EGTE MEEGEVOEL
Die Burger, 19 Julie 1986, bladsy 10
Egte meegevoel is ’n vrug van die liefde. Daarom is dit spontaan by ons aanwesig as iemand wat baie naby aan ons is, deur een of ander vorm van leed getref word.
’n Ouer kry seer as sy kind seerkry, net soos ’n kind op sy beurt weer meely in die smart van sy ouer. ’n Man en vrou wat mekaar liefhet, deel al hul smart. Rondom die gesin kring die groep mense met wie ons meegevoel het, vanself verder uit om familie en vriende in te sluit, asook diegene by wie ons betrokke is.
Dit is egter duidelik dat hierdie spontane soort medelye dikwels net beperk bly tot ons eie klein kringetjie. Daarin is dit feitlik maar net die verlengstuk van ons liefde vir onsself en vir almal wat aan ons behoort of by wie ons direk belang het. Dit is op sigself goed dat ons hierdie soort spontane simpatie ken, maar dit is natuurlik nie genoeg nie.
Die spontane simpatie met my eie mense en vriende is iets algemeen mensliks. Dit is deur Gods algemene genade nog oral in die wêreld aanwesig. Maar juis daarom is dit ook nog nie spesifiek-Christelik nie en, tensy dit deur die Christelike liefde verdiep en geheilig word, selfs benede-Christelik.
Dit val dan in dieselfde kategorie as die soort wellewendheid waarvan Jesus in die Bergrede praat: dat mense net hul broers groet, of net diegene liefhet wat vir hulle liefhet (Matteus 5:46–47). So maak wêreldse mense ook maar, sê Jesus; dit vertoon nog geen ooreenkoms met hoe God self maak en wat Hy dus van ons as sy kinders ook verwag nie.
Kinders van God moet alle mense liefhê, selfs hul vyande. Die egte kwaliteit van die Christelike liefde bestaan juis daarin dat dit nie halt hou by diegene vir wie ons van nature en spontaan liefhet, omdat ons daarby belang het nie. Net so is ook die egte medelye met ander mense eers Christelik as dit die vrug van die Heilige Gees in ons lewe is en uitgaan tot alle mense wat leed moet verduur.
Aan hierdie soort medelye het ons in ons land ’n groot behoefte. Daar is soveel naamlose lyding en ellende in baie gemeenskappe in ons land. Armoede en honger, vrees en smart stempel die lewe van baie mense. Daar sterwe daagliks mense wat ook iemand se kinders of eggenote of ouers of dierbares is. Dikwels neem ons nie eens kennis daarvan nie, en as ons daarvan in die media iets verneem, trek ons ons daarvan nie soveel aan nie, omdat dit buite ons leefwêreld om gebeur.
Die Christelike liefde eis egter van ons dat ons wel van hierdie dinge kennis moet neem. Ons mag nie onsself gerieflik afgrens van andere se pyn nie. 0ns mag nie dink dat hulle tog maar nie soos ons is nie, en dus ook seker nie soveel pyn as ons ervaar as ’n dierbare doodgemaak word of ander ellende hulle tref nie.
Eers as ons daarin slaag om oor en weer vir mekaar jammer te wees, sal dit moontlik wees om egte vrede in ons land te vind. – WDJ