Aparte kerk ‘is nie Skriftuurlik’

APARTE KERK ‘IS NIE SKRIFTUURLIK’
Die Burger, 23 Augustus 1986
Deur Ons Kerksake-verslaggewer

DIE NG Kerk se beleid van afsonderlike kerke vir die verskillende rassegroepe, soos vasgelê in die beleidstuk Ras, Volk en Nasie, word tans hersien met die oog op die Algemene Sinode wat later vanjaar in Kaapstad sit. Is die huidige beleid uit die Skrif of uit die praktyk afgelei? Is dit in ooreenstemming met die gereformeerde tradisie? Dié vrae word deur PROF. WILLIE JONKER, dekaan van die NG Kerk se Kweekskool op Stellenbosch, behandel in die departement van Bybelkunde se blad, Scriptura. Dit is ter sprake na aanleiding van ’n versoek tot die Algemene Sinode dat die Portugese NG lidmate ‘n afsonderlike kerk moet kry.

FAKTORE wat niks met die Skrif te doen het nie, het ’n groot invloed uitgeoefen op die NG Kerk se beleid om afsonderlike kerke vir die verskillende bevolkingsgroepe te stig, skryf prof. Willie Jonker, dekaan van die teologiese fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch.

Prof. Jonker sê uit die NG Kerk se beleidstuk Ras, Volk en Nasie is dit moeilik om tot ’n ander gevolgtrekking to kom as dat nie-teologiese faktore n groot invloed op die Kerk se standpunt cor afsonderlike kerke uitgeoefen het.

Om ’n aparte kerk vir die Portugese lidmate van die NG Kerk te stig, is nie die Skriftuurlike of die gereformeerde weg nie.

Oor Ras, Volk en Nasie sê prof. Jonker die terminologie en wyse van redenering van Abraham Kuyper het ’n groot invloed daarin gespeel. Kuyper gaan uit van die verskeidenheid van die skepping en lei daaruit af dat mense noodwendig ’n verskeidenheid van geloofsbelewing en geloofsoortuiging sal hê. Dit loop uit op ‘n verskeidenheid van kerke.

Kuyper bepleit ’n veelheid van kerke wat langs mekaar bestaan, asof die kerk sy lewenswet aan die skepping ontleen. “Dit is niks anders as ‘n vorm van natuurlike teologie nie.” skryf prof. Jonker.

Dié teologie kan nie ’n beroep op die Skrif doen vir sy redenering nie, maar grond dit op die historiese verloop van sake. Die geskiedenis van die verbrokkeling van die eenheid van die kerk word normatief gemaak en geregverdig.

Prof. Jonker sê Ras, Volk en Nasie sê wel dat die verskeidenheid van kerke wat met die verskeidenheid van volkere saamhang. ’n verskeidenheid binne dieselfde kerk moet wees, en veel klem word gelê  op die “wesenlike eenheid” tussen die verskillende kerkverbande” binne die NG familie van kerke.

“Maar as dit alles gesê en geformuleer is, bly dit uiteindelik tog maar by wat in art. 29 staan: ‘Daarom kan ’n verskeidenheid van volke ook ’n verskeidenheid van inheemse kerke tot gevolg hê.”

Prof. Jonker sê Ras, Volk en Nasie bevat ’n diep innerlike teenstrydigheid. Enersyds wil dit op grond van die Skrif die eenheid van die kerk oor die grense van volk en kultuur heen vashou, maar aan die ander kant wil dit nie die knoop deurhak en praat van ’n verskeidenheid binne die een geïnstitueerde kerk nie.

“Op grond van die verskeidenheid word daar tog maar tot geskeidenheid gekonkludeer.

“Die boodskap van die Skrif oor die eenheid van die kerk word met respek aangehaal, maar as die beslissing moet val oor die konsekwensies wat daaruit vir die situasie van die Nederduits Gereformeerde familie van kerke getrek moet word, dan word allerlei apologetiese argumente gebruik om duidelik te maak dat dit ‘nie nodig is om een kerkverband te hê nie. (RVN, art. 58)”.

