HEMELVAARTSDAG 8 MEI 1986
Stellenbosch-Wes
Lees: Luk. 24:50-53: Kol.1:1-12
Teks: Kol. 3: 1-3.
Broers en susters en ook geagte Luisteraars wat met ons verbind is, vergun my om op hierdie Hemelvaartsdag u aandag vir ons teksgedeelte te vra. Dit wys ons eerstens op
1. Die posisie van Christus.
Op Hemelvaartsfees vier ons die oorwinning van Christus oor die magte van die duiwel, die dood en die sonde en Sy verhoging tot die posisie van mag en majesteit aan die regterhand van die Vader. Wat dit presies inhou, gaan ons begrip te bowe. Die N.T. soek na telkens nuwe begrippe om die grootheid, onvergelyklikheid en absolute sentraliteit van die posisie wat Christus daarmee inneem, aan ons deur te gee.
Die Bybel sê aan ons dat aan Hom alle mag in die hemel en op aarde gegee is en dat die Vader deur Hom alle dinge regeer. Die hemelvaart bevestig en bekroon die opstanding van Christus uit die dood. Dit sê aan ons dat Christus die Here, is dat Hy van God ’n Naan ontvang het wat bo elke Naam is, dat Hy die oorwinnaar oor alle magte is en dat in sy Naam elke knie sal moet buig. In sy hande rus die gang van die geskiedenis. Hy bepaal die gang van sake. Hy sorg vir die voorgang en triomf van sy koninkryk. Niks kan die heerskappy aan Hom ontruk nie. Onstuitbaar is Hy deur die geskiedenis op weg na die voltooiing van sy ewige Ryk en niks en niemand is teen sy mag bestand nie. Hy is die Here van die here en die Koning van die konings wat klaar oor alle vyande getriomfeer het, maar wat ook die res van die weerstand en opstand teen sy heerskappy sal vernietig en sy vyande sal maak tot die voetbank van sy voete.
Die Bybel leer ons daarby dat hierdie posisie wat Christus sedert sy hemelvaart inneem, die posisie is wat die Vader Hom van alle ewigheid af toegedink het. Die kindjie van Betlehem, die Man van Nasaret, die gegeselde en gekruisigde Jesus – Hy is die Heer oor alle dinge en Hy kan dit met reg wees, omdat Hy van ewigheid af gedeel het in die heerlikheid van God as die ewige Woord van God wat by God was en self God was. Daarom kan die Evangelie ons Jesus ook laat sien as die hart van alle dinge. In Kol. 1:17. e.v. lees ons: “Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand … Hy is die eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. So lees ons ook in Ef. 1:21 dat God Christus aan sy regterhand laat sit, “hoog bo alle bose magte en enige ander vorm van gesag waarvan daar sprake mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as Hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
Die Bybel vra ons om hierdie dinge aangaande Christus werklik te glo. Dit is natuurlik geweldige dinge, vanuit ons ervaring en leefwêreld so vreemd on onvoorstelbaar dat die meerderheid van die mense dit nie kan of wil aanvaar nie. Selfs ons wat aan hierdie soort uitsprake van die Bybel gewoond is, kan ontdek dat ons dit nie werklik glo en daaruit lewe nie. Daar is niks minder as ’n radikale bekering en vernuwing van ons denke nodig, as ons moet dink soos die Bybel ons wil laat dink nie, nl. vanuit hierdie sentraliteit en heerlikheid van Jesus Christus. Die Bybel vra ons om dinge te glo wat ons nooit deur ons natuurlike insig self kan ontdek of vanuit ons natuurlike instelling ooit kan aanvaar nie. Hier gaan dit werklik om dinge wat die Bybel ons meedeel en wat ons daarom op gesag van die Bybel moet glo.
Mag ek u vra: Glo u werklik in hierdie heerlikheid van Jesus? Maak dit werklik vir u saak dat u Heiland en Verlosser aan die regterhand van God is en vandaar oor alle dinge regeer, ja ook oor u en u klein lewe en oor alle dinge wat vir u belangrik is? Bring die oortuiging van sy heerskappy rus in u lewe en vreugde by die gedagte dat niks werklik verkeerd kan gaan nie, omdat Jesus alles in sy hand hou en sy Ryk uiteindelik oor alle weerstand sal triomfeer? Sou ons nie, as ons dit werklik geglo het, in so baie opsigte anders moes gelewe het en anders moes gereageer het nie?
2. Ons deelname in sy heerlikheid
Maar dit bring ons by die tweede waarop ek u aandag wil vestig, dat daar in ons teksgedeelte ook duidelik aangetoon word hoe ons lot onlosmaaklik met dié van Christus verbonde is, sodat sy posisie van heerlikheid alles met ons te make het. Die evangelie leer ons dat niks wat in die NT oor Christus gesê word, net vir Homself betekenis het nie, maar ook vir ons wat aan Hom verbonde is.
