Die grootheid van God

DIE GROOTHEID VAN GOD
Die Burger, 1 Februarie 1986, bladsy 10

Meer as een denkende mens ondervind in ’n bepaalde stadium van sy lewe dat die naïewe soort voorstelling van God wat hy van sy kinderdae meebring, vir hom problematies word. Dit is veral die beeld van God as ’n groot Persoon wat êrens in die hemel woon en oor Wie op ’n alte menslike wyse gedink word, wat dan vir hom onaanvaarbaar word. Die gevaar is dan dat hy saam met die kinderlike voorstelling van God ook sy geloof in God as sodanig bevraagteken.

Die vraag watter voorstelling ons van God het, is vir die geloof nie sonder betekenis nie. ’n Paar dekades gelede is talle geskok deur die boekie “Honest to God” van die destydse Anglikaanse biskop John Robinson. Hy betoog daarin dat ’n mens met ’n moderne wêreldbeeld nie meer aan God kan glo as ’n Wese “up there” of selfs “out there” nie, maar dat hy God vir homself moet voorstel as die grond van sy eie wese (“the ground of our being”). Daaruit lei Robinson af dat die idee van God as ’n transendente en persoonlike Wese prysgegee moet word, en dat aan God eerder gedink moet word as die dimensie wat aan die menslike lewe waarde en betekenis gee.

Die fout van Robinson is dat hy oor God nie meer as die God bo en buite ons wil dink nie. Dit het ingrypende gevolge vir ons hele godsdienstige belewing soos die Bybel dit aan ons voorhou. Maar dit is natuurlik waar dat ons nie ’n infantiele voorstelling van God daarop moet nahou en dus te klein oor God moet dink nie. Dit veroorsaak allerlei probleme wat verhoed kon gewees het as ons sou verstaan het dat God te groot is vir enige voorstelling wat ons van Hom kan maak.

Hy oorstyg en oortref ons denke, omdat Hy in ’n totaal ander kategorie as die geskape dinge val. Alle woorde wat ons gebruik om oor God te praat, selfs dié wat deur die Bybel in ons mond gelê word, dra ’n analogiese karakter en is aan ons menslike ervaringswêreld ontleen. Hierdie woorde druk wel die waarheid oor God uit, omdat hulle ons leer hoe God in sy verhouding tot ons is, maar hulle is nie bedoel om aan ons ’n soort visuele voorstelling van God te bied nie. Ons kan maklik te klein oor God dink as ons op grond van die mensvormige uitdrukkings wat van God gebruik word, Hom ook onwillekeurig vir ons mensvormig voorstel.

God moet egter nie mensvormig voorgestel word nie. Selfs wanneer die Bybel in persoonlike terme van God praat, moet ons Hom nie vir ons as ’n groot menslike persoon voorstel nie. Ook as Persoon oorstyg God al ons voorstellinge. Die Bybel praat oor God in sulke terme as dat Hy die Liefde is, die Lig en die Lewe. In Hom leef en beweeg en is ons. Inderdaad sou ons kon sê dat God die Grond en Mag is waaruit alles wat bestaan, voortkom en waardeur dit gedra word. Tog val God nie met die skepping saam nie. Hy oorstyg dit en hou dit in sy hand. Hy is op ’n onvoorstelbare wyse die Werklikheid van die werklikheid en die Heer daarvan. Dit oortref al ons voorstellinge. WDJ