Nie-teologiese faktore het ’n groot invloed op die Kerk se standpunt uitgeoefen.

“Die wil om veilig by die eie groep te wees en die vrees om op kerklike terrein oorheers te word deur gekleurde Christene wat met hul groter getalle noodwendig ’n beslissende invloed in ’n gemeenskaplike Algemene Sinode sou hê, weeg waarskynlik baie swaarder as wat verdedigers van die idee van afsonderlike kerke sou wil toegee (of miskien self besef).”

Prof. Jonker se q die prys wat die NG Kerk daarvoor moet betaal, is dat hy in ’n groot mate gemeenskapsarm geword het. Die afsonderlike kerke bring mee dat wit Christene min weet van die lewe en probleme van Christene uit die ander bevolkingsgroepe.

“Hulle word nooit gekonfronteer met die werklike wêreld van hul medebroeders en susters aan die ander kant van die kleurskeidslyn nie, wat dikwels ook die welvaartslyn is.

“Die gemeenskap van die heiliges word wel elke Sondag bely, maar eintlik baie min belewe, omdat die struktuur van kerklike geskeidenheid dit prakties onmoontlik maak om die medebroeder en suster teen te kom in ’n kerklike atmosfeer.

“Die kontak met ander Christene is eintlik net ’n kontak binne die stelsels van arbeid en ekonomie, nooit binne die konteks van die gemeente van Christus nie.

“Geen wonder dat sporadiese kontakte wat kerklik gereël of toegelaat word, as kunsmatig en betekenislooservaar word nie.

Die gebrek aan egte Christelike gemeenskap binne die gemeentes van die NG Kerk is nie sonder verband met die onwil tot Christelike en kerklike gemeenskap oor die grense van volk en ras heen nie.

“Dit is maar deel van die geestelike armoede wat saamhang met die hele afsonderlikheidsindroom wat by baie lidmate in die Kerk ‘n ontoelaatbare groot rol speel.

Prof. Jonker sê die eenheid van die kerk hang saam met die eenheid van God self. God kan nie meer as een volk (kerk) hê nie (1 Pet.2:10), net soos Christus nie meer as een liggaam kan hê nie (1 Kor. 12:12) en die Heilige Gees nie meer as een tempel kan hê nie (1 Kor.3:16-17).

Enige vorm van verdeeldheid word daarom in die Nuwe Testament ten sterkste veroordeel. Al is die eenheid van die kerk in Christus ’n gegewe werklikheid, kan dit geskaad word deur partyskappe, deur afval van die ware evangelie, deur selfverheffing, liefdeloosheid, jaloesie, twis en die onwil om mekaar in liefde te verdra (Ef. 4:2).

Die liefde moet in die eenheid van die kerk sigbaar word, anders, hoe sal die wêreld weet dat die gelowiges dissipels van Christus is (Joh.13.34)?

Prof. Jonker sê die “organiese” eenheid van die kerk neem sigbare vorme aan in dade van liefde vir mekaar, die gemeenskaplike liefde vir Christus en die handhawing van die suiwer evangelie.

Dit is kenmerkend van die gereformeerde kerkvaders dat hulle oortuig was dat dié organiese eenheid van die kerk ook sover moontlik institutêre uitdrukking moet vind, juis om die organiese eenheid te dien.

Deur die eeue het die kerk van die Hervorming nie die verskille in taal, kultuur, volksaard en geloofsbelewing as voldoende grond vir die stigting van aparte kerke beskou nie. Net verskille in geloofsoortuiging was ‘n rede hiervoor.

Die gereformeerde tradisie het nie daaraan getwyfel dat die verskeidenheid ’n verskeidenheid binne die een kerk moet wees nie, skryf prof. Jonker.