Op die groot feesdae Kersfees, Goeie Vrydag, Paasfees en Hemelvaart, vier ons nie slegs wat met Christus gebeur het nie, maar ook wat in en deur Hom met ons gebeur het. Christus het ons vlees en bloed aangeneem en Homself aan ons op sodanige wyse verbind, dat alles wat met Hom as ons Middelaar gebeur het, direk ook met ons gebeur het. Daarom kan die NT so dikwels sê dat ons met Christus gekruisig is en met Hom opgewek is, soos dit ook in ons teks gebeur, ja selfs dat ons saam met Hom ‘n plek in die hemel het (Ef. 2:6).
Omdat Hy ons Middelaar is en ons in Hom ingesluit is, geld alles wat met Hom gebeur het, ook vir ons. Ons is met Hom gekruisig, destyds en toe aan die kruishout en van God uit gesien is dit ‘n werklikheid, ook al merk ons dit nie aan onsself nie. Ons is met Hom opgewek uit die dood, ook al voel ons dit nie. Ons is met Hom verhoog en verheerlik, al ervaar ons dit nog nie. Dit is die dinge wat ons tekswoord wil onderstreep. Ons het saam met Christus gesterwe en ons is saam met Christus uit die dood opgewek, sê ons teks en dit is ’n feit waarvan ons moet uitgaan. Ons lewe is met Christus verborge in God, daar waar Hy aan die regterhand van die Vader sit. Daarom kan ons teks ook sê dat Christus ons lewe is, want wat van Hom geld, geld ook van ons. Hy is ons diepste werklikheid. Ons is nie wat ons is nie, ons is nie wat ons in onsself en in ons aardse gebrokenheid en sondigheid is nie. Wat ons werklik is, in Gods gedagtes reeds is en daarom in werklikheid is, kan alleen aan Christus afgelees en in Hom gesien word. Daarom is daar vir ons teks ook geen twyfel daaraan dat ons eenmaal saam met Christus sal verskyn en aan sy heerlikheid deel sal hê nie.
As die apostel in ons teks praat van die dinge wat daarbo is waar Christus is, dan bedoel hy hierdie werklikhede, hierdie inbegrepenheid van ons lewens in Jesus en in sy triomf oor die sonde, die dood en die duiwel; dan bedoel hy hierdie deelname aan die hemel se lewe van Christus wat reeds verborge ons deel is, maar wat nooit meer van ons weggeneem kan word nie. Ons lewe is saam met Christus verborge in God. Ons is nie meer verlore nie. Ons is nie reddeloos nie. Ons is nie meer vir onsself verantwoordelik nie. Ons is nie uitgelewer aan die vlees, die sonde en die duiwel nie. Ons is nie meer onderworpe aan die noodlot of die toeval of die magte wat op die aarde of onder die aarde is nie. Ons is ons Heer se eiendom en by Hom is ons veilig en geborge. Saam met Hom het ons reeds ‘n plek in die hemel.
Weer vra ek u: Glo u dit werklik? Glo u dit aangaande Christus en aangaande uself? Ek vra nie of u dit ervaar en dus kan glo op grond van wat u in uself vind nie, maar of u dit glo op grond van die Bybel. Ons sê so maklik dat ons glo wat in die Bybel staan, maar as dit op hierdie punt kom, dan wil ons nie glo wat God sê nie, maar wil ons ons sekerheid bou op wat ons gedoen of ervaar het. Tog bestaan die ware Christelike geloof daarin dat ek God op sy Woord neem, juis ook wanneer Hy aan my sê wat my posisie in Christus is. Ek pleit by u: Glo dit tog; glo dit aangaande uself en prys God daarvoor dat dit waar is!
5. Die konsekwensies vir ons lewe
Maar dit bring ons by die derde aspek wat ek wil beklemtoon. Dit is dat die geloof in die heerlikheid van Christus en ons verbondenheid met Hom geweldige konsekwensies vir ons aardse lewe inhou. Dit sien ons in die oproep wat in ons teks tot ons kom. Ons teks roep ons daartoe op om hierdie werklikheid van ons inbegrepenheid in Christus se posisie van heerlikheid ernstig op te neem en daarna te strewe om die waarheid daarvan in ons aardse lewe sigbaar te laat word.
‘n Mens se lewenswandel word bepaal deur die dinge wat jy glo. Dit beheers jou denke en bepaal jou strewe. Wat die Bybel van ons vra, is om ons strewe en ons denke te laat bepaal deur die dinge daarbo, waar Christus is, d.w.s. deur die hemelse heerlikheid wat Christus reeds besit en waarin ons saam met Hom deel. Daarmee moet ons onsself besig hou. Dit moet vir ons die gewigtigste dinge van ons lewe wees. Ons hemelse werklikheid en ons hemelse bestemming moet die koers van ons lewe bepaal. Ons lewe op aarde moet daardeur gestempel word. Soos ons lewe in die hemel verborge is in Christus, so moet die verborge lewe van Christus op die aarde in ons geopenbaar word.
