Benede die maat

BENEDE DIE MAAT
Die Burger, 13 September 1986, bladsy 12

Baie lidmate van die kerk lewe waarskynlik ver benede die maat wat hul omgang met die evangelie betref. Ons lees die Bybel, ja, en ons luister na die verkondiging daarvan. Ons maak die sakramente mee en laat ons dit welgeval dat die grootste en gewigtigste versekeringe van die liefde van God nie net aan ons verkondig word nie, maar met sigbare tekens aan ons beseël word. Ons sing die liedere van die kerk mee waarin die heil en die genade van God geprys word.

Maar glo ons dit alles ook werklik en word ons lewe daardeur gestempel? Dit is die groot vraag wat telkens weer by ’n mens opkom as jy na die neerslag van die evangelie in jou eie lewe kyk. Is dit nie waar dat die vrugte van die heil waarvan ons in die Bybel lees en in die liedere van die kerk sing, in ons lewe so skraal is, dat ’n mens jouself soms verwonderd moet afvra of jy ’n kind van God kan wees nie? Ons ervaring van die heil beantwoord nie aan ons groot woorde nie. Ons lewe bevestig nie ons lied nie.

Dit is net of die Bybel – ondanks ons goedbedoelde betuigings van ons aanvaarding van die gesag en die boodskap daarvan – tog maar nie met sy boodskap werklik in ons lewe oorkom nie. Wat in die lewe van die meeste van ons wel sigbaar is, is ’n algemene gevoel vir religieusiteit en moraliteit.

Dit kom daarop neer dat ons tot God bid om ons tog te help en te bewaar om ons te seën en te beskerm – waarskynlik ook nog om ons daaglikse sondes te vergewe. Verder hou dit in dat ons probeer om volgens die algemene norme van fatsoenlikheid en ordentlikheid te lewe soos dit binne ons sosiale groep aanvaarbaar is. Maar veel verder as dit kom dit nie.

Tog is dit darem baie ver benede die maat van hoe ’n kind van God behoort te wees en te lewe. Algemene religieusiteit en moraliteit is nie iets spesifiek Christeliks nie. Daarvoor hoef ’n mens nie die evangelie te ken nie. Dit is selfs waar dat mense wat Christus en die Bybel nie ken nie, ons dikwels diep kan beskaam deur die erns van hul religieuse ywer en morele integriteit. As ons niks anders as dit het nie, ja, as ons miskien nie eers moreel so hoogstaande as hulle is nie, moet daar bepaald iets met ons Christenskap skort.

Die boodskap van die evangelie is die boodskap van Gods liefde en genade wat Hy aan ons in Christus skenk en deur die Gees in ons lewe bevestig. Dit stel ons in ’n persoonlike verhouding tot God en bevry ons tot ’n nuwe bestaanswyse in die geloof, sodat ons kan loskom van onsself en ons hele lewe in diens van die koninkryk van God kan stel. Dit is ’n totaal nuwe lewensoriëntasie. Dit is ’n lewe in en vanuit die heil met ’n nuwe gerigtheid en vreugde.

Wat die wêreld vandag nodig het, is nie meer religieusiteit en moraliteit nie, maar meer mense wie se lewe radikaal bevry en verander is deur die evangelie. Daarsonder bly ons in elk geval benede die maat – WDJ