Voortgaande hervorming

VOORTGAANDE HERVORMING
Die Burger, 25 Oktober 1986, bladsy 9

Dit is gebruiklik om op die laaste Sondag van Oktober, wanneer die Protestantse kerke die Kerkhervorming van die sestiende eeu herdenk, stil te staan by die groot beginsels wat die Reformasie beheers het, soos dat die verlossing slegs uit genade is, dat ’n mens slegs deur die geloof gered word, dat die verlossing slegs in Christus te vinde is, dat die kerk sy leer en lewe slegs op die Bybel moet fundeer ensovoorts.

Dit kan egter nie met ’n sekere selfvergenoegdheid geskied, asof Protestantse kerke nou eenmaal die waarheid besit en niks meer het wat by hulleself reggestel moet word nie. Presies die teendeel is waar. Die Hervorming het homself nie verstaan as ’n eenmalige gebeurtenis wat afgehandel is nie, maar as ’n beweging wat op gang gekom het, as ’n ideaal wat nagejaag word en as ’n program wat voortdurend aandag vra.

Vandaar die bekende spreuk: “Ecclesia reformata semper reformanda”. Dit beteken: ’n gereformeerde kerk moet altyd gereformeer word. Anders uitgedruk: ’n kerk wat uit reformasie voortkom, het nooit gearriveer nie, maar moet homself voortdurend bly hervorm in die lig van die Skrif.

Die suigkrag van ons sondige geaardheid is so groot, die neiging tot laksheid en traagheid is so sterk, die moontlikheid van dwaling in ons omgang met die Skrif is so wesenlik, dat geen kerk ooit gerus mag wees oor homself en homself mag verhef oor andere nie. Wie meen dat hy staan, sê die apostel Paulus, moet oppas dat hy nie val nie.

Die Protestantse kerke is op die ry af voorbeelde hiervan. Daar is baie opsigte waarin hulle teruggeval het in sommige van die dwalinge waarteen die Reformasie gestry het, en andere waarin hulle die Woord van God opnuut misverstaan het. Daarom bly selfkritiek en hervorming noodsaaklik.

Dit is verkeerd van lidmate om te meen dat die kerk nie op sy eie uitsprake en standpunte van die verlede terug behoort te gaan nie. Die kerk behoort dit, waar nodig, in alle eerlikheid te doen. Die kerk is mos nie onfeilbaar nie. Ons het mos nooit die Bybel klaar gelees nie. Ons moet mos bereid wees om weer te luister en beter te verstaan.

Die vraag is nie óf die kerk in voortgaande hervorming ander standpunte moet inneem nie; die vraag is of die nuwe standpunte beter aan die Skrif beantwoord.

Op Hervormingsondag behoort alle Christene daarvoor te bid dat die kerke steeds sal toeneem in die onderskeiding van waarop dit werklik in die Skrif aankom, en dat hulle die moed sal hê om reg te stel wat verkeerd is. Hopelik sal hulle God ook daarvoor dank dat daar tekens is van ’n nuwe bereidheid om beter na die Bybel te luister. – WDJ