’N NUWE WEG
Jonker, WD. 1986. “’n Nuwe weg” in Durand, JJF. Teks binne konteks. Versamelde opstelle oor kerk en politiek. Publikasie van die Universiteit van Wes-Kaapland. p 7-12
’n Nuwe weg
Dit was in 1960 dat ek Jaap Durand vir die eerste keer in Amsterdam ontmoet het, waar hy destyds besig was om aan sy doktorsgraad in Sendingwetenskap te werk. Van die begin af het ons aansluiting by mekaar gevind en deur die loop van jare het die vriendskap tussen ons inniger geword.
In 1973 was ek mede-eksaminator toe hy in Stellenbosch onder die promotorskap van prof. FJ.M. Potgieter sy tweede doktorsgraad behaal het hierdie keer in die dogmatiek. Sedertdien het ons die voorreg gehad om baie nou met mekaar saam te werk op die terrein van ons gemeenskaplike vakgebied. Verskillende bande van ons gesamentlike reeks Wegwysers in die Dogmatiek het reeds die lig gesien. Dit is daarom vir my ’n voorreg om by geleentheid van die publikasie van hierdie bundel my beste wense aan ’n gewaardeerde vriend en kollega oor te dra. Ek doen dit deur ’n paar opmerkinge te maak oor die teologiese weg wat hy tot dusver bewandel het, ’n weg in meer as een opsig binne ons Suid-Afrikaanse teologiese opset as ’n nuwe weg beskou kan word.
Uiteraard bied hierdie bundel versamelde artikels nie die volle beeld van sy teologiese werksaamheid nie. Teologies het hy baie meer pyle op sy boog as wat hier in ’n bepaalde seleksie bymekaar gebring is. As ’n mens Durand as teoloog wil beoordeel, moet jy nie in die eerste instansie na ’n aantal geleentheidstoesprake en referate van hom kyk nie, maar na sy groter publikasies. Tog kan ook nie gesê word dat hierdie artikels nie die aard van sy teologiese denke en metode reflekteer nie. Hulle vorm in ’n sekere sin die praktiese neerslag van sy soort teologie soos dit in die konteks van die Suid-Afrikaanse situasie deur homself toegepas word.
As ’n mens in ’n enkele term die aard van Durand se teologiese metode moet aandui, is dit die beste om te sê dat dit Bybels-histories is. Daarmee bedoel ek dat dit beoog om ’n konsekwent-bybelse teologie te wees maar dan in dié sin dat die historiese karakter van die bybelse waarheid én die historiese karakter van die verstaan daarvan ten volle in berekening gebring wil word.
Durand merk êrens self op dat hy by Berkouwer geleer het dat die gereformeerde geloof veel meer inhou as ’n blote aanvaarding van ’n paar “ewige waarhede”; dat dit in feite ’n opwindende weg is om met die bybelse boodskap in ’n dinamiese proses te bly worstel, d.w.s. om die Bybel werklik ernstig op te neem in ’n voortgaande, telkens nuwe hermeneutiese proses. In hierdie uitspraak bied hy ’n kompakte samevatting van die wyse waarop hy self bedoel om met die teologie besig te wees. Hy wil ‘n bybelse teoloog wees, maar di tis volgens sy besef alleen moontlik wanneer ’n mens nie op ’n abstrakte en skolastieke wyse met die Bybel besig is, d.w.s. op ’n a-historiese wyse daarmee omgaan nie. Die aard van die Skrif self roep om ’n historiese benadering daarvan, maar ook om ’n telkens nuwe luister na en verstaan van die Skrif in die konkrete situasie waarin ons ons bevind.
