ONS MAAI WAT ONS SAAI
Die Burger, 16 November 1985
Die evangelie is ’n evangelie van genade. Dit beteken dat God met ons nie handel na wat ons verdien nie, maar dat Hy uit vrye guns aan ons gee wat ons nie verdien nie: die vergiffenis van ons sonde, die aanneming as sy kinders, die gemeenskap van sy Gees en die ewige lewe wat Christus vir ons verkry het.
Die Bybel leer ons egter dat hierdie boodskap van genade nie beteken dat ons dus maar kan lewe soos ons wil, omdat ons daarmee reken dat God tog genadig is en ons nie ons ongeregtigheid sal vergeld nie. Dan sou ons van die genade iets vanselfsprekend maak, iets goedkoop. Die wese van die genade sou daarmee misken word, te wete dat genade uit vrye guns geskenk word en dus nie vanselfsprekend is nie. Genade kan slegs as ’n onverwagte en onverdiende wonder beleef word, nie as ’n vrybrief vir die sonde nie.
Daarom waarsku die Bybel voortdurend teen sonde en ongehoorsaamheid aan Gods wet, omdat dit volgens Gods orde moet uitloop op die oordeel en die dood. En dit sal ook daarop uitloop as ons ons nie deur Gods genade bekeer en ’n nuwe weg bewandel nie. Dit kom besonder helder tot uitdrukking in die woord van Paulus: “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van die sondige natuur saai, sal van die sondige natuur sonde en dood oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes” (Galasiërs 6:7–8).
Elkeen van ons moet aan onsself daarvan rekenskap gee of ons nie in ons persoonlike lewe, in ons totale lewensopset en in die inrigting van ons samelewing, lustig op die akker van die sondige natuur gesaai het nie. Dit kan maklik gebeur dat ’n mens jou graag op Gods genade en bewaring beroep, maar geen rekening daarmee hou dat die Bybel ons leer dat wie sy eie lewe soek, dit sal verloor nie. As ons ingaan teen Gods bedoeling met ons lewe, sal ons ’n prys daarvoor betaal. Selfs al vergewe God ons as ons berou oor ons sonde het, gebeur dit nog dikwels dat ons die gevolge daarvan moet dra.
Dit laat die Bybel ons duidelik verstaan. God het Dawid se sonde vergewe toe hy in berou om vergiffenis gevra het, maar die bitter gevolge daarvan het oor hom, sy huis en sy volk heengegaan (2 Samuel 12). Ons kan nie Gods wêreldorde versteur en meen dat ons straffeloos daarmee kan wegkom nie. Dit is wel wonderlik dat God in sy genade selfs die slegte gevolge van die sonde kan ombuig om uiteindelik sy saak te dien, maar dit neem nie weg dat daardie gevolge diep en pynlik in ons lewe insny nie.
Die Bybel laat ons ook sien dat waar mense in berou van hul verkeerde pad omgedraai het, God hulle nie net vergewe het nie, maar nog weer wonderlik gebruik het – selfs al het hulle die littekens van hulle sonde met hulle meegedra. God kon uit Jakob ’n Israel maak, uit Simon ’n Petrus en uit Saulus ’n Paulus. Hy kan ook aan ons ’n nuwe toekoms gee, as ons dit wil ontvang. – WDJ