DIE HOË BELANG VAN MEDIESE ETIEK
(Rede gehou by bekroningsplegtigheid van die Mediese Skool, Bellville, 1986)
- As ons by hierdie geleentheid van die hoë belang van die mediese etiek praat, geskied dit uiteraard teen die agtergrond van die oortuiging aangaande die hoë belang van etiek as sodanig. Onder etiek verstaan ons die wetenskap aangaande die sedelike as tipies menslike verskynsel, wat daarin bestaan dat die mens leef by ’n oer-besef dat daar norme bestaan vir wat goed en kwaad is, dat daar dinge is wat behoort te geskied en andere wat nie mag geskied nie, en dat ’n mens skuldig is as jy die norme vir goed en kwaad verontagsaam. Hierdie norme geld veral die mens in sy verhoudings waarin hy lewe: sy verhouding tot sy medemens, tot die nie-menslike wêreld rondom hom, tot homself en ook tot God (al is dit moontlik om die verhouding tot God eerder ’n religieuse as ’n sedelike verhouding te noem).Die etiek as wetenskap is so belangrik, omdat die sedelike vir die mens so belangrik is. Dit is deel van die menslikheid van die mens dat hy ’n sedelike wese is. Waar die sedelike norme bedreig, verkrag of verwaarloos word, is die menslikheid van die mens self op die spel. Dan word hy bedreig deur die chaotiese. Daarom is dit dat daar universeel in die wêreld van die mense soveel patos wakker gemaak word rondom die vrae wat betrekking het op wat sedelik reg en verkeerd is. Daaroor gaan die meeste stryd tussen die mense.
Dit geld met name ook in ons tyd waarin ons soveel verskuiwinge in die gangbare moraal belewe, sodat daar van permissiwiteit en selfs ’n revolusie op die terrein van die moraal sprake is. Die moraal is die stelsel van gangbare opvattinge wat in ’n bepaalde tyd aan die sedelike besef uitdrukking probeer gee. Dit val nie noodwendig saam met die sedelike as sodanig nie. Diegene wat hulle dus beywer vir die verandering in die moraal, doen dit met ’n beroep op die sedelike as sodanig. Hulle propageer hulle nuwe visie op die moraal deur te betoog dat só juis die egte bedoeling van die sedelike tot sy reg kan kom. Maar daardeur bevestig hulle opnuut dat die sedelike ook vir hulle, soos vir alle mense, van die grootste belang is.
Mense verskil eintlik nie met mekaar oor die vraag of die sedelike van belang is nie. Hulle verskiIle gaan oor die vraag wat sedelik goed is en langs watter weg die sedelik-goeie die beste bereik kan word. Juis daarmee hou die etiek as wetenskap homself besig. En daarom kan met reg gepraat word van die hoë belang van die etiek as sodanig.
- As ons nou in die besonder aandag vra vir die hoë belang van die mediese etiek, dan doen ons dit omdat die mediese etiek in die jongste tyd op ’n besondere wyse onder druk gekom het en voor vrae gestel is wat in die verlede nie so gestel is nie. Onder mediese etiek verstaan ons dié afdeling van die etiek as wetenskap wat homself in die besonder besig hou met die vrae na wat sedelik goed en kwaad is in die beoefening van die mediese beroep.Daarmee word natuurlik nie gesuggereer dat die medikus ’n ander soort sedelikheid daarop nahou of behoort na te hou as alle ander nie. Die sedelike is iets universeel. Wat goed en kwaad is, is ten alle tye goed en kwaad. Dieselfde norme geld vir alle mense en onder alle omstandighede. Dit is egter duidelik dat die medikus in die beoefening van sy beroep in situasies gestel word waar in daar van hom etiese beslissings gevra word wat soms besonder moeilik kan wees. Hy staan ook in ’n posisie waarin hy op ’n baie beslissende manier by die wel en die weë van mense betrokke is en waarin die lewe en die dood van mense dikwels in sy hande is. ’n Verantwoordeliker posisie in die samelewing met betrekking tot die fisiese, psigiese en dikwels ook geestelike welsyn van die mense is moeilik denkbaar. Hy staan in ’n vertrouensituasie en hy het dikwels die mag om beslissings oor mense te neem wat hulle eksistensie tot in die diepte raak. Daarom is dit noodsaaklik dat die geneesheer gehelp word om te onderskei waarop dit in sy beslissings aankom. Hy moet gehelp word om te sien watter norme by sy beslissings betrokke is en hoe hulle daarin behoort te funksioneer.
