood, en ons kan daaruit aflei dat dit ook geld vir die lyding wat mense weens sondige politieke en maatskaplike faktore ondergaan.
Tog is daar ’n groot verskil tussen Christus en die Selote. Hy werk anders as hulle, omdat die tipe verandering van die samelewing wat Hy beoog, nie maar net die omkering van wêreldse magsverhoudinge is nie, maar die revolusie van die liefde wat bereid is om die lewe vir die ander af te lê. Dit gaan veel dieper. Hy bring mense onder die heerskappy van God en bevry hulle daardeur om ook politieke en maatskaplike verhoudinge uit die gesigspunt van liefde en barmhartigheid te begin beoordeel, en nie uit die gesigshoek van eiebelang en haat nie.
Daarom het Jesus nie revolusionêr in die samelewing ingegryp en byvoorbeeld slawerny afgeskaf nie. Dit sou die situasie van sy dae net chaoties gemaak het. Dit was nie daarvoor ryp nie. Maar Hy het slawerny in beginsel deurgebreek met sy boodskap van liefde en die gelykwaardigheid van alle mense voor God. Jesus het ’n proses begin wat op die langduur moes uitloop op die afskaffing van slawerny en die erkenning van die menslikheid van alle mense. En niemand kan vandag meer daaragter teruggaan nie.
Die egte verandering wat die wêreld nodig het, kan nie deur bloed afgedwing word nie, maar moet daaruit voortvloei dat Christus sy Bloed gegee het om ons tot die liefde te bevry. En sy liefde verplig ons om die vryheid van alle mense te wil. – WDJ