Christus die struikelblok

CHRISTUS DIE STRUIKELBLOK
Die Burger, 21 Desember 1985

Die aanstoot van die Christelike geloof lê nie soseer daarin dat dit aan ons die boodskap bring dat God die almagtige Skepper van hemel en aarde is, dat hy oor alle dinge regeer en van ons rekenskap sal eis oor wat ons met ons lewe gedoen het nie.

Dit is ook, al is dit dikwels in ’n verwronge vorm, die boodskap van ander godsdienste. Daar is ook talle mense wat, selfs al beskou hulle hulself nie as godsdienstige mense nie, ’n sekere besef van die bestaan van God daarop nahou. As die Christendom dus niks meer verkondig het as die Vaderskap van God, sy almag en sy wet nie, sou miljoene mense geen aanstoot daaraan geneem het nie.

Die eintlike aanstoot van die Christelike geloof is die boodskap dat ons God net in Christus reg kan leer ken, omdat Christus die openbaring van die Vader is – God uit God, Lig uit Lig, die enigste Weg tot die Vader, die enigste Middelaar tussen God en die mense. Dit is die eintlike struikelblok, want daardeur word die Christelike geloof van alle ander godsdienstige oortuigings onderskei en vra dit ’n beslissing met betrekking tot Christus as Persoon wat geen kompromis duld nie.

Dit is nie vreemd dat ons altyd weer pogings sien om van hierdie eksklusiwiteit van Jesus weg te kom en liewer op die vlak van die algemeen-godsdienstige terminologie te beweeg nie. Let maar op na mense wat in die openbaar uitsprake met ’n godsdienstige strekking maak. Hulle skram dikwels daarvan weg om die naam van Christus op hul lippe te neem, en praat dus liewer van “ons Skepper” of van “die Opperwese”, of selfs van “die Voorsienigheid”. Dit is of hulle voel dat dit baie minder aanstoot gee om in sulke algemene terme te praat, as om Christus openlik voor die mense te bely.

Dit geld egter ook vir die wyse waarop daar in bepaalde vorms van teologie oor Christus gepraat word. Daar kom ’n voorkeur om liewer oor Hom as Jesus te praat, en dan veral oor Jesus as mens, as historiese figuur. Sy betekenis vir ons word dan veral gesoek in sy unieke persoonlike optrede, sy vryheid, sy liefde, sy vereenselwiging met die armes of sy bereidheid om die hoogste offer vir sy medemense te bring. Al is dit alles waar, kan hierdie klem op Jesus as mens daartoe dien om die ware aanstoot aan Hom uit te skakel. Dit is uiteindelik sy voorbeeld en unieke moraliteit wat so verkondig word, en nie sy middelaarskap nie.

As ons vanjaar Kersfees vier, moet ons onthou dat ons dit alleen reg kan doen as ons dit op die basis doen van die belydenis van die middelaarskap van Christus wat Immanuel is, God met ons – ondanks al die aanstoot wat daaraan vir mense verbonde mag wees. Geloof in Christus is iets anders as algemene godsdienstigheid, waardering vir sy voorbeeld, of die skrywe van sy naam in die vaandels van ons stryd. Dit is die oorgawe aan Hom as Heer en Saligmaker, God self in die vlees, wat vir ons geword het: vryspraak, heiliging en verlossing (1 Korintiërs 1:30). – WDJ