Die mediese etiek probeer die mediese professie dien deur informasie en die bevordering van sedelike insig en sensitiwiteit, maar ook deur die stimulering van ’n bepaalde meningsvorming wat dit vir die individuele geneesheer makliker kan maak om saam met andere binne sy beroep tot eenstemmigheid te kom oor wat mag en wat nie mag nie, sodat die ondraaglike las van ’n individuele beslissing in delikate gevalle verlig kan word deur kennis van algemeen aanvaarde insigte oor wat in sulke gevalle die swaarste behoort te weeg.
Die mediese etiek het dan ook besonder ou papiere, soos bv die bestaan van die eed van Hippokrates uit die 5de eeu voor Christus reeds getuig. Veral sedert die Tweede Wêreldoorlog het die medici gevoel dat die sedelike karakter van hulle beroepsuitoefening bedreig is deur die gebeurtenisse in Nazi-Duitsland waarby ook artse betrokke was. So ontstaan die sg “Declaration of Geneva” van die World Medical Association in 1948, die “International Code of Medical Ethics” in 1949 en die “Declaration of Helsinki” van 1964. In al hierdie kodes word daar algemene riglyne gegee vir wat die arts behoort te doen of nie te doen nie, klaarblyklik omdat die hoë belang van die sedelike faktor in sy beroep daartoe gedring het dat daaraan op ’n besondere wyse aandag gegee moes word.
Sedertdien het die besef van dringendheid van hierdie saak eerder toegeneem as afgeneem. Die geweldige vooruitgang van die mediese kennis en mag, die verfyning van mediese tegnieke en die ontdekking van allerlei moontlikhede wat vroeër ongedag was, het ’n situasie laat ontstaan waarin die mediese wetenskap eenvoudig gedwing word om aan homself rekenskap te gee van sy eie grondslae en van sy verhouding tot die sedelike. Die ontploffing van die hoeveelheid literatuur op hierdie gebied oor die afgelope aantal jare, is voldoende bewys daarvan dat ons hier met ’n sensitiewe area te make het wat nie geïgnoreer kan word nie.
- Dit kan heeltemal nie my doel wees om by hierdie geleentheid enigsins op besonderhede in verband met die mediese etiek in te gaan nie. Alles wat ek sê, het slegs betrekking op die hoë belang daarvan. Tog moet ek, om hierdie hoë belang nog duideliker te kan beklemtoon, enkele onderskeidinge aanbring. Dit lyk my belangrik om veral drie aspekte van die mediese etiek te onderskei.Die eerste wat ek sou wil noem, is dat mediese etiek ’n beroepsgerigte kant het. Daaronder val alles wat te make het met wat ’n mens miskien ook ’n “mediese etiket” sou noem, omdat dit hoofsaaklik betrekking het op die fatsoenlike gedrag en optrede van die arts binne die konteks van sy professie.
Sedert die tyd van Hippokrates is dit gebruiklik om van die arts te vra dat hy eerbied moet hê vir sy leermeesters en ampsbroeders, dat hy altyd waardig moet optree, dat hy sy mediese beroepsgeheim moet bewaar, dat hy ten alle tye bereid moet wees om mense te help, ens. Daarby hoort ook nog bepaalde voorskrifte oor dinge soos dat die arts homself nie mag adverteer nie, dat hy nie sy kollegas se pasiënte moet afrokkel nie, dat hy geen verklaring mag aflê oor siektetoestande wat hy nie self ondersoek het nie, dat hy hom van winsbejag sal weerhou, ens. Al hierdie dinge is uiteraard van die allergrootste belang en lê ook wel op die terrein van die sedelike, maar dit vorm tog in ’n sin nog net die buitekant van wat ons onder mediese etiek verstaan.