Dit verklaar die groot voorliefde van Durand vir die verskaffing van historiese perspektiewe in sy omgang met die dogmatiek. Vir hom is dogmatiek nie sonder dogmageskiedenis denkbaar nie, maar ook nie sonder die geskiedenis van die teologiese denke nie. Dogmatiese vrae kan nie aangepak word, sonder om deeglik kennis te neem van die probleem-historiese ontwikkeling daarvan en die vrae wat in die geskiedenis in verband daarmee gestel is nie. Daarom is ’n min of meer wysgerig-meditatiewe dogmatiek wat die historiese herkoms van die dogmatiese problematiek ignoreer en probeer om direk uiteen te sit wat daar in ’n bepaalde punt van die kerklike belydenis opgesluit lê, vir Durand onaanvaarbaar. Eweneens kan hy nie die weg gaan van ’n min of meer eksegetiese aftasting van die geloofsinhoud van die kerk, sonder om rekening te hou met die dinamiese historiese proses van verstaan wat aan ons tyd voorafgegaan het nie. Die nuwe weg wat Durand in die dogmatiek probeer bewandel, is dat hy die hermeneutiese vraag as historiese vraag ernstig wil opneem, om juis só in gemeenskap met die kerk van alle eeue na die betekenis van die geloofswaarheid in ons tyd en situasie te vra.
’n Mens kan maar na sy groter geskrifte kyk om die bewys van hierdie steling te vind. Sy studie oor Thomas van Aquino (Heilsgeskiedenis en die dialektiek van syn en denke) is maar één voorbeeld hiervan. Dit is egter ’n uitstekende voorbeeld, omdat daarin min of meer die grondlyne van sy dogmatiese metode in ’n worsteling met die skolastiek en die modernistiese subjektivisme blootgelê word. Sy vaste oortuiging van die heilshistoriese aard van Gods openbaring en die historiese aard van alle menslike verstaan van Gods openbaring sluit vir hom die weg af na enige vorm van skolastiek, maar ook na enige vorm van subjektivisme wat nie die historiese Skrifwoord self ernstig opneem nie, maar op een of ander wyse telkens weer daaroor gaan heers.
Dit is nie vreemd dat Durand homself deurgaans besig gehou het met die vraag hoe die Woord van God deur die mens in sy konkrete historiese situasie gehoor en gehoorsaam kan word nie Met sy afwysing van die Skolastieke weg waarop die Skrif tot ’n aantal “prinsipes” gereduseer word én sy afwysing van die subjektivisme van die sg. “nuwe hermeneutiek”, bly daar vir hom maar één weg oor: die weg van die geduldige luister na die goddelike heilswoord soos dit in die Skrif tot ons kom, ten einde die bedoeling daarvan te hoor en dááraan in ons konkrete lewe te gehoorsaam. In hierdie verband word die historiese situasie waarin die mens na die Woord van God luister, uiteraard van die grootste belang. Die Woord van God is nie abstrakte prinsipes wat deur ons op een of ander wyse in eie wysheid op die werklikheid toegepas moet word nie. Die Woord van God is die boodskap van Gods heil wat in die geskiedenis ingaan en juis dáár konkreet heil stig, die heil wat in Christus Jesus geopenbaar is. Gehoorsaamheid in die konkrete situasie kan dus alleen gehoorsaamheid wees aan die evangelie van Gods heil wat ons wêreld en lewe aanraak en verander.
Durand se skerpste kritiek teen die teologiese regverdiging van apartheid is dat dit ’n situasie-gebonde teologie verteenwoordig waarin die historiese ervaring van die Afrikaner ’n beslissende rol speel om die verstaan van die relevansie van die Skrif in sy heilshistoriese skopus te blokkeer. Dat dit so kon funksioneer, is moontlik gemaak deurdat die Skrif self nie meer in sy heilshistoriese karakter aan die woord kon kom nie, aangesien die Skrif op ’n biblisistiese wyse gebruik is om bepaalde “beginsels” te ontdek wat dan deur die teoloog as subjek in ’n rasionele objektiveringsproses van toepassing gemaak word op die situasie. Hierdie soort omgang met die Skrif het die Ned. Geref. Kerk geërf uit die Ortodoksie wat deur middel van die Nederlandse teologie ’n groot invloed in ons land uitgeoefen het. Hierdie soort omgang met die Skrif, so oordeel Durand dan, open die moontlikheid om vanuit eie voorstellings en sienswyses, vanuit eie situasie en ervaring, beginsels in die Skrif in te lees – in die onderhawige geval dan die beginsel van “volkereverskeidenheid”. Die Skrif ken wel volkereverskeidenheid as ’n praktiese gegewene, maar maak nêrens daarvan ’n prinsipe nie. Deur ’n prinsipe te maak van wat in die Skrif self nie ’n prinsipe is nie, meen Durand, word die Ned. Geref. Kerk dan, ondanks alle opregte belydenis van die gesag van die Skrif, op ’n weg gelei wat juis die boodskap van die Skrif vir die konkrete situasie in Suid-Afrika nie tot sy reg kan laat kom nie.
