IS GOD AFWESIG?
Die Burger, 8 Februarie 1986, bladsy 12
Baie moderne mense het die ervaring dat God afwesig is, pynlik afwesig, in die wêreld. Hulle sou so graag besliste bewyse van sy teenwoordigheid wou ervaar, tekens wat nie weerspreek kan word nie, ontmoetings met Hom wat nie betwyfel kan word nie.
Maar wie van ons ken nie hierdie begeerte nie? Veral in dae van droefheid en teleurstelling sou ons graag sy hand op ons skouer wou voel, die warmte van sy nabyheid wou ervaar. Maar juis dan voel dit soms asof God so ver weg is. Eintlik is dit ’n ervaring van alle gelowiges deur die eeue. Die Psalms getuig dikwels daarvan.
Maar hoe laat God ons dan sy teenwoordigheid ervaar? Hoe laat Hy ons weet dat Hy vir ons omgee? Dikwels word gesê dat ons Gods troos ervaar in die troos wat ander mense ons bied. Dit is seker waar, maar dit kan nie die volle antwoord wees nie. En vir baie mense voel dit asof so ’n antwoord daarop neerkom dat Gods troos niks anders beteken as die troos van die medemens nie, sodat húlle sê: Maar dan is dit mos nie God wat my troos nie, maar my medemens. Waarom praat ons dan nog van die troos van God, as dit nie iets anders is as die troos van ons medemense nie?
Op hierdie vrae is daar maar net een antwoord: God troos ons deur sy Woord en Gees. Die beloftes van sy Woord waarin Hy aan ons die versekering gee van sy allerinnigste betrokkenheid by ons hele lewe, roep ons daartoe op om dit te glo en daarop te vertrou dat dit so is. En as ons dit glo, ontvang ons deur die werk van die Heilige Gees die innerlike sekerheid dat dit waar is en word ons gemoed aangeraak, om tot stilte in God te kom en so sy teenwoordigheid te ervaar.
As ons eenmaal in die geloof die beloftes van Gods liefde aanvaar – en dit is nodig om dit maar telkens weer te doen – dan merk ons ook op hoe daar talle dinge is waarin God sy liefde aan ons kenbaar maak. Dit kan dan deur die lees van die Bybel wees, of deur die liefde van medemense, deur spesifieke dinge wat met ons gebeur of deur die stille omgang met God in ons binnekamer. Deur die geloof verstaan ons dat God self van al hierdie weë gebruik kan maak om sy liefde teenoor ons te bevestig.
Ons lewe nou eenmaal deur geloof en nie deur aanskouing nie. Wanneer ons nie deur die geloof vashou aan die beloftes van Gods liefde en teenwoordigheid nie, sal ons ook nooit die ervaring daarvan smaak dat dit ’n werklikheid is nie. Ons kan nie op ons gevoel staatmaak nie, want dit is dikwels juis waar dat as ons voel asof God ver van ons af is, Hy dan baie naby is.
Wanneer ons egter begin om Gods belofte te glo en sy liefde en teenwoordigheid te aanvaar, sal die gevoel van verlatenheid plek maak vir die gevoel van vertroosting en vreugde, omdat God by ons is. En dan sal ons soos Paulus ervaar dat God ons op veelvuldige wyses troos en bemoedig (2 Korintiërs 1:3–7). Want God is nie afwesig in die wêreld nie. Hy is dikwels net vir ons gevoel afwesig, omdat ons die geloofsoog mis wat Hom in alle dinge raaksien. – WDJ