Wie uit die sekerheid leef dat sy lewe veilig met Christus verborge in God is, wie die hemelse heerlikheid vas en seker kan verwag en dit as die einddoel van sy lewe sien, moet noodwendig op die aarde anders lewe as die mens wat sy oë net op die aarde gerig hou en net met die aarde rekening hou. Die Bybel vra ons om ons lewe en strewe, ons denke en ons begeertes, ons planne en ideale, ons handel en ons wandel te laat beheers deur die hoop op die heerlikheid wat vir ons wag.
Dit beteken nie dat ons opgeroep word om ons aan die aardse lewe te onttrek en ons so met die hemel besig te hou, dat ons nie meer oog het vir of verantwoordelikheid aanvaar vir wat op die aarde gebeur nie. Dit sou ’n misverstand wees om hierdie teks so te interpreteer. Hierdie misverstand het soms in die geskiedenis van die Christenheid voorgekom en dan was daar Christene wat hulle in kloosters teruggetrek het, of andere wat hulleself net besig gehou het met hulle eie godsdienstige ervaringe en genietinge en die aardse lewe maar aan homself oorgelaat het, asof ons as Christene geen taak daarin het nie. Dit is egter nie die bedoeling van hierdie teks nie. Inteendeel hierdie teks roep ons op om juis op aarde na die hemelse dinge te strewe, d.w.s. midde in ons aardse lewe te lewe soos mense met ‘n geheim, die geheim van hulle geborgenheid in Christus, die geheim van die sekerheid van sy triomf oor alle dinge, wat vir hulle beteken dat hulle nie meer leef vanuit die gedagtes en oorweginge van die sondige ou geaardheid nie, maar vanuit die oorweginge van die nuwe mense wat hulle in Christus is.
Du blyk uit die vermaninge wat op ons teks volg, waarin daar nie gesê word dat die aardse lewe as sodanig vermy moet word nie, maar dat in die aardse lewe die dinge doodgemaak moet word wat aan die sondige aarde behoort, soos onsedelikheid, leuentaal, liefdeloosheid, onreinheid, selfsugtigheid. Dit is die dinge wat by die ou mens hoort, by die mens wat deel is van die gevalle skepping en daarom geen hemelse horison ken nie. Natuurlik is sulke dinge nog in die lewens van die gelowiges aanwesig, maar dit behoort tot hulle verlede. Dit lê agter hulle rug. Hulle moet dan ook hulle rug daarop draai en daarvan wegbreek. Hulle moet dit doodmaak. Hulle mag nie leer lewe by die sentimente en begeertes van die ou mens nie.
Dit beteken dat hulle nie meer hulleself moet soek nie en ook nie meer die dinge wat vir die ou mens so belangrik is nie, soos die genot van die rykdom, die wellus van die vlees, die heerskappy oor die medemens, e.d.m. Die ou mens leef sy lewe in haat en onversoenlikheid, omdat hy net homself liefhet, maar so behoort dit by gelowiges nie te wees nie. Christene behoort die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek. Hulle behoort verlos te wees van die vrees en die sorg, die angs oor hulle eie lewe en toekoms en hulle behoort daarna te strewe om op alle terreine van hulle lewe, of dit nou die huwelikslewe, die kulturele, ekonomiese of politieke lewe is, nie meer beweeg te word deur die sondige begeertes en oorweginge wat uit die sondige ou geaardheid kom nie. Hulle behoort te dink en te redeneer vanuit die koninkryk van God en te lewe vanuit die verborge lewe van Christus in hulle.
En hulle hoef dit nie in eie krag te doen nie, want Christus het die Heilige Gees aan ons gegee om die krag van die hemelse lewe, die hemelse dinge, die hemel se werklikheid in ons oor te bring. Daaroor gaan ons juis in hierdie komende Pinkstertyd nadink en bid. God wil dat ons sentimente, ons beginsels, ons redenasies nie in die teken sal staan van die ou aardse mens nie, maar in die teken van die hemelse werklikheid waaruit ons lewe.
Broers en susters, mag ek by u pleit: Glo tog die Bybel. Glo tog dat Christus werklik getriomfeer het en dat sy saak nooit meer kan misluk nie. Glo dat uself in Christus begrepe is en dat dit van u persoonlik waar is dat u met Christus gekruisig en opgewek is, vir die sonde dood is en lewend is vir die geregtigheid en gaan lewe dan in die wêreld soos kinders van die hemel, kinders van die lig, in liefde en geregtigheid, in eerlikheid en onbaatsugtigheid en blydskap en vertroue op Christus wat aan ons ’n nuwe lewensdoel en ’n nuwe lewensrigting gegee het. Amen.