Daarmee bedoel Durand natuurlik nie om te sê dat die situasie waarin die Woord van God gehoor word, nie belangrik is nie. Natuurlik sal die situasie waarin ‘n mens na die Woord van God luister, altyd ook ’n rol speel in wat jy in die Skrif hoor. Gods Woord is bedoel om in ons situasie gehoor te word en is ook op ons situasie afgestem. Teologie sal altyd in ’n bepaalde sin ’n “kontekstuele” karakter moet dra, as dit ten minste egte teologie is. Ook Durand se eie teologie dra ’n kontekstuele karakter: sy situasie as evangeliedienaar en teoloog wat “aan die ander kant” van die kleurskeidslyn werk, is nie sonder diepgaande invloed op sy insigte nie, soos die leser maklik ook uit hierdie versameling van artikels sal kan vasstel. Daarom is dit ook nie vreemd dat hy uitdruklik verklaar dat die situasie waarin die kerk hom bevind, ’n duidelike woord meespreek in die keuse van ’n spesifieke Jesusbeeld waarop meer klem gelê word as op die ander beelde van Jesus wat in die Skrif voorkom nie (vgl. sy artikel: Jesusbeeld en Lewensituasie). Daarom het hy ook begrip daarvoor dat daar onder die swartmense in Suid-Afrika steeds meer voorkeur kom vir die beeld van Jesus as die Bevryder.
Dit is dus nie Durand se beswaar teen die teologiese regverdiging van apartheid dat dit vanuit ’n bepaalde situasie na die Woord van God vir ons vra nie. Sy beswaar hang daarmee saam dat hy van oortuiging is dat die heilsboodskap van die Skrif self die kriterium is by die vraag of ons die Woord van God in ons situasie reg hoor en verstaan. Wanneer ’n bepaalde interpretasie van die Skrif die heilshistoriese skopus van die Skrif misken; wanneer dit nie meer moontlik is om vanuit ons interpretasie van die Skrif in ons situasie direk deur te kyk tot in die hart van Gods heilswil met die wêreld nie dan het daar êrens iets verkeerd gegaan. Dan het ons situasie, of ons interpretasie daarvan, oor die Skrif gaan heers, en het ons nie meer na die eie boodskap van die Skrif geluister nie.
Hierdie kriterium van Durand sny na twee kante toe. Dit tref nie net diegene wat apartheid teologies wil regverdig nie. Dit tref ook alle vorme van kontekstuele teologie wat die situasie sell tot hermeneutiese prinsipe verhef, of wat deur ’n ideologiese interpretasie van die situasie die Skrif annekseer vir ’n nuwe soort politieke teologie. Durand waarsku dan ook diegene wat in bevrydingstaal oor Jesus praat, dat hulle daarteen moet waak om nie met ‘n eensydige Jesusbeeld te werk nie: “Dit is daarom noodsaaklik dat diegene wat bevrydingstaal gebruik, dit in alle omstandighede duidelik sal maak dat dit ook binne die bevrydingstrewe om die totale Jesus gaan.” Die kriterium van die Skrif vir hoe daar oor Jesus gedink moet word, is duidelik: as in enige verkondiging aangaande Jesus die betekenis van die kruis weggesyfer word, betree ons ’n gevaarsone. Want dit is inderdaad moontlik om ’n Jesus te verkondig wat nie die Christus van die Skrifte is nie, aldus Durand.