- As ons dieper wil indring in die eintlike saak waarom dit in die mediese etiek gaan, moet ons aandag gee aan die tweede aspek daarvan, wat ek die pasiënt-gerigte kant daarvan sou wil noem.Ook daaraan is in die Hippokratiese eed aandag gegee, deur dat die arts moet sweer dat hy eerbied sal hê vir die lewe, dat hy die persoonlikheid van sy pasiënt sal eerbiedig ens. In die latere kodes gaan dit ook spesifiek daarom dat die arts verbind word om die menslike lewe en die menslike waardigheid te alle tye te respekteer en te bewaar. In hierdie verband is dit opvallend dat in die “Declaration of Geneva” die sin opgeneem is dat die dokter nie sal toelaat dat godsdienstige, nasionale, rasiale, party- of standsoorwegings enige rol sal speel in sy behandeling van sy pasiënt nie. Daarnaas verklaar die dokter ook dat hy menslike lewe sal eerbiedig vanaf die moment van bevrugting, en dat hy selfs nie onder bedreiging sy mediese kennis sal aanwend op ’n wyse wat in stryd is met die wette van menslikheid nie.
’n Mens kan dit alles saamvat deur te sê: dit gaan om die mens. Die hoë belang van die mediese etiek het alles te make met die hoë belang van die mens. Die geneesheer se hele taak is gerig op diens aan die medemens.
Dit, en niks: anders nie, moet die rede wees waarom hy ’n medikus is. Onder God is die mens die hoogste waarde vir die mens. Daarom is liefde tot die medemens, diens en hulp aan die medemens ook vir die etiek van die opperste belang. Wanneer die dokter plegtig belowe dat hy al tyd uit eerbied vir die lewe sal handel, dan word daarmee natuurlik menslike lewe bedoel. Die lewe wat hy wil behou, spaar en verleng, is menslike lewe. Sy stryd teen pyn is die stryd teen menslike pyn. Alles draai vir die dokter om die mens.
Daarom moet hy al sy arbeid verrig uit diepe eerbied vir die mens. Dit beteken dat hy die mens nie maar net as ’n fisiese fenomeen kan benader en behandel nie. Hy moet die mens sien en behandel as in persoon by wie die eenheid van liggaam, siel en gees onverdeelbaar is. Die mens wat hom in sy spreekkamer besoek, is in eenheid. Die diens wat hy aan hom moet lewer, het gevolglik ook in totale karakter. En dit kan hy alleen aan sy pasiënt lewer, as hy in die regte sedelike verhouding tot hom staan.
- Dit is vir die dokter baie belangrik om dit te weet, want hy is miskien in ons moderne wêreld die één persoon aan wie die pasiënt homself in groot verwagting toevertrou.Die dokter is vir die meeste pasiënte veel meer as in deskundige op die terrein van die kliniese geneeskunde. Hy is vir hulle ook ’n mens teenoor wie hulle bereid is om hul le diepste vrese uit te spreek, met wie hulle hulle node wil deel. Hulle soek by hom versekering, hoop, troos en raad, dikwels oor baie meer dinge as net hulle spesifieke fisieke kwaal. Baie van die funksies wat vroeër deur predikante vervul is, het in die moderne tyd op die dokter oorgegaan.
Veral die huisdokter is veel meer as net in geneesheer. Hy is, as dit goed gaan, ’n vertrouensman, ’n toevlug, ’n vriend, ’n raadgewer. Die pasiënt soek in hom ’n mens, ’n mens om op te leun en te steun. Dit ook van die spesialis met sy meerdere kennis. Die pasiënt kom nie na hom net om sy wetenskaplike kennis te koop nie, maar om ’n ander mens teen te kom wat sy lot vir hom aantrek en aan hom persoonlik aandag en tyd gee.
Veral die pasiënt in die hospitaal, en dan in die besonder die pasiënt met die ongeneeslike kwaal, verwag dikwels die onmoontlike van die geneesheer. Daarom is daar byna geen persoon in ons samelewing vir wie die vraag hoe hy met ander mense moet omgaan, van soveel belang is as vir die geneesheer nie. Hy kom in talle situasies waarin hy voor sedelike beslissings gestel is.
Een daarvan is bv die vraag na waarheid en leuen in die verhouding tot die pasiënt, en veral die pasiënt op die sterfbed. Dit is ’n uiters delikate en ingewikkelde vraag waarvoor daar nie een algemeen-geldende antwoord nie. Die geneesheer behoort kennis te hê van die sedelike kwessies wat hier in die gedrang kom. Dit is maar een voorbeeld uit baie.
Telkens gaan dit weer oor die vraag wat dit beteken om die menslike waardigheid en persoon-wees van die siek medemens te respekteer. Dokters kan soms op ’n wyse teenoor pasiënte optree wat hulle waardigheid as mense misken, hulle krenk en minderwaardig laat voel. Hulle kan ook soms uit onbeholpenheid op ’n manier teenoor pasiënte optree wat die beswil van die pasiënt skaad. Dit is een van die doelstellings van die mediese etiek om die arts te help vorm tot ’n hoogs verantwoordelike en eerlike mens wat vertrou kan word met die welsyn en die leed, die vreugde en die smart, die geheim en die skyn, die lewe en die dood van soveel mense wat aan sy mediese sorg toevertrou word.
- Dit is nodig dat hierdie punt nog na twee kante uitgediep word. Die eerste wat beklemtoon moet word, is dat die geneesheer self ’n belangrike rol speel in die vorming van opinies oor wat sedelik goed en sleg is. Sy vertrouensposisie gee hom in hierdie opsig selfs ’n baie groot invloed in die samelewing. Hy speel nie net ’n belangrike rol in die bewaring van die liggaamlike welsyn van mense nie; hy werk ook mee aan die vorming van sedes of die afbraak daarvan. Die raad wat hy aan sy pasiënte gee, die rigting waarin hy hulle lei by beslissings wat ook die sedelike raak, is van groot belang. ’n Mens dink hier vanself aan sy advies oor sake soos die gebruik van voorbehoedmiddels, aborsie, kunsmatige inseminasie en dergelike meer.Dit is ’n vraag of die dokter wat geroep word om oor sulke delikate sake advies te gee, altyd genoegsaam onderleg is in die etiek. Dit is nie ondenkbaar dat ’n mens soms ’n medikus kan teenkom wat geweldig intelligent en geleerd is en van wie se vak min mense hom enigiets sal kan vertel, wat tog ten opsigte van die werklike sedelike vrae waaroor dit in die lewe van sy pasiënte gaan, weinig begrip het nie. Dit kan wees dat hy met ’n mensbeskouing werk wat heeltemal positivisties en materialisties is, dat hy ’n oog mis vir die diepe agtergronde waarteen sy pasiënte se lewens hulleself afspeel, en dat hy hulle in ’n rigting lei wat uiteindelik vir hulle psigies en geestelik en selfs liggaamlik skadelik kan wees, omdat dit sedelik verkeerd was. Dit kan wees dat ’n dokter kan meewerk aan die afbraak van sedes en gevoelighede in die samelewing, sonder dat hy besef dat die menslike lewe alleen werklik gesond kan bly in die warmte van ’n sedelike klimaat waarin daar nog duidelik onderskei word tussen reg en verkeerd.
- Die tweede rigting waarin die opmerking oor die dokter se vertrouensposisie uitgediep moet word, het te make die ongekende moontlikhede wat in ons tyd vir die mediese wetenskap oopgegaan het.Eeue lank was die mediese mag van die geneesheer maar baie gering, soos J van den Berg in sy boekie oor “Medische macht en medische ethiek” tereg aangetoon het. In ons tyd het daar egter in hierdie opsig ’n ontploffing van kennis en tegniek gekom. Die hedendaagse geneeskunde beskik inderdaad oor groot mag. Dit kan ontsettend veel doen. Dit kan selfs soveel doen, dat baie van die vanselfsprekendhede van die verlede agterhaal geraak het.
Vrae waarop ons vroeër gedink het dat ons die antwoord ken, word skielik uiters omstrede. ’n Mens dink hier aan iets soos die vraag wat die definisie van dood is, en wanneer daarvan uitgegaan kan word dat iemand dood is. Daarmee hang ’n hele aantal ander probleme saam, soos bv kan blyk uit die polemiek rondom die oorplanting van organe of rondom eutanasie. In die strydgesprek rondom hierdie dinge gaan dit om sedelike kwessies. Die mediese wetenskap kan nie op sigself bedryf word nie, eenvoudig omdat dit daarin om die mens gaan, en wie mens sê, sê sedelikheid en etiek.
Daarom is dit ’n vraag of die medikus ook alles mag doen wat hy kan doen. Lank nie alles waartoe ons tegnies in staat mag wees, is ook sedelik goed nie. Dit is selfs ’n vraag of bepaalde tipes eksperimente sedelik aanvaarbaar is. In hierdie verband kan ’n mens dink aan die vrae rondom eksperimente met menslike saad en die praktyke rondom die verwekking van proefbuisbabas. Ons hoef hier nie alles te noem wat dikwels in die literatuurgenre wat ons “science fiction” noem, aan ons opgedis word oor die mediese moontlikhede van die toekoms, soos bv oor die moontlikheid van “cloning” en eugenese, met al die afskrikwekkende daarvan nie. Wat reeds in ons dag gedoen word, is genoeg om ons daarvan te oortuig dat daar geweldige sedelike vrae op die spel is in die eksperimente van mediese en ander navorsers, en dat dit onverantwoordelik sou wees om nie aan ons mediese studente ’n bepaalde vorming in die beginsels van die mediese etiek mee te gee, wat sterk genoeg sal wees om hulle in die toekoms koers en rigting te gee nie.
- Ek sluit my opmerkings oor die hoë belang van die mediese etiek af deur nog u aandag te vra vir die derde aspek van die mediese etiek waarna ek verwys het. Ek het reeds ingegaan op die eerste (nl die beroepsgerigte), sowel as die tweede (nl die pasiënt-gerigte) aspek van die mediese etiek.Die derde wil ek graag die metafisiese aspek van die mediese etiek noem. Daaronder verstaan ek, ondanks die verkeerde voorstellings wat ’n mens jou by die aanhoor van die woord “metafisies” voor die gees kan roep, eenvoudig die gerigtheid op die laaste en diepste vrae wat ons menslike lewe raak.
Hoe belangrik die mens ook al in die sedelike is, hy is in laaste instansie tog nie die grond van die sedelike nie. Hyself staan onder die norm wat met sy bestaan aan hom meegegee is, nl sy genormeerdheid deur sy verhouding tot God. Wat goed en kwaad is, weet ons uiteindelik uit die wet van God. Van dié wet van God het elke mens wel ’n bepaalde kennis – en dit vind neerslag in sy sedelike besef – sy gewete en sy insig in wat goed en kwaad is. Dit is egter baie relatief, dikwels versteurd en verdring. Daarom het ons kennis nodig van die wet van God soos dit in die openbaring van God tot ons kom. As Christene glo ons dat ons die wil en wet van God reg leer ken in sy openbaring in Christus en in die Skrifte wat van Hom getuig. Daar leer ons dat die mens se hoogste waardigheid daarin geleë is dat hy na die beeld van God geskape is, dat hy deel het aan dieselfde mensheid wat Christus gehad het, en dat sy bestemming anderkant die horison van ons aardse bestaan gesoek met word.
Ons kan ons sedelike beslissings oor die mens nie losmaak van ons geloofsoortuigings aangaande die oorsprong, wese en bestemming van die mens nie. Begryp my goed: ek sê nie dat die medikus daarom teologie ook moet studeer nie. Ek wil alleen maar sê dat geen etiek los gedink kan word van die geloofsoortuigings van die etikus nie, en dat dit vir die medikus wat ook ’n Christen is, van groot belang is om ’n soort mediese etiek te bedryf wat nie in konflik verkeer met die belydenis wat hy Sondag na Sondag in die kerk uitspreek en hopelik daagliks met sy lewe bevestig nie.
As ek dus pleit daarvoor dat ons die hoë belang van die mediese etiek sal besef, dan wil ek ook daarvoor pleit dat die mediese etiek in ooreenstemming sal wees met die lewens- en wêreldbeskouing van die kinders uit ons huise wat dokters, spesialiste en navorsers word, sodat hulle daardeur eerder in hulle geloof bevestig sal word, as dat hulle daarvan vervreem sal word. Ek twyfel nie daaraan dat dit ook die gevoel van die Fakulteit Geneeskunde van ons Universiteit sal wees nie.
Ek dank u!