Tyd van verdieping
Die Burger, 6 September 1986, bladsy 8
Moeilike tye in ons persoonlike lewe en in die lewe van ’n gemeenskap hoef nie net negatief te wees nie. Inteendeel, afhangende van die wyse waarop ons daarop reageer, kan dit selfs vir ons tot groot seën word.
In tye van voorspoed kan ons so maklik oppervlakkig raak. As alles voor die wind gaan, is ons ’n maklike prooi vir ligsinnigheid en oppervlakkigheid, of ons hart raak verpand aan die weelde wat verganklike dinge ons kan bied. Die seëninge wat ons geniet, kan vir ons tot iets vanselfsprekend word. Ons lewe kan so gevul word deur tydelike dinge, dat ons God byna vergeet, of dat ons optree asof Hy ons die voorspoed skuld.
Daarom kan dit geestelik vir ons baie goed wees om ook deur donker tye heen te gaan. Wanneer ons dinge verloor wat altyd vir ons vanselfsprekend was; wanneer geleenthede ons ontval en ons gedwing word om te sien hoe wisselvallig aardse weelde en voorregte is; wanneer ons die skadukant van die lewe ervaar en in die proses leer om ’n bestekopname van ons verhouding tot die lewe te maak – kan dit vir ons ’n tyd van verdieping word.
Miskien begin ons dan met nuwe oë na die lewe kyk en na die sin van ons lewe en die bestaan as sodanig vra. Dalk leer dit ons om die aarde en die dinge wat dit bied, na waarde te takseer. Dit kan ons help om dié dinge wat relatief is, in hul relatiwiteit en verganklikheid te verstaan, en om dié dinge wat blywend is, as die werklike waardes van die lewe te herken.
Moeilike tye kan vir ons tye van loutering en suiwering word. As dit gebeur, word dit juis die tye waarna ons later met groot dankbaarheid terugkyk. Dit is die tye wat in ons lewe ’n wending kan bring en ’n innerlike rykdom wat veel groter is as wat ons sou verwag.
Natuurlik: dit is nie vanselfsprekend dat dit so sal gebeur nie. ’n Mens kan ook, as God jou nie bewaar nie, in sulke tye van swaarkry in bitterheid versink. Soms stort jy heeltemal inmekaar van droefheid en frustrasie. Soms bly jy maar hunker en jaag na die tydelike dinge, asof die verlies daarvan die grootste skade is wat ’n mens kan ly en die besit daarvan die grootste geluk wat ’n mens kan tref.
Daarom is tye van beproewing sulke beslissende tye in ons lewe. Dit kan tye van verdieping wees, maar dit kan ook ’n vernietigende effek op ons hê. Dit is noodsaaklik om in sulke tye te bid dat God ons nie moet prysgee of aan ons self moet oorlaat nie, maar ons moet leer hoe ons met ons beproewing moet omgaan om daardeur verdiep en verryk te word en nie daardeur vernietig te word nie.
Geen beproewing is op die moment wat dit deurleef word, ’n saak van vreugde nie. Maar, se Hebr. 12:11, later lewer dit egter vir die wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: die vrede wat vloei uit die gehoorsaamheid aan God. – WDJ