WEERLOOS
Die Burger, 18 Januarie 1986, bladsy 8
Baie van ons kinders is weerloos teenoor die invloede wat vanuit die moderne wêreld op hulle uitgeoefen word, omdat hulle te maklik grootgeword het. Hulle het nie die moontlikheid om te onderskei waarop dit aankom nie, omdat ons hulle dit nooit geleer het nie.
Die na-oorlogse tyd was vir ons land ’n tyd van ongekende ekonomiese groei en vooruitgang. Veral die blanke bevolkingsdeel het daarby baie baat gevind in die sin dat dit voorregte ontvang het wat vroeër ongedag was. Ons hele lewenspatroon het verander, en daarmee ook ons lewensinstelling. Ons het aan weelde gewoond geraak, waar ons voorouers armoede en swaarkry geken het. ’n Paar geslagte kinders het onder ons opgegroei in ’n atmosfeer van oorvloed en materialisme wat vir enige gemeenskap gevaarlik is.
Daarby het die maatskaplike en politieke koers van ons land juis in hierdie tyd meegebring dat ons kinders tot groot hoogte afgeskerm is van die armoede en ellende wat onder ander dele van ons bevolking geheers het. Waar hulle dit nog raakgesien het, het dit hul hart nie geraak nie, omdat die kontak met sulke toestande oppervlakkig en sonder die geleentheid tot deernisvolle meelewing daarmee was. In elk geval het hulle nie genoegsaam geleer om hulle daarmee in te laat of hulle te vereenselwig met die nood van andere soos die Evangelie dit van ons vra nie.
Mense wat dit te maklik het, leef in ’n onwerklike wêreld. Die werklike wêreld, ook in ons land, is ’n wêreld van pyn en swaarkry. Wie daarvan geen kennis het nie, mag op ’n dag vind dat hy volkome weerloos is om met die pyn van die werklike lewe om te gaan, sonder om psigies en geestelik daaronder te knak. Wanneer ons jeug gekonfronteer word met die saak van die ander mense in ons land, staan hulle voor ’n situasie wat hulle nooit leer hanteer het nie, eenvoudig omdat hulle dit nie ken nie. En veral diegene onder hulle wat sensitief is, val dan baie maklik ten prooi van ideologieë wat juis die realiteit van hierdie ellende tot vertrekpunt neem en diep in die sagte vlees van so ’n verwende en weerlose mens insny.
Dit help nie om op allerlei maniere die jeug te waarsku teen die gevare van vreemde ideologieë as ons hulle werklikheidsvreemd grootmaak en hulle probeer beskerm teen die dinge waarom dit in die stryd tussen die ideologieë gaan nie. Die beste beskerming teen sulke vreemde ideologieë is kennis van die Evangelie wat ons leer om vry te word van materialisme en hebsug, selfsug en genotsug – en ons hart daarop rig om uit liefde te worstel met die werklike probleme van ander mense, nie net met ons eie begeertes en behoeftes nie.
Wie dink dat ons ons eie kindertjies in weelde kan grootmaak sonder om te dink aan die minderbevoorregte kinders rondom ons, stel ’n tydbom onder die toekoms van ons jeug. Hulle sal ons daaroor verwyt, en ons sal geen antwoord hê nie – WDJ