Die groot sorg wat Durand beweeg, is dus dat dit in ons beroep op die Skrif werklik die Skrif self sal wees waarop ons ons beroep, en nie ’n selektiewe greep wat bestaan uit ’n aantal tekste wat op ’n biblisistiese wyse saamgevoeg word nie. Daarom kan ons Skrifberoep alleen in die regte baan beweeg as ons rekening hou met die aard en omvang van die Skrifgesag en met die vraag op watter manier die Skrif ’n lig op ons lewenspad wil wees. In hierdie verband is Durand duideliker in sy bestryding van wat verkeerd is, as in sy tekening van die weg wat ons moet gaan om hierdie lig in waarheid op te vang. Hy sê self dat dit moeiliker is om in die prediking konkreet en aktueel te sê hoe dit in politieke en sosiaalmaatskaplike kwessies moet wees, as wat dit is om kritiek uit te spreek teen wat daarin verkeerd is. In elk geval weet ons dat hy van oortuiging is dat elke beroep op die Skrif in hierdie verband altyd transparant moet wees tot op die sentrale heilsbedoeling van die Skrif.
Natuurlik is dit nie eenvoudig om ’n maklike en reglynige resep te bied vir hoe so ’n beroep op die Skrif tot stand moet kom nie. Dit blyk dat Durand hier wil uitgaan van wat hy die interaksie tussen die lewende Woord van God en die lewende gemeente noem. Dit is die lewende gemeente wat vir hulleself en vir die wêreld waarin hulle woon, die Woord moet vertolk in ’n taal wat verstaanbaar is, omdat dit ’n betrokke taal is. “Maar hiervoor kan ons gewoon die Bybel vertrou, omdat dit die één woord is wat altyd verbysterend betrokke is, dit wil sê as ons nie in die weg van die Woord gaan staan nie. Dit doen ons wanneer ons die bybelse betrokkenheid wegselekteer of van sy baie konkreetheid algemene beginsels maak wat niemand se gewete meer aanspreek nie. Laat ons egter die Woord toe om sy vrye loop te neem, sal ons verbaas staan oor die baie tale waarin hy die hart van die mens aanspreek” (Bybelse taal en menslike taal in die Suid-
Afrikaanse opset).
Maar genoeg; reeds hierdie enkele opmerkinge behoort genoeg te wees om ons daarvan te oortuig dat die teologie van Jaap Durand aandag en beoordeling verdien in ons interne teologiese gesprek in Suid-Afrika. Die ergste ding wat met teoloë kan gebeur, is dat hulle werk nie gelees en krities geëvalueer word nie. As ons moet vorder op die weg na ’n eie inbreng in die internasionale teologiese bedryf, sal ons mekaar moet help deur onderlinge kritiek, stimulering en waardering. Ons is dit aan mekaar verskuldig.
Durand sê van homself dat hy ’n “redelik konserwatiewe gereformeerde teoloog” is. Ek het geen twyfel daaroor dat dit die geval is nie. Hy kon selfs maar die kwalifiserende woord “redelik” laat wegval het. Wat anders maak ’n mens gereformeerd, as die passie vir die luister na die Skrif as die betroubare Woord van God wat in alle dinge gesag oor ons het en elke gedagte gevange wil neem tot gehoorsaamheid aan Christus? Wie Durand se werke ken, sal weet hoe hy voortdurend teruggryp op die Skrif, op die Reformasie, op die belydenisskrifte, op Calvyn. Juis as ’n gereformeerde teoloog wil Durand dus ook besig wees met die aktuele vrae van ons tyd. Wat is meer gereformeerd as die hartstog vir die heerskappy van Christus oor elke “duimbreed van ons werklikheid”?
Of hy altyd suksesvol is in die wyse waarop hy Woord en werklikheid op mekaar wil betrek, moet die leser self beoordeel. By geleentheid van die publikasie van hierdie bundel is dit egter gepas dat ons ons dankbaarheid betuig dat daar sulke teoloë in ons land is – teoloë wat in diepe respek vir die gesag van die Skrif daarvan oortuig is dat die Woord van God werklik die lig op ons pad en die lamp vir ons voet is, tot in die verste konsekwensies van die praktyk.
Mag God sy weg en werk verder seën!
Willie Jonker