Verwyte

VERWYTE
Die Burger, 28 Junie 1986, bladsy 10

Van al die nare dinge waarmee ons mekaar kan pynig, is die neiging om mekaar te verwyt miskien die ergste. Dit is een van die dinge wat die verhouding tussen mense op ’n verskriklike wyse kan versuur, terwyl dit nooit iets kan oplos of ’n situasie kan verbeter nie.

Die probleem is dat verwyte altyd gehanteer word wanneer dit klaar te laat is om nog ’n bepaalde ramp of verkeerde ontwikkeling te voorkom. Gedane sake het tog geen keer nie. Die doel van die verwyte kan dus nie wees om enigiets reg te stel van wat verkeerd gegaan het, of om in enige opsig behulpsaam te wees in die hantering van wat plaasgevind het nie. Dit het slegs één doel, en dit is om seer te maak, om die selfverwyt van die skuldige te vererger, om hom of haar ’n les te leer.

Dit lê so voor die hand om te verwyt; dit kom sommer vanself. In enige rampspoedige situasie soek ’n mens graag na die skuldige. Dit gee ’n bepaalde bevrediging om die skuldige seer te maak, selfs al weet ons dat dit nie iets aan die saak kan verbeter nie.

Dikwels is daardie skuldige ’n lewensmaat of ’n kind van ons, weerloos in hul verslaenheid oor hul dwaasheid waarvoor hulle ’n groot prys moet betaal. In plaas daarvan dat ons hulle bystaan en ondersteun, skep ons ’n bose genot daaruit om hulle nog verder te pynig.

Iets anders as ’n bose genot kan dit nie wees nie, want die persoon wat verwyt doen dit wel vanuit ’n soort innerlike drang, maar tog nie sonder pyn nie. Wie ’n geliefde verwyt en met verwyte pynig, is besig met ’n vorm van selfverwonding. Ons weet dit is verkeerd en ons kry self seer terwyl ons dit doen, en tog is daar ’n bose aandrang in ons om seer te maak, selfs al weet ons dit is futiel.

Hoe ingewikkeld is ’n mens se gees tog! Ons kan wreed wees selfs teenoor diegene wat ons innig liefhet. Ons kan in die greep kom van vreemde en teenstrydige drange in ons eie hart. Aan die een kant kan ons ’n geliefde innig jammer hê en huil oor sy of haar ongeluk, en terselfdertyd kan ons daardie selfde geliefde seermaak met ons verwyte en liefdelose optrede.

Die rede daarvoor kan net wees dat ons selfsugtig in ons liefde vir ons dierbares is. In plaas daarvan dat ons uit liefde aan hulle op ’n onselfsugtige wyse bystand verleen in hul verleentheid of skade, straf ons hulle omdat hulle ons om hul ontwil laat seerkry vanweë ons liefde vir hulle.

Egte liefde behoort anders op te tree. In plaas daarvan om te verwyt, behoort ons die ander juis in sy skade, teleurstelling of skande met ons liefde te omvat, te dra en te troos. Dan verwyder ons hom of haar nie van ons nie. Ons maak ons liefde waar en dra mekaar se laste (Galasiërs 6:2). En so weerspieël ons liefde iets van die liefde van Christus. – WDJ