MOT EN ROES VERNIEL
Die Burger, 5 Julie 1986, bladsy 8
Daar is geen sprake dat die Bybel negatief is teenoor aardse besittings as sodanig nie. Daar kan inteendeel selfs gesê word dat die Bybel, veral in die Ou Testament, rykdom meermale as die bewys van Gods seën sien.
Maar die Bybel is wel uitgesproke daaroor dat ’n mens nooit jou hart aan aardse besittings moet verpand of jou vertroue daarop moet vestig nie. Wanneer dit gebeur, word geld en goed ’n afgod wat ’n mens se lewe beheers. Dit kan ’n ernstige bedreiging vir ’n mens se verhouding tot God word; ja, dit kan selfs tussen jou en God te staan kom. Niemand kan twee Here dien nie, sê Jesus. ’n Mens kan nie God en Mammon (die geldgod) dien nie. As geld jou god is, kan jy nie nog ’n kind van God ook wees nie.
Die Bybel wys egter ook daarop hoe miserabel dit is om so ’n soort god te hê as geld en goed. Wie daarop vertrou, bou sy hoop op iets wat geen vastigheid bied nie. Jesus vermaan daarom sy dissipels om nie vir hulle skatte op die aarde te versamel waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie.
Aardse besittings is verganklik – is blootgestel aan verweer en vernietiging. Dit kan oornag van jou weggeneem word. Inflasie hol dit uit. Droogtes verteer dit. Die daling van die waarde van die geldeenheid halveer dit. Dit is soos water wat ’n mens met jou kaal hande probeer vashou. Dit is soos seesand wat deur jou vingers glip. As dit al is wat jy het om op te hou, moet jy teleurstelling verwag.
Dit is daarom genade wanneer God ons beveel om nie toe te laat dat dit gebeur nie. Al Gods gebooie is daarop bereken om ons lewe en geluk te bevorder. Dit geld ook sy gebod oor aardse besittings. As die Here Jesus sy dissipels beveel om nie vir hulle skatte op die aarde te versamel nie, is dit nie omdat Hy hulle niks gun nie, maar omdat Hy hulle van die teleurstelling, gevare en ellende wil bewaar wat ’n verkeerde verhouding tot aardse besittings oor die mens kan bring.
Dit is daarom nie altyd ’n ramp as ons moeilike ekonomiese tye belewe nie. Dit kan ons help om te besef dat aardse besittings nie die hoogste waarde in ’n mens se lewe is nie. Dit kan ons leer om nie ons vertroue op ons bankbalans of die opbrengs van die oes te plaas nie, maar op God wat vir ons kan en wil sorg.
Dit kan ons ook bewus maak van die verwoestende gevaar van ’n materialistiese lewenshouding wat alle blywende waardes in ’n mens se persoonlike lewe en in die samelewing vernietig. Dit kan ons ook leer om met groter deernis na die armes rondom ons te kyk. Niemand is so blind vir ander se armoede en dikwels ook so arrogant as iemand wat alles volop het nie.
Daarom kan dit ons goed doen om ’n keer swaar te kry. As ons reg daarop reageer, sal dit ons geestelik verryk